5 Minute met Lillia Lessev


Ons gesels met Lillia Lessev oor hoekom haar nuwe enkelsnit, HEARTLESS, ’n kreet is om op te staan en aan te gaan.


Tienersangsensasie, Lillia Lessev, wat in 2018 die gehoor gaande gehad het by Jacaranda Day, se splinternuwe enkelsnit is nou beskikbaar!  
 
Dié talentvolle ster het haar eerste enkelsnit, Heartbeat, in 2018 vrygestel. Kort daarna, het sy die kans van ’n leeftyd gekry: “’n Familievriend het aanbeveel dat ek my liedjie inskryf vir ’n kompetisie op Jacaranda FM. Ek het nie gedink dit staan ’n kans nie, maar het in elk geval ingeskryf, en toe gewen! As gevolg hiervan kon ek by Jacaranda Day 2018 optree, wat iets is wat ek nooit sal vergeet nie. Dit het ook gelei tot my eerste radio-onderhoud en optrede op Friday Live.”
 
Daarna het nog twee enkelsnitte – Losing My Mind en Rusted gevolg. Laasgenoemde is ingeskryf vir ’n Britse Liedjieskryfkompetisie en het vir haar, in twee kategorieë, ’n plek in die finaal besorg. Rusted is ook ingeskryf in die Internasionale Liedjieskryfkompetisie (ISC) en sy het as finalis uit die stryd getree asook ‘n spesiale ere-toekenning sertifikaat.  
 
Nou is sy terug in die kollig met ’n inspirerende nuwe liedjie wat reeds op verskeie radiostasies speel.
 
HEARTLESS, wat deur die sestienjarige self geskryf en getoonset is, gaan oor hoe mense geneig is om aannames te maak en te oordeel sonder dat hulle iemand anders se omstandighede ken.
 
Ons het meer gaan uitvind oor die inspirasie agter hierdie snit en oor die mense agter die musiek.
 
HEARTLESS HET ’N BAIE VOLWASSE AANSLAG. WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE LIEDJIE?
“Ek was altyd baie bekommerd oor wat ander mense van my dink, totdat ek besef het hoe min hulle regtig van my weet. Ek het ook besef dat iemand se optrede nie noodwendig weerspieël wie hulle regtig is nie. Dit het my geïnspireer om HEARTLESS te skryf, wat daaroor gaan dat mense vinnig is om te oordeel en hulleself oor mense uit te laat en hoe seer dit kan maak. In tyd, sal jy egter besef dat jy jouself nie aan sulke mense moet steur nie. Dan leer jy om diegene wat hulle eie onsekerhede op jou projekteer se leuens te ignoreer.”
 
HOEKOM GAAN MENSE VAN HIERDIE LIEDJIE HOU?
“Hierdie is kreet wat mense aanmoedig om nie op te gee nie. Ek dink dis iets waarby almal sal aanklank vind en die polsende wysie laat jou vrolik voel en maak dit lekker om op te dans.”
 
WAT WIL JY GRAAG MET JOU MUSIEK BEREIK?
“Ek wil hê dat my musiek mense se harte moet raak en dat hulle regtig moet luister wanneer hulle dit hoor. Daar is liedjies wat ek luister wanneer ek verskillende emosies ervaar, omdat ek daarby aanklank vind. Die hoop is dat my musiek dieselfde sal doen vir ander mense.”
 
WIE IS JOU ROLMODELLE?
“My ouers het nog altyd my musiekloopbaan ondersteun, selfs wanneer ek moeilik raak. Hulle gee my die geleentheid om my drome na te jaag en het my geleer om na my hart te luister, ongeag van wat ander mense sê.”
 
WAT INSPIREER JOU OM LIEDJIES TE SKRYF?
“My liedjies is soos stories uit my eie lewe. Hulle gaan oor die groot en belangrike dinge wat al met my gebeur het. Gewoonlik deel ek my eie emosies of ervaringe, maar soms sal ek iets skryf oor wat met iemand anders gebeur het of oor wat ek in ’n fliek gesien het.”
 
AS JY NIE KAN SING VIR ’N LEWE NIE, WAT SOU JY ANDERSINS WOU DOEN?
“Dis ’n goeie vraag, want ek en my ouers gesels al lank hieroor en kon nog nie ’n antwoord kry waarmee ek gelukkig is nie. Al wat ek regtig wil doen, is om ’n suksesvolle sanger en liedjieskrywer te word.”
 
NA WATTER TIPE MUSIEK LUISTER JY?
Taylor Swift, Grace Vanderwaal, Troye Sivan en Birdy!”
 
SAAM MET WIE SOU JY NOG GRAAG WOU WERK?
“Daar is so baie talentvolle kunstenaars, maar as ek moet kies sou ek beslis sê Jeremy Loops.”
 
WAT LAAT JOU LAG EN HUIL?
“Ek lag oor komiese toevallighede en herinneringe saam met my sussie laat my altyd gelukkig voel. Ek huil wanneer ek deur moeilike tye gaan of hoor van tragedies wat in ander dele van die wêreld gebeur.”
 
Lillia erken dat haar grootste uitdaging tydsbestuur is. “Ek is nog besig om te probeer om my tyd effektief te bestuur en ’n balans te vind tussen my musiek en skool. Daar is egter altyd tyd om te doen waarvoor ek lief is!” 
 
Die sangeres het hope talent, passie en deursettingsvermoë en daarom is haar gunsteling-aanhaling deur Walt Disney so gepas: “Enige droom kan waar word as jy die moed het om dit ’n kans te gee.”
 
HEARTLESS is aanlyn beskikbaar op Spotify, Apple Music, iTunes, Deezer, Google Play en YouTube.
 
Volg haar aanlyn op:
Facebook: https://www.facebook.com/LilliaLessevOfficial/
Instagram: @lillialessev
Twitter: @LilliaLessev
Webblad: http://www.lillialessev.com/

 



Comments