Stylvol gemasker in 2020


Maskers is die moet-hê-mode-item vir 2020 en met klerekas.com kan jy stylvol lyk én veilig wees. Gina van Staden vertel jou meer van die pragtige toebehore.

 
Met die nuwe wet wat tydens die pandemie ingestel is, is dit veilig om die stelling te maak dat gesigmaskers hier is om te bly. Die hoofbrein agter klerekas.com, Rianca de Wet, het haar tyd uitgeleen om met ons te gesels oor die inisiatief wat hierdie aanlynwinkel geneem het tydens die Covid-19 pandemie.
 
Hoe het klerekas.com tot bestaan gekom? 

“Klerekas.com is vir ons soos een van daai drome wat al jou wildste verwagtinge oortref. Ek en Johan het op ’n dag deur die Vrystaatse vlaktes met swaar harte wat na méér in die lewe soek gereis. Die idee vir klerekas het toe net ontstaan. Johan het bly kla dat hy moeg was daarvoor dat daar nie stylvolle knopieshemde vir mans is nie - alles was net die een of ander blokkiesraaisel met ’n  vervelige skakering van gister se sondes. Toe belowe ek om vir hom ’n knopieshemp te ontwerp wat sy asem sou weg slaan. 
 
Ek het wel die belofte ’n bietjie aangepas en sommer ses hemde, nege dasse, twee broeke en ’n strikdas ontwerp! Die res het gelei tot die geskiedenis waar Johan my arm gedraai het om nog olie in die naaimasjien te spuit, sodat ek vir die hele Suid-Afrika kon begin ontwerp het!

Vandag is klerekas.com dié eenstop-aanlynwinkel wat aan beide mans- en dames se klerekas behoeftes voldoen.”
 
Werk julle met enige liefdadigheidsorganisasies? Watter, en hoekom?  

“Ek dink daar is verskillende seisoene in ’n mens se lewe waartydens die nood op jou hart druk om verskillende mense te help. Op hierdie oomblik ondersteun ons Helpende Hand se #OnsWinkels deur ons kliënte aan te moedig om hul kaste reg te pak en ou klere aan #OnsWinkels te skenk. Die inperking het baie mense se werk beïnvloed en hulle salarisse óf gesny, óf heeltemal weggeneem. Dit laat baie ouers met hul hande in hul hare, want waar gaan hulle klere kry om hul kinders warm te hou gedurende die winter? 

Ons ondersteun ook deurlopend plaaslike mamma’s en ouma’s wat naaldwerk kan doen, deur sommige van ons items en bykomstighede vir hulle te gee om te maak om sodoende ՚n inkomste te verdien.”
 
Hoe en wanneer het julle die idee gekry om met stylvolle maskers te begin?  

“Aan die begin van die jaar sou ek nooit kon raai dat gesigmaskers só ’n treffer tydens 2020 sou wees nie. Dit was aanvanklik beslis nie deel van ons winterreeks nie. Klerekas.com streef altyd daarna om ’n stappie voor te wees, selfs al is daar baie besighede daar buite wat gesigmaskers vervaardig. Maar klerekas.com doen dit met styl.
 
Elke item wat ons ontwerp, hetsy dit ’n  paar vellies of ’n mooi rokkie is, kan altyd op twee maniere gedra word - formeel of informeel. Daarom was ons dadelik geïnspireer om so ook die klerekas.com-stempel op ons gesigmaskers af te druk. Ons patrone en ontwerpe is alles behalwe vervelig, maar die verskil is dat dit ook stylvol en elegant is! Dit maak egter nie saak wátter uitdagings die seisoen mag inhou nie, ons leuse bly altyd: Uiteindelik, styl nes jy wil! Ek dink dat ’n stylvolle gesigmasker beslis ’n moet-hê-item is vir die winter.”
 
Vertel asb meer van die vroue wat die maskers maak?

“Die hele klerekas.com-span is oorweldig deur die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang en ons kan daagliks met dankbaarheid getuig teenoor elke liewe persoon wat besluit het om ’n item by klerekas.com te koop gedurende hierdie moeilike tyd.

Ons is so bevooreg om vir meer as veertig persone werk skep! Dit is ’n ongelooflike gevoel om te weet dat alle bestellings en ondersteuning vir veertig ander huisgesinne kos op hulle tafels sit. Hierdie dames se aanvanklike kommer en seer was oornag verlig. Hulle maak hierdie stylvolle maskers tot die beste van hulle vermoëns en gee hulle absolute bes om die allermooiste, kwaliteit produkte aan elkeen van ons kliënte te bied. En dan doen hulle dit ook nog met reuse glimlagte op hulle gesigte!” 
 
Hoe raak die pandemie julle?   

“Dis wêreldwyd ’n uitdagende tyd vir almal. Ons is almal onseker oor die onbekende pad vorentoe.

Daar is tans geweldige druk in die tekstielbedryf. Baie items wat voorheen ingevoer was, is nou onbekombaar. Fabrieke en maatskappye is oornag gedwing om te veg of vlug. Alhoewel dit baie uitdagend is en nagte se werk verg sodat planne in plek gesit kan word om die gapings te oorbrug, is dit aan die een kant ook wonderlik. Daar word op die oomblik weer teruggeploeg in die gemeenskap, mense ondersteun weer plaaslike entrepreneurs en ons is in staat om werk te skep, waaraan daar ’n geweldige tekort is in ons land. 

 
Ek wil Suid-Afrikaners uitdaag om nou (en in die toekoms) ’n doelbewuste besluit te maak om meer plaaslike entrepreneurs te ondersteun. Wanneer jy plaaslik ondersteun, koop jy meer as net ’n item. Jy koop honderde, duisende ure se eksperimente, mislukkigs en oorwinnings. Jy koop weke en selfs maande se frustrasie, en dan uiteindelike vreugde.” 


Wat wink vir julle in die toekoms?

“Ons is tans besig om te werk en te beplan aan klerekas.com se Lente-reeks, asook ons nuwe baba- en kleuteritems. Ons sien vreeslik uit daarna om dit binnekort met #klerekassers te deel!”


Watter raad het jy aan Suid-Afrikaners, wanneer dit by die keuse van die regte maskers vir hulle gesig/styl kom?

“Te midde van die wêreldwye krisis het gesigmaskers amper net so belangrik soos ’n mooi paar wintersskoene geword. Die belangrikste aspek van die masker is natuurlik dat dit aan al die veiligheidsvooreistes voldoen. ’n Goeie gesigmasker is uit drie lae materiaal gemaak - ’n goeie materiaal is onder andere ՚n getekstureerde poliëster materiaal. Jy moet dit ten minste ’n 100 keer kan was en die masker moet beide jou neus en jou ken bedek.

Of die masker se toutjies nou om jou ore hak of agter jou kop vasmaak, hang alles van jou gemak af. Toutjies is lekker, want jy kan jou hare daaroor gooi en dit lyk baie stylvol en mooi. Die patroon moet redelik nousluitend om jou gesig pas.”
 

Rianca sê ook dat jy ՚n kleur moet kies wat jou veltoon, oogkleur en haarkleur komplementeer, want dis byna al wat mense gaan sien. “In die verlede sou mense jou hare eerste raaksien, maar vir die volgende paar maande sal die eerste ding jou masker wees. Jou masker se patroon moet jou persoonlikheid weerspieël, hetsy minimalisties of uitspattig.”
 

WEN!!

Twee gelukkige lesers kan elkeen ’n gesigmasker wen van klerekas.com! Om in te skryf:

1.Like en deel hierdie inskrywing op Facebook;

2.Like klerekasdotcom en Starburst Promotions se Facebookblaaie; en

3.Deel een ding waarvoor jy dankbaar is in hierdie moeilike tyd in die kommentaarblokkie.
 
Gina van Staden is ’n skrywer, profetiese kunstenaar en stigterslid van Fireball Ministries.
 
Foto: Verskaf

Comments