Die opskrif klink nogal nes die een of ander dieetfoefie, nê? Maar die feit is dat jou lewe beter kán wees en dit hang net van
een persoon af: jouself.
Die lewe is rowwer as ooit, maar dit hoef nie net
stresvol of vervelig te wees nie. Jy kan nie die weer of ander mense se keuses
beheer nie, so dit wat móét verander is hoe jy reageer daarop. Die reis na ʼn
beter lewe begin by introspeksie:
Die vinnigste manier om jou vreugde te verloor is waneer jy rondkyk na wat ander mense het of doen. Niemand is dieselfde nie, so waar ons is in die lewe sal ook nie dieselfde wees nie. Die vrou by jou werk met die ‘perfekte’ man word dalk emosioneel afgetakel by die huis. Die buurman oorkant die straat het dalk sy peperduur Mercedes gekoop met skuld, erfgeld of spaargeld waarvoor hy sy vingers stompies in sy vroeë 20’s gewerk het. Punt is: moenie worry oor wat ander mense het nie want die gras lýk regtig net altyd groener aan die ander kant. Fokus eerder op jou eie gras en hoe jy dit gaan natmaak.
As jy ʼn middelklas bestaan voer, moenie gaan sit en drool oor die mansion in die duurste woonbuurt nie. Jy gaan net teleurgesteld wees. Dink eerder aan hoe jy jou eie huis kan verbeter. Dalk die mure ʼn wilde rooi verf wat die bure sal skok of jou tuin heeltemal omskep. Om te droom is goed, maar as jy op die punt is waar jy voel dat jy nie gelukkig sal wees totdat jy ʼn miljoenêr is nie, lê daar swaar en bitter jare voor.
Droom jy nog altyd daarvan om byvoorbeeld ʼn beroemde speurverhaal skrywer te word? Doen dan ʼn skrywerskursus! Die meeste instansies het afbetalingsopsies, so dis finansieël doenbaar. Jy gaan moontlik jou verwagtinge bietjie moet aanpas want ʼn skrywer spandeer hope tyd aan sy beroep, maar jy kan kortverhale skryf vir die plaaslike koerant of ʼn tydskrif. Dieselfde geld vir enige ander drome – vind uit hoe jy dit by jou huidige lewe kan inpas en go for it.
Stof jou Bybel af en sluit aan by ʼn kerkgemeente of raak betrokke by gemeenskapsprojekte. As jou passie byvoorbeeld vir diere is, help uit by die DBV as ʼn vrywilliger. Of as jy ʼn sagte plek vir mishandelde vroue en kinders het, raak by jou plaaslike reddingshuise betrokke. Sodra jy sien dat jy die vermoë besit om ʼn positiewe impak te maak in die lewens van ander, mag jy jou eie lewe dalk in ʼn nuwe lig begin sien.
Dalk is jy in ʼn abusive verhouding, 20 kilogram oorgewig en ongemaklik of sielsongelukkig by die werk - die lys van moontlikhede is eindeloos. Maar doen iets daaraan. Sê koebaai vir meneer Nagmerrie, begin ʼn gesonde leefstyl, verander jou loopbaan. Verandering maak ʼn mens soms bang, maar skraap al jou moed bymekaar en neem die groot stap. Lees jou rolmodelle se biografieë. Jy sal verbaas wees om te weet dat die meeste van hulle ook al in eenderse (of erger) situasies was as jy.
Artikel: Gina van Staden
Comments
Post a Comment