Griekwastad
Film is tans op BoxOffice beskikbaar. Alex van Dyk verklap meer oor sy rol as
Don Steenkamp en oor wat kykers van dié prent kan verwag.
Don Steenkamp se hofsaak het die hele land
geboei en tot vandag toe is niemand seker of hy regtig skuldig was aan die
moord op Deon, Christel en Marthella Steenkamp en of omstandighede net teen hom
gewerk het nie.
“My agent, Optim Talent, het die oudisie vir die
film Griekwastad vir my gestuur. Na
vele oudisies het ek die goeie nuus ontvang dat ek die rol van Don Steenkamp
gaan vertolk.”
“Ek is iemand wat daarvan hou om myself uit te
daag, nie net in die filmbedryf nie, maar ook in die lewe. Ek het die
geleentheid gesien as ’n uitdaging waar ek myself kan toets en kyk tot waartoe
ek in staat is deur so ’n intense rol te speel en nuwe toneelspeltegnieke te probeer,
asook om dit dan my eie te maak.”
“Wel, dit was vir my die mees uitdagende deel
van die hele proses. Die rede daarvoor is, dat ek geen biografie oor Don ontvang
het nie, want niemand het ooit regtig geweet wat in sy kop aangaan nie. Hy het
nooit juis veel gepraat nie. Ek en die regisseur, Jozua Malherbe, het toe by
die oefentye saamgewerk en moes ’n fyn lyn vind oor hoe ons die karakter op die
skerm gaan uitbeeld. Ons het ook navorsing gedoen oor Don, videogrepe van die
hofsaak kyk en sy emosie en liggaamshouding op foto’s bestudeer. Jozua het ook
self met Kolonel Dick de Waal, die ondersoekbeampte, gepraat.”
“Soos ek gesê het, ek het nie regtig inligting
oor Don gehad nie en moes ’n manier vind om die karakter te vertolk dat die
kyker na die tyd self met die besluit sit of Don skuldig is of nie. Dit was vir
my moeilik om te dink dat ’n seun van sy ouderdom tot al die dinge in staat is,
dis tragies en baie hartseer. Ek moes die verskillende emosies waarmee Don
geworstel het om so ’n manier weergee dat die kyker dit kan raaksien.”
“Die karakter wat ek vertolk is Don Steenkamp, ’n
15-jarige seun wat op die plaas, Naauwhoek, in Griekwastad bly. Hy was in Grey
Kollege in Bloemfontein op skool en het ’n liefde vir perdry gehad, veral Gymkhana.
Don is skuldig bevind aan die moord en verkragting van sy suster, asook die
moord op sy pa en ma. Hy is wel deur die hof skuldig bevind, maar aan die begin
het almal eers gedink dat dit ’n plaasaanval is en het in sy onskuld geglo
nadat hy op Goeievrydag by die polisiestasie opgedaag het en hulle ingelig het
dat sy familie vermoor is. In die film speel al die moontlike scenarios af wat Don
vertel asook dit wat die speurder in sy ondersoek gevind het. Don is ’n
komplekse karakter, omdat hy deur soveel emosies moes werk dat hy amper
onpeilbaar voorgekom het.”
“Dit was ’n ongelooflike ervaring om saam met
iemand te kon werk wat jy al van kleintyd af bewonder en ’n Hollywoodakteur is!
Ek was aan die begin verskriklik senuweeagtig, veral toe ons nog net aan die
beginfase van verfilming was. Mettertyd het die senuwees bedaar en het ons
gemaklik saamgewerk. Arnold is ’n rolmodel vir my en daar is heelwat dinge wat
ek by hom geleer het. Dit is nie net oor toneelspel nie, maar ook menswees. Hy
is ongelooflik nederig, ’n ware gentleman,
’n netjiese en uiterse professionele persoon. Oor toneelspel het hy my vele aspekte
geleer, onder andere dinge wat hy weer by mense soos Al Pacino geleer het -
waar ’n mens jou sub-konteks in jou kop moet deurgaan voordat jy jou lyn sê en
om sekere emosies te kry moet jy terugdink aan ’n gebeurtenis in jou eie lewe
wat jou dieselfde emosies laat ervaar het. Veral iemand soos ek, wat maar net
sestien was toe ons die film geskiet het en vir my om sekere emosies te kon kry
vir van die tonele was soms uitdagend gewees, omdat die gru-gebeure ver verwyderd
is van enige normale konteks.”
“Ek dink dit is ’n storie wat die hele land
aangegryp het, veral in die tye van plaasaanvalle en dit is dan juis moeilik is
om te verstaan dat ’n jong seun so iets gewelddadig aan sy eie familie kon
doen. Dit was so ’n tragiese en hartseer storie en daarom het dit baie mense
geboei en gefassineer. Ek dink ook baie mense wonder steeds of Don skuldig is
of nie en ek glo dat hierdie film hopelik vir mense ’n meer duidelike prentjie
kan skep oor die ondersoek en gebeure.”
“Ek en my gesin (pa Alex, ma Blanche en
14-jarige suster Lana) woon op ’n plaas net buite Durbanville, Wes-Kaap.”
“Ek het glad nie in toneel belanggestel toe ek
jonger was nie, ek was meer die sportmal-outjie. Rugby was een van my groot
liefdes, maar met die derde harsingskudding in graad agt het die dokter
aanbeveel dat ek my tokse ophang. Dit was nogal ’n emosionele tyd oor daardie
teleurstelling, maar ek moes iets anders vind behalwe my tennis, want stilsit
kan ek beslis nie! Skaars ’n week nadat ek die teleurstellende nuus gekry het
van geen kontaksport nie, het ons ’n afkondiging by die skool gehad oor ’n
oudisie vir ’n internasionale film, Die
Stropers. Ek dink toe dat ek iets buite die boks moet probeer en miskien
raak ek ‘famous’. So skryf ek en ’n vriend
ons in (vir die grap aanvanklik) vir die oudisie. Nadat ek my eerste call back kry, besluit ek om dit ’n kans
te gee en hier is ek vandag. Ek is nog vir geen oomblik spyt oor my besluit nie,
want dit het my hele lewe verander.”
“Wade Young en Andrew Garfield.”
“Ek kry dit nie altyd so lekker gebalanseer nie,
want die lading akademie in graad elf is heelwat. Ek moet maar opofferings maak
en laataande sit om werk in te haal of soos met die verfilming van Griekwastad, moes ek tydens verfilming
ook my skooleksamen skryf. (Ek sou byvoorbeeld die oggend vroeg terugry
Durbanville toe van Hopefield af, eksamen skryf, en terugrystel toe waar ons
dan die dag verfilm en dan leer ek maar tussen tonele, want ons het baie dae
eers vier-uur die volgende oggend klaar geskiet en dan moet ek alweer 7:45 eksamen
skryf.) Ek is bevoorreg dat die
skoolhoof en personeel van Hoërskool Durbanville behulpsaam en ondersteunend is.
Natuurlik moet ek ook ’n tydjie maak vir kuier saam met my vriende.”
“Ek werk tans aan ’n volgende film, Gaia, van Tertius Kapp en Jaco Bouwer,
maar moes dit ongelukkig eers stop a.g.v. die grendeltyd weens Covid-19. Hopelik
word dit later vanjaar voltooi. My planne
vir die toekoms is om eers my skoolloopbaan te voltooi en tussendeur nog
filmwerk te doen. Na skool wil ek miskien oorsee gaan (dalk Amerika) of siviele
ingenieurswese studeer, die tyd sal leer. As ek kyk hoe vinnig dinge in my lewe
verander het, sal ek dit eers jaar-vir-jaar vat! Tog is ek baie opgewonde oor
die toekoms!”
“Ons almal wil hê dat dinge so gou as moontlik weer
moet terugkeer na normaal. Hou by die reëls en regulasies sodat dit vinniger
kan gebeur en moenie net op jou eie behoeftes fokus nie, maar sien ook ander se
behoeftes raak. Bly positief en bly bid, ons sal ook hierdeur kom!”
Instagram: @griekwastadfilm
Foto: Anne Marais
Comments
Post a Comment