’n Hawe waar hawelose honde vreedsaam kan oud word

 


Op ’n stil plot in Meyerton skuil daar ’n plek waar elke blaf ’n storie vertel – van verlange, tweede kanse en onvoorwaardelike liefde.

Hermes Haven – Senior Furbaby Sanctuary is nie sommer net ’n “skuiling vir hawelose diere” nie. Dis ’n huis. ’n Hawe. ’n Hemel vir honde van wie die wêreld lankal vergeet het.

Hier, tussen sagte beddens, ou banke en sonlig wat oor die grasperke val, vind ouer honde rus en liefde in hul laaste jare. “My mantra was nog altyd ‘Heartbeats till Heaven,’” sê stigter Herme Riley met ’n sagte glimlag. “Elke hond verdien om sy laaste asem in liefde te vind, nie in eensaamheid nie.”

Meer as twaalf jaar gelede het Herme besluit om haar lewe te wy aan dié wat min oor het, maar soveel gee. Ná ’n moeilike tyd in haar eie lewe het sy drie bejaarde honde by Woodrock Animal Rescue aangeneem. Hulle was 15 jaar oud en het nog nooit ’n tuiste gehad nie. “Ek het hulle ingeneem om vir hulle ’n paar goeie jare te gee… en toe het ek besef, dis my roeping.”

Sedertdien het haar huis stadigaan ’n toevlug geword vir die vergete diere van die wêreld. Vandag leef meer as 55 honde in vrede daar – elkeen met sy eie naam, bed en storie. Geen hokke nie. Geen koue sementvloere nie. Net liefde, sagte dekens en warm kombersies.

 


Herme, saam met haar dogters Lakyn en Kayla, doen alles self. Hulle bestuur ook die gesin se argitektuur-besigheid, wat jare lank die hawe se enigste bron van finansiële steun was. “Ons het dit so ver gebring sonder hulp, maar nou is dit moeilik,” erken sy eerlik. “Net die hondekos kos meer as R10 000 per maand, en ons veeartsrekening is oor die R20 000. Maar ons gee nie op nie – elke hond se lewe maak saak.”

Hermes Haven is ’n organisasie sonder winsbejag, maar dit bly in wese ’n tuiste – nie ’n tipiese skuiling nie. “Ons honde slaap binne, op beddens en banke, of waar hulle wil. Hulle hardloop in die tuin, speel, en weet hulle is geliefd,” vertel Herme. “Ons herplaas nie – hier bly hulle vir altyd.”

Benewens hul eie diere, help Hermes Haven ook diere in hul plaaslike gemeenskap – van kosverskaffing tot sterilisasie en opvoeding oor dierewelsyn. “Ek glo aan omgee wat aangee,” sê Herme. “Miskien is dit hoekom ek geseën is om dit al so lank te kan doen.”

Vir die honde van Hermes Haven beteken elke donasie – groot of klein – nog ’n dag van kos, sorg en liefde. En vir Herme en haar dogters beteken dit hoop: dat daar nog mense is wat glo ou honde verdien om sag te slaap, met vol magies en warm harte.

Vir meer inligting oor hoe jy kan help, besoek Hermes Haven Senior Furbaby Sanctuary op Facebook, stuur ’n WhatsApp na 083 256 6513, of e-pos hermefrantic@gmail.com.

Jy kan ook ’n donasie maak:

Capitec Business
Herme’s Haven
Rekeningnommer: 105 225 1854
Takkode: 470010

Jou hulp kan ’n verwaarloosde dier se lewe verander.

Foto's verskaf

 


Comments