Christiaan Baartman stel nuwe enkelsnit en video vry


My Vrou beskryf die troudag vanuit ’n man se perspektief en ons het die man agter die liedjie ’n bietjie beter gaan leerken.

 
Christiaan Baartman se splinternuwe enkelsnit, MY VROU, is onlangs aan radiostasies landswyd vrygestel en nou volg die hoendervleismooi musiekvideo van dié hartroerende liefdesliedjie. Die lied en video is ’n verklaring van ’n man se liefde aan sy vrou en dat hy altyd daar sal wees. “It takes two to tango en met MY VROU hoop ek om die spesiale dag te help vorm in albei se oë,” sê Christiaan oor dié snit wat hy saam met Jattie de Beer geskryf het.

MY VROU se musiekvideo sluit nou aan by die liedjie se tema en vang die opwinding en glans van die groot dag vas. “Ons het ’n ongelooflike span gehad wat saamgewerk het om lewe te gee aan hierdie video - Imperfect Perfection, Pink Flower Productions, Beautiful Change en Captivating Mobile Hair and Makeup. Dit was ’n ongelooflike ondervinding en ek is so opgewonde om die resultaat nou met almal te kan deel!”, gaan hy voort.

Die liedjie praat vir diegene wat nie weet hoe om hulle gevoelens oor te dra nie en dien as spreekbuis vir mans wat sukkel om te sê hoe hulle voel.

Kyk die video hier: https://youtu.be/d9RObI31FCE


Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2007 uitgereik toe hy twee-en-twintig was. In 2009 het hy ’n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen vir Liedjieskrywer van die Jaar en sedertdien het hy twaalf nommer een-liedjies geskryf, waarvan sewe op sy tweede album – Huppel In My Stap (2012) – verskyn het. Hierdie veelsydige ster, het ook in 2016 ’n Ghoema-toekenning gewen, ’n kinderalbum saam met die SAMA-bekroonde musikant, Leon Jonkman vervaardig, die finale rondte op Idols SA in 2006 berei, vir Smokie in 2012 geopen en by Huisgenoot Skouspel opgetree in 2007.

Verder het hy saam met Johnny Late opgetree as die Bearded Man Band en put hy baie van sy inspirasie uit die lewe self.  Voor Covid-19 het hy gereeld gereis om op hoogte te bly van die nuutste musiektendense en een van sy gunsteling-bestemmings is beslis Nashville, waar hy byna elke jaar ‘n draai gaan maak het tot op datum, behalwe vir hierdie jaar. 

Ons het hom so ’n bietjie beter leerken:

WAT IS VIR JOU DIE BELANGRIKSTE ASPEK VAN MUSIEK?
“Die storie wat probeer jy oordra aan die luisteraar.”

WIE IS JY IN TWEE SINNE?
“Ek is gemaak om musiek te maak en om mense lief te hê. Die res kom en gaan...”
 
BESKRYF JOU MUSIEKSTYL?
“’n Storie in musiekvorm. Sterk melodielyne en sinvolle agtergrondmusiek.” 


VERTEL ONS MEER VAN JOU NUWE ENKELSNIT, WAAROOR DIT GAAN EN WAT DIT VIR JOU BETEKEN?
“Hierdie is ’n lied wat handel oor die troudag uit ’n man se perspektief. Hoe die man die troudag sien en ervaar... en hoe hy sy liefde aan sy vrou verklaar. Soms kan die man verwyderd voel van die troudag. Daar is so baie wat gebeur en mans is nie altyd goed om te kommunikeer oor hoe hulle voel nie. Dus wou ek ’n lied uitbring wat die man help om te se hoe hy voel oor die dag.”
 
WAT IS JOU PLANNE VIR DIE TOEKOMS?
“Ek is hier om musiek te maak. Ek gaan die res van die jaar nog baie musiek uitsit. Sommige sal ek uitstuur radio toe en sommige gaan ek net vir my vriende en aanhangers aanstuur.” 

WAARMEE WAS JY BESIG GEDURENDE GRENDELTYD?
“Ek en my maat, Jannie Lategan, het elke aan ’n lewendige vertoning gedoen vir ons mense op Facebook. Ons trek nou by vertoning 62.” 

WAT IS JOU BOODSKAP VIR ONS LESERS IN HIERDIE MOEILIKE TYD?
“Hierdie tyd sal ook verbygaan. Maak seker jy het meer gedoen as net TV gekyk... lees ’n boek, leer kitaarspeel, verf. Die lewe gaan vinnig verby... maak seker jy groei.” 


Volg hom aanlyn:

 

 

 

Comments