Top-rolprente om tydens inperking te geniet!


Daar sal iets vir almal op die stroomplatform van jou keuse wees – van die Afrikaanse rolprente wat jy misgeloop het tot die prente waaroor jy mal was en graag weer wil kyk

Hoogepunte wat deur die plaaslike verspreider Indigenous Film Distribution verteenwoordig word en die afgelope paar jaar in teaters vertoon is, is nou op aanvullende platforms beskikbaar.
“Daar is iets vir elkeen – rillers, dramas, romantiese films, komedies en musiekblyspele,” het Helen Kuun, Besturende Direkteur van Indigenous Film Distribution gesê. “Onder die gegewe omstandighede is dit die perfekte geleentheid vir gehore om die prente op digitale platforms tuis te kan geniet.”
Die Storie van Racheltjie de Beer, ’n 2019-film oor ’n jong Afrikaner-dogter in die Voortrekker-era wat haar lewe vir haar boetie s’n opoffer, is op DStv BoxOffice beskikbaar. Groot name soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Antoinette Louw speel in dié rolprent.
Op Netflix en Showmax is daar vir aanhangers van musiekblyspele die 2010-lokkettreffer Liefling, ’n liefdesverhaal oor ’n meisie met ’n passie vir avontuur. Die storie word met behulp van immergroen Afrikaans-liedjies van die 70’s tot treffers van vandag vertel. Sonja Herholdt speel die ma van Liefling Marais (Lika Berning), wat halsoorkop op Jan (Bobby van Jaarsveld) verlief raak. Die onderduimse knoeier, Melanie (Marlee van der Merwe), sal egter enigiets doen om Jan vir haarself toe te eien. Bekendes soos Elize Cawood, Rouel Beukes, Kurt Darren, Sylvaine Strike, Porteus Xandau, Anna Davel, Kevin Leo, Clementine Mosimane en Paul du Toit speel in die prent. Liefling is vervaardig deur Paul Kruger en Linda Korsten, dogter van wyle Gé Korsten en Afrikaans-musiekikoon, wat in die 1970’s ’n trefferliedjie met dieselfde naam gesing het.
Vir kykers wat iets meer grusaams soek, is daar Die Ontwaking. Hierdie grieselrige en aksiebelaaide misdaadriller wat die psige en motiverings van ’n reeksmoordenaar, Abel (Gys de Villiers) ontgin, sal ook op Netflix en Showmax beskikbaar wees. Abel is die eienaar van ’n klein galery wat in Afrika-maskers en -kuns spesialiseer. Juanita de Villiers, Gérard Rudolf en Paul Eilers speel hoofrolle in die rolprent.
Nog ’n musiekblyspel op Netflix is Pretville, ’n vrolike film vir die hele gesin wat in die vyftigerjare in ’n fiktiewe dorpie waar enigiets moontlik is, afspeel. Die rolprent spog met akteurs soos Marlee van der Merwe, Eugene Jensen, Marno van der Merwe en Lizelle de Klerk. Dan is daar ook die lekkerkyk French Toast, ’n romantiese komedie oor ’n Suid-Afrikaanse vrou (Like Berning) wat na Parys reis opsoek na ’n lang verlore broer/suster waarvan sy nooit geweet het nie, met net haar ma se dagboek en ’n hangertjie as hulpmiddels. Thierry Ballarin, Deon Lotz en Heléne Lombard vertolk ook rolle in die film.
 
In die klassieke Afrikaanse romkom Eintlik Nogal Baie, is Jay ’n animasiedeskundige maar ook ’n ou wat by ’n kruispad in sy lewe gekom het. Toe hy egter vir Ally ontmoet, verander sy lewe onherroeplik op die mees dramatiese wyse. André Lótter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz speel in hierdie rolprent.
Gehore wat toegang tot Showmax het, kan na ’n hele paar hoogtepunte uitsien, soos Skemerson (2019), ’n Afrikaanse prent wat deur ware gebeure geïnspireer is. ’n Jongman wat met ’n geestesiekte sukkel, besluit om sy eie lewe te neem. Toe hy uiteindelik op die brug van sy keuse staan, gereed om te spring, hoor hy ’n vrou lag. Dit is die begin van ’n naweek wat drie mense se lewens ingrypend verander. Met Pietie Beyers, Elize Cawood en Anneke Weidemann in die hoofrolle.
Vakansie-chaos is aan die orde van die dag in die hedendaagse gesinskomedie, Kampterrein. Die Afrikaanssprekende gesin, die Fouché’s, daag by die ATKV Buffelspoort-vakansieoord op maar sien dadelik dat hulle gebruiklike karavaanstaanplek deur die Khumalo’s beset is. Die prent sorg vir ’n hele paar lagwekkende tonele as die twee gesinne vergeldende aksies en allerlei kaskenades op mekaar uitprobeer. Louw Venter, Juanita de Villiers, Josias Moleele en Zenande Mfenyane is in die film te sien.
Nadat ’n prentjiemooi plattelandse troue op ’n fiasko uitgeloop het, probeer ’n groep babelaas vriende die oggend na die troue om die legkaartstukke van wat die vorige aand gebeur het, bymekaar te pas. Op soek na antwoorde wil die bruidegom die liefde van sy lewe vastrek, die bruid probeer om haarself uit die web van die verlede te bevry, terwyl ’n kelnerin probeer om aan die toekoms te ontsnap – dit is die kern van die storie van Wonderlus (met Mila Guy, Edwin van der Walt, Lea Vivier en Stiaan Smith).

 
Die Storie van Racheltjie de Beer-voorprent:


 
Liefling-voorprent: 


 
Pretville-voorprent:


 
French Toast-voorprent:


 
Eintlik nogal baie-voorprent:


Die Ontwaking-voorprent:


Skemerson-voorprent:


Kampterrein-voorprent:


Wonderlus-voorprent:

Comments