5 minute met JP Fourie

 


Hartklop van die liefde, JP Fourie, se nuutste liefdesverhaal is tydens ’n prettige Erfenisdagviering by The Braai Wagon in Drie-Riviere bekendgestel. Ons het die geleentheid bygewoon en die kans gekry om die man agter die pen beter te leer ken.


VERTEL ONS MEER VAN JOUSELF?

“My naam is JP Fourie, Juan-Pierre, gebore op 10 Maart 1978 in Pietermaritzburg. Ek is sedert 1993 in Gauteng waar ek in 1995 matrikuleer het aan Hoërskool Vereeniging. Sedertdien het ek myself gekwalifiseer as ’n sjef. Van daar af is ek oor na die NDT-wêreld en werk nou as die logistieke bestuurder by Applus Steeltest. Ek is sedert 2010 ’n enkelouer, met 2 dogters, en daar het die gedigte seker begin, dink ek... LOL. Ek hou van musiek, skryf en natuurlik kosmaak.”

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER JOU NUUTSTE BOEK?

“In 2022 is ek gediagnoseer met ’n breingewas, wat later toe kanker geword het. Die storie gaan oor ’n jong karakter wat deur dieselfde proses gaan as waardeur ek gegaan het. Gelukkig, nou in Augustus 2025, ná die hoeveelste ondersoek en toetse het die resultate gewys dat ek in remissie is, die kankergewas is besig om te krimp.”

HOEVEEL BOEKE HET JY AL GEPUBLISEER?

“Hierdie is nou my vierde boek. My eerste digbundel is ’n Siel van ’n Man, dan was daar my speurverhaal, ’n Pêrel vir Nettie, en ook my tweede digbundel: Gevoelsmens.”

WAT IS DIE HOOF BOODSKAP WAT JY MET JOU SKRYFWERK WIL OORDRA?

“Maak nie saak hoe jou lewe verloop nie. Bly positief, byt vas en met harde werk is daar altyd resultate. Of dit nou fisies of emosioneel is, is daar altyd ’n silwer randjie om die donker wolk.”

WAAR KAN MENSE JOU BOEK(E) KOOP?

“My nuwe boek is beskikbaar by Turksvy Publikasies of kan direk by my bestel word by gigsterfourie@gmail.com.

Hier is ’n paar foto’s van die bekendstelling wat op Erfenisdag plaasgevind het:

 


 As jy op soek is na die perfekte plek in die Vaaldriehoek vir jou volgende funksie of partytjie, kontak gerus vir Linel by The Braai Wagon vir ’n kwotasie by thebraaiwagon@gmail.com.


Comments