Dozi stel nuwe album vry


Dozi is ’n bekende en geliefde naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy nuwe album is nou beskikbaar. Lees meer hieroor in vandag se artikel.


Wanneer jy die naam Dozi hoor, dink jy onwillekeurig aan treffers soos Grassade in die Wind, Ou Ryperd, Tussen Jou  en My en meer en sien jy in jou geestesoog ’n prentjie van dié sagmoedige reus wat oor die afgelope twee dekades diep spore in Suid-Afrikaanse musiekharte kom trap het.
 
Nadat hy homself vir die afgelope paar jaar daarop toegespits het om vir ander kunstenaars die geleentheid te gee om hulle werk met gehore te deel by sy restaurant en kuierplek, Dozi’s Back to the Roots, het hy besluit om vanjaar weer op sy eie musiek te fokus en aanhangers te verras met ’n splinternuwe album getiteld VREDE, wat beloof om hulle stoutste verwagtinge te oortref.
 
Dit sal vanaf einde Mei op alle digitale platforms beskikbaar wees en is ’n versameling snitte wat jou nie net nostalgies sal laat verlang na die verlede nie, maar ook met hoop sal vul vir die toekoms en met waarderende oë sal laat kyk na die hede. Hierdie akoestiese-verwerking gaan voortbou op die wenresep waarvoor dié sanger oor die jare bekendheid verwerf het, maar ook ’n splinternuwe kant van sy musiek vir die publiek wys.
 
Hierdie negentiendealbum van Dozi spog met twaalf oorspronklike snitte, waarvan hy drie liedjies self geskryf het. Stef Kruger het die res geskep en, volgens die sanger, was dit vir hom so lekker om weer saam met hierdie begaafde liedjieskrywer te werk. Die inhoud kan hoofsaaklik beskryf word as ’n kombinasie van dieper dinkmusiek, wat hier en daar afgewissel word met ’n ligter dansnommertjie.  “Die rede hoekom ek musiek skryf, is om iets in die wêreld beter te maak. Musikante is dissipels van die wêreld en dis hulle werk om mense se siele gelukkig te maak. As jy ongelukkig is en jy luister na die regte musiek, dan voel jy beter,” deel hy.
 
VERTEL ONS MEER VAN DIE NUWE ALBUM EN WAARNA LUISTERAARS KAN UITSIEN
“Vir die eerste keer in negentien albums, keer ek terug na die “ou” Dozi-klank. Ek het dit op my plaas opgeneem saam met Stef Kruger. Die album het alles te doen met waar ek op die oomblik in my lewe is. ‘Vrede’ is binne-in jouself en by die plek waar jy bly.”
 
WANNEER IS JOU VORIGE ALBUM VRYGESTEL EN WAARMEE WAS JY BESIG INTUSSEN?
“My vorige album is in 2013 vrygestel. Intussen het ek vir ’n lang tyd ’n restaurant bestuur (Dozi, Back to the Roots - wat ek nie gedink het gaan so groei nie, maar op die einde ’n 2000 mense kon huisves) waar ek saam met kunstenaars opgetree het.” 
 
WAT IS JOU GUNSTELING-LIEDJIE OP DIE ALBUM EN HOEKOM?
“My gunsteling-liedjie op die album is As Jy Deur Hel Gaan. Die liedjie spreek my aan en ek weet en hoop dit sal elke liewe burger in die land ook aanspreek.”
 
WAT IS JOU TOEKOMSPLANNE?
“Ons is nie baie seker oor ons toekomplanne nie... al wat ek weet is ek wil vir die res van my lewe sing... ons weet net nie op die oomblik waar nie!”
 
WAT IS JOU BOODSKAP VIR LESERS WAT MOEDELOOS IS AS GEVOLG VAN GRENDELTYD?
“Mense wat moedeloos is en moed verloor het - soos my liedjie sê - terwyl jy op jou knieë sak... kan jy netsowel bid.”
 
HOE HET JY JOUSELF BESIG GEHOU IN GRENDELTYD? 
“Ek het begin groente plant op my plaas en my swembad verander in ’n visdam waaruit ek besproeing gaan doen.”


 
Die bekendstelling van VREDE gaan ook gevier word met ’n spesiale aanlyn-konsert op 27 Junie. Aanhangers kan gerus www.wallfly.co.za, die media en Dozi se sosiale media bladsye dophou vir meer inligting wat binnekort bekendgemaak sal word.
 
VREDE gaan beslis ’n moet-hê-album wees vir elke Dozi-aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en lekker luistermusiek, waarsonder geen speellys volledig sal kan wees nie.
 
Volg hom op sosiale media:
Facebook:https://www.facebook.com/Dozifanpage/
Instagram: @doziopperman
 
Foto’s: Vonk Musiek

Comments

  1. Bevonk Dozi ...jy is deur hel en jy werk jouself daaruit...jy is is mos die Cort verteenwoordiger in SA.....wees trots op jouself......Martin Dellow

    ReplyDelete

Post a Comment