Het jy al ooit gewonder of Romeo en
Juliet se liefde vir mekaar steeds so vurig en romanties sou wees, as hulle die
realiteite van die lewe - soos rekeninge, werk, kinders, ensovoorts - in die
gesig moes staar? Miskien nie... maar julle kan steeds na jare so oor mekaar
voel, as jul bereid is om altyd saam te werk. Só hou jy jou verhouding gesond
en romanties...
Alhoewel die lewe en liefde nie altyd maanskyn en rose is
nie, is dit tog nie onmoontlik om ’n verhouding te hê wat Nicholas Sparks se
Noah en Allie jaloers sal maak nie.
Dit is egter baie belangrik om te onthou dat jou
verhouding, net soos enige ander suksesvolle projek wat jy aanpak, ook harde
werk en toewyding vereis. Onthou, dit is ook nie so maklik om dinge opwindend
te hou later in ’n verhouding, soos wat dit aan die begin was nie. Saam met
tyd, kom hartseer, probleme en verantwoordelikhede, wat soms baie druk op julle
kan plaas. Die geheim is om nie toe te laat dat dit tussen julle kom nie en om
seker te maak dat julle die romanse lewendig hou... want met wie anders kan jy
dan nou romanties raak? Hier is raad vir ’n gesonde verhouding...
GAAN EEN KEER PER MAAND OP ’N DATE...
Maak seker dat julle een keer per maand net met mekaar
kuier, soos toe julle aan die begin van julle verhouding gemaak het. Dit is
belangrik om tyd vir mekaar te maak en net op mekaar te fokus.
DEEL DRUKKIES UIT...
Moenie skaam wees om gereeld vir jou maat ’n drukkie te
gee nie. Niks is meer gerusstellend en laat jou meer tuis voel as hierdie
intieme aanraking nie.
SKRYF NOU EN DAN ’N LIEFDESBRIEFIE...
Dit kan ook ’n e-pos of WhatsApp wees, waarin jy net noem
hoe spesiaal die persoon vir jou is en verklap hoe jy regtig voel. ’n Vrou en
’n man wil nou een maal ook die goeie hoor... nie net wanneer daar probleme is
nie. Stemnotas werk ook goed.
GAAN HOU PIEKNIEK OF GAAN FLIEK...
Moenie oud wees voor julle tyd nie, hou julle lywe soms
jonk en doen die prettige goedjies, wat julle in die verlede gedoen het, ook so
dan en wan. Niks is so romanties soos om hande vas te hou in die agterste ry of
om op ’n piekniekkombers te lê en gesels nie.
KOMMUNIKASIE BLY ALTYD BELANGRIK...
Dit is baie belangrik dat jou maat altyd weet wat jy voel
en dink, sodat julle op dieselfde bladsy is en potensiële probleme vroegtydig
kan aanspreek. Moet ook nie bang wees om jammer te sê as jy verkeerd was nie,
die ander persoon sal dit meer waardeer as wat jy dink. Wees ook bereid om te
vergewe wanneer jou maar ’n fout gemaak het.
PROBEER SLEGTE DAE VERSTAAN...
Almal van ons het slegte dae en haal dit soms onnodig op
die mense rondom ons uit. Alhoewel jy nie jou maat se vloerlap moet wees nie,
is dit belangrik om te probeer verstaan en tegmoetkomend te wees wanneer hy of
sy wel ’n slegte dag gehad het. Jou ondersteuning, sit jou aan sy of haar kant,
en beteken die wêreld, al weet jy dit nie. Probeer om nie in sulke gevalle
dinge persoonlik op te neem nie, maar spreek dit wel later aan as daar iets was
wat jou gepla het. Probeer ook om nie jou maat se goeie bui met negatiewe nuus
te demp nie.
HELP MEKAAR UIT...
Wanneer jou maat baie hooi op sy of haar vurk het, neem
van die oor om die las ligter te maak. Dit is net tydelik en kan die wêreld vir
julle romantiese lewe beteken.
WEES INTIEM...
Dit is belangrik om fisies en intiem te wees in jou
verhouding. Vir elke party is daar aspekte wat belangriker is as ander, so leer
om die balans te vind.
Julle kan daai paartjie wees, wat op 80 nog net so
gelukkig lyk soos op 20, maak net julle verhouding jul prioriteit!
Comments
Post a Comment