Hoe om jou Kersgeskenke mooi te laat lyk, Furoshiki-styl


Wees anders en verfraai jou Kersgeskenke vanjaar in Furoshiki-styl. Melissa Schutte wys en vertel jou hoe!


Kersfees is om die draai. Die kersboom se liggies brand helder en die opwinding begin bou. Die leemte onder die boom begin groter raak soos die tyd aanstap, dis amper tyd vir geskenke koop. 

Geskenke loop hand in hand met mooi toedraai-papier, die geskenkie moet immers mooi vertoon onder die boom. Geskenkpapier kom in baie verskillende kleure, prentjies, teksture en word vir baie doeleindes benut, maar die einde is egter altyd dieselfde – opgefrommel en vergete in die skaduwee van ’n nuwe speelding of ander interessante geskenk.

Die laaste rondte vullissakke vol papier was genoeg om my te laat besef: toedraaipapier beteken meer vir die geskenkgewer as die -ontvanger. Die gedagte het my laat soek na ’n alternatief. ’n Medium wat meer as een keer benut kan word en wat ook nie peperduur is nie.

Die oplossing het gekom in die tradisionele Japannese metode van Furoshiki. Nou wat is Furoshiki en wat het dit met Kersgeskenke te doen?

Furoshiki is ’n tradisionele vierkantige Japannese toedraailap wat gebruik word vir die toedraai en versiering van waardevolle items en ook geskenke. Die woord Furoshiki verwys ook na die kuns en tegniek. Wat dié medium uniek maak is die gebruik van lap en materiaal in plaas van papier, die lap kan weer gebruik word en kan selfs ’n deel vorm van die geskenk.

Wat ’n beter manier is daar om Kersfees te vier as met ’n mooi handtoegedraaide geskenk? Wanneer die verpakking aan die buitekant net so spesiaal is soos die geskenk aan die binnekant, is dit maklik om te sien hoekom ek vanjaar die geskenkpapier oorslaan en ’n eko-vriendelike opsie kies.

Hoe om jou geskenke Furoshiki-styl toe te draai:

Wenke voor jy begin:

1.       Sny jou materiaal om by die geskenkgrootte te pas. Nie seker watter grootte om te gebruik nie? Eksperimenteer met ’n bandana, servet of selfs ’n serp om jou te help besluit hoeveel dekking jy nodig het.

2.       Jou materiaalkeuse maak saak, maar nie soveel nie. Die belangrikste is om te onthou dat hoe dikker die lap is, hoe moeiliker dit gaan wees om te vou en knoop.

3.       Die gewig van jou materiaal beïnvloed hoe netjies jou knope en voue sal lyk. Furoshiki-materiaal kan enige materiaal wees.

4.       Moenie bang wees vir lapverf, jou materiaalskêr en ’n ou wit laken nie.

5.       Elegant, liggewig en deursigtig – sjiffon is perfek vir sagter geskenke soos kussings en sagte speelgoed.

6.       Geskenk het nie ’n boks nie? Moenie daaroor bekommer nie! Daar is soveel opsies om persoonlikheid by jou geskenk te voeg dat niemand sal agterkom dit kom nie in ’n boks nie.

7.       Inkorporeer jou materiaal met die geskenk. Draai die geskenk vir ’n nuwe baba toe in ’n spoegdoek of nuwe sagte babakombersie. Ouma se oorbelle kan toegedraai word in ’n mooi nuwe sneesdoekie. Gebruik jou geskenk as inspirasie!

Een, twee, Ostukai Tsutsumi!

Furoshiki-materiaal kan waarlik enige materiaal wees en jy kan baie bereik met net toedraai en vasmaak. As jy ’n vierkantige boks of boek toedraai, kan jy die Otsukai Tsutsumi-vorm van Furoshiki gebruik. Dit is standaard voue en maklike knope, perfek om te gebruik vir die meeste vierkantige en effens reghoekige items. Die Otsukai is een van baie vorms van vou in die Furoshiki-metode. Daar is tegnieke vir handsakke, tasse en selfs ’n tegniek vir ’n wynbottel.

Die maklikste is die Otsukai-voutegniek en word so gedoen:

As jy opsoek is na verskillende style van Furoshiki wat perfek sal werk vir jou geskenke, kyk gerus na die volgende video’s deur Spoonflower wat geplaas is op YouTube. Haar videos oor Furoshiki is prakties en maklik om te volg, met bietjie oefening sal jy die verskillende vorms vinnig baas raak en definitief jou Kersgeskenke laat uitstaan onder die boom!

Bron: How to: Furoshiki - The Japanese Art of Fabric Wrapping | Spoonflower - https://youtu.be/rBnJOJbRafU

Foto’s: Verskaf








Comments