Fondsinsameling vir seniorhonde was ’n reusesukses!

 


Op Sondag, 8 Maart 2026, het iets besonders by The Braai Wagon in Drie-Riviere gebeur. Wat begin het as ʼn eenvoudige fondsinsameling vir Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary, het ontaard in ʼn dag vol pret, lag, musiek en onbeskryflike omgee vir honde wat net nog ʼn bietjie liefde in hul laaste jare nodig het.

Die Disney Dress-Up Fundraiser was ʼn groot sukses, met mense van alle ouderdomme wat opgedaag het – party in fantastiese kostuums, ander bloot met oop harte en ʼn begeerte om ʼn verskil te maak.

Van vroeg af het die terrein begin lewe kry: kinders wat rondhardloop, honde met sterte wat opgewonde waai, en stalletjies wat alles verkoop het van speelgoed en oulike kouse tot varsgebakte brood, beskuit en ander lekkernye.

Daar was ook verskeie aktiwiteite om almal besig te hou, waaronder boogskiet deur Single Arrow Archery, pool en nog vele meer. Intussen het die musikant en liedjieskrywer Victor Bravo as seremoniemeester gesorg dat die dag glad verloop, terwyl sy musiek ʼn vrolike atmosfeer geskep het waarin almal tuis gevoel het.


Amarissa Wingrove was ook daar op die dag en is hoofsaaklik verantwoordelik vir al die mooi foto’s van die dag se gebeure

Val Sham Photography het ook gesorg vir prettige, professionele foto’s by haar fotohoekie.

Een van die hoogtepunte van die dag was ongetwyfeld die Disney Dress-Up kompetisies, waar deelnemers hul verbeelding vrye teuels gegee het. Die beoordelaars – Mrs. Supranational South Africa-finalis Gina Vorster, musikant en akteur Jean van der Westhuizen, en Hermes Haven se stigter, Herme Riley – het geen maklike taak gehad om die wenners te kies nie.

In die honde-afdeling het die oulike shitzu, Gizmo, as wenner uit die stryd getree. Hermes Haven se eie chihuahua, Lacey, het almal se harte gesteel en is as mej. Persoonlikheid aangewys, terwyl die yorkie, Pebbles, die tweede plek ingeneem het en Tinkerbell, die miniatuur-worshond, derde geëindig het.

Die kinderafdeling was hope pret en die kinders het hulleself gate uit geniet op die rooitapyt. Lynnic Fourie, aangetrek as Sneeuwitjie het die eerste plek ingepalm, gevolg deur Blake Verwey as die ondier uit Skoonlief en die Ondier in tweede plek, en Miané Fourie, as Rooikappie, in derde plek.

Die grootste vermaak van die dag het egter tydens die volwasse-afdeling gekom, waar die Drie Stiefsusters – Linel Visser, Mirinda Grace en Annelien van Basten – die gehoor laat skater het met hul komiese vertoning op die rooitapyt. Hulle is as die uiteindelike wenners aangewys vir hulle goeie gees op die dag.

Die wenners van die verskillende afdelings is bederf met wonderlike pryse wat moontlik gemaak is deur ʼn groep ongelooflike borge, waaronder Salon Venice, Visionary Prints, Dayu, Miss Bow, Maverick Spur, Shelly Shop en Minim Pharmacy in die kinderafdeling, en God’s Little Creations, Cool Dog’s Ice Cream, High World Pet Food, Doggie Delights en General Feeds in die hondeafdeling. Die volwasse-afdeling se wenners het onder meer Maverick Spur-geskenkbewyse, ʼn geskenkbewys van The Spa @Rose Girlz, ʼn geskenkbewys van SD Beauty Studio en Kimii se Nutty Wheat beskuit gewen.

Daar was ook groot opgewondenheid tydens die Puppy Bingo vir volwassenes, waar talle fantastiese pryse uitgedeel is – van Spur-geskenkbewyse en geskenkbewyse vir werkswinkels by Moms and Tots tot cappuccino-bewyse van BP Three Rivers, haargeskenkbewyse van Jaen Moolman Hair & Beauty en Salon Venice, produkte van Essentially Young, skoonmaaktoerusting van Zing-Fresh, ʼn elektrolietaanvulling van DaybyDay, konfyt van Made with Nonna Love, ʼn naelbewys van Naeldekokokertjie, blomgeskenkbewyse van Bethany Blooms, ʼn skoonheidsgeskenbewys van SD Beauty, Kimii-beskuit en selfs bottels wyn en brandewyn geskenk deur Chris Nolte.

Die Valhalla Central-motorfietsklub het ook die dag bygewoon en ʼn groot kosskenking gemaak – ʼn gebaar wat diep waardeer is deur almal by Hermes Haven. Hennie Veldman het ook gehelp om te sorg dat Hermes se honde nie gou gaan honger slaap nie.

Nog ʼn besondere hoogtepunt was die pragtige koek wat deur The Bake Hut gemaak is. Lootjies is daarvoor verkoop om fondse vir veeartskostes in te samel – ʼn noodsaaklike uitgawe vir ʼn toevlug soos Hermes Haven – en die gelukkige wenner van die koek was Lerine de Kock.

Talle mense het ook kosskenkings en finansiële bydraes gemaak, iets wat ʼn enorme verskil maak vir ʼn organisasie wat elke maand groot uitgawes het om meer as 58 honde te versorg.

Maar agter al die vrolikheid en kleur van die dag lê ʼn storie wat die hart diep raak.

Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary is nie sommer net nog ʼn skuiling vir hawelose diere nie. Dis ʼn huis. ʼn Hawe. ʼn Hemel vir honde van wie die wêreld lankal vergeet het.

Hier, op sagte beddens en ou banke, met sonlig wat oor die grasperke val, vind ouer honde rus, liefde en omgee in die laaste jare van hul lewens. Stigter Herme Riley se lewensfilosofie is eenvoudig maar kragtig: “Heartbeats till Heaven”. Elke hond verdien om sy laaste asem in liefde te gee – nie in eensaamheid nie.

Meer as twaalf jaar gelede het Herme se reis begin toe sy drie bejaarde honde by Woodrock Animal Rescue aangeneem het. Hulle was reeds 15 jaar oud en het nog nooit voorheen ʼn eie tuiste gehad nie. Sy het hulle ingeneem om vir hulle ʼn paar goeie jare te gee – en toe besef dit is haar roeping.

Vandag is Hermes Haven ʼn toevlug vir meer as 58 honde, elkeen met ʼn naam, ʼn storie en ʼn plek waar hulle behoort. Daar is geen hokke nie, geen koue sementvloere nie – net sagte komberse, warm beddens en mense wat werklik omgee.

Herme, saam met haar dogters Lakyn en Kayla, doen alles self. Hulle bestuur ook die gesin se besigheid, wat jare lank die enigste bron van finansiële steun vir die hawe was. Maar met kos wat meer as R10 000 per maand kos en veeartsrekeninge wat reeds oor R20 000 beloop, raak die las swaar.

Tog gee hulle nie op nie.

“Ons honde slaap binne, op beddens en banke – of waar hulle wil,” vertel Herme. “Hulle hardloop in die tuin, speel, en weet hulle is geliefd. En ons herplaas hulle nie. Wanneer hulle hier kom, bly hulle vir altyd.”

Die sukses van die Disney Dress-Up Fundraiser bewys net weer hoe groot die gemeenskap se hart is. Hermes Haven is diep dankbaar vir elke persoon wat die dag bygewoon het, elke borg wat ʼn prys geskenk het, elke deelnemer wat deelgeneem het, en elke hand wat uitgereik is om te help.

Want aan die einde van die dag gaan dit nie oor kostuums of kompetisies nie.

Dit gaan oor ʼn hond wat vanaand warm slaap.
ʼn Hond wat nie meer alleen is nie.
En ʼn hart wat weet – iemand het omgegee.

Vir meer inligting oor hoe jy ook kan help, besoek Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary op Facebook, stuur ʼn WhatsApp na 083 256 6513, of e-pos hermefrantic@gmail.com.

 


Foto’s: Amarissa Wingrove, Linel Visser, Kayla Riley, Val Sham Photography 




Comments