Grimeerprodukte, en alles wat daarmee saam gaan, kan
nogal ’n duur storie wees. Maar jy hoef nie jou spaarvarkie aan skerwe te laat
spat om behoorlik na jou vel om te sien nie. Grimeerkunstenaar, Melissa
Schutte, deel oulike idees om grimering doeltreffend te verwyder na ’n lang
dag.
Wanneer jy vir die meeste mooies en bekendes vra wat
hulle skoonheidsgeheim is, sê hulle altyd dat jy nie moet gaan slaap voordat jy
nie jou grimering verwyder het nie. Maar dis nie so eenvoudig nie. Om saans
moeg by die huis te kom, met baie om te doen en ’n gesig vol van die gesmeerde
grimering wat jy die oggend met soveel sorg opgesit het, kan jou nogal
oorweldig laat voel en veroorsaak dikwels dat jy eerder die aand se take
afhandel en met jou grimering gaan slaap... veral as jy iemand is wat in die
oggend stort of bad.
Moenie sleg voel nie, want hierdie is ’n algemene probleem onder vroue regoor die wêreld, so dis nie net jy nie! Maar wat is dan die probleem? Is ons net lui of is grimeringverwyderaar net te duur? Laasgenoemde is beslis ’n feit, en skoonheidsprodukte se pryse word gereeld verhoog, terwyl ons begrotings al hoe meer krimp. Die oplossing hiervoor is eintlik baie eenvoudig en is ’n selfdoenprojek, wat jy met produkte uit jou koskas kan aanpak.
Hier is vier resepte vir tuisgemaakte grimeringverwyderaar, wat goedkoop en effektief is. Ek hoop dit werk net so goed vir jou, soos vir my!
#1 Olyfolie
Wie sou nou kon raai dat ’n alledaagse item, soos olyfolie, nie net grimering verwyder nie, maar terselfdertyd ook jou vel so ’n bietjie sal bederf en pamperlang?
Wenk: Vroue met aknee kan dalk probleme hê met hierdie
opsie, maar kan die resep nogsteeds gebruik. ’n Goeie gesigskrop word, vir na
die tyd, aanbeveel.
#2 Klapperolie
Plaas die nodige hoeveelheid klapperolie in die mikrogolfoond en verhit totdat dit ’n romerige tekstuur bereik het. Die klapperolie is nie net uitermatig goed vir die vel nie, maar is ook ’n effektiewe grimeringverwyderaar.
Wenk: Die vorige punt se waarskuwing is weereens van
toepassings as gevolg van die oliebasis. Teeboom-olie kan ook by die resep
gevoeg word om ekstra beskerming te bied teen die bakterieë wat deur die dag op
jou vel versamel.
#3 Grimeringverwyderingslappies
Al wat jy nodig het vir hierdie resep, is kantoenblokkies, klappperolie en babasjampoe.
Gooi ’n halwe koppie water in ’n plat bakkie. Voeg dan ’n
eetlepel babasjampoe (geen-trane weergawe) en roer totdat dit behoorlik gemeng
is. ’n Teelepel klapperolie word dan bygevoeg en alles word weer deeglik gemeng.
Die katoendoekies kan dan in ’n konfytpotjie geplaas word en die mengsel bo-oor
gegooi word, sodat dit kan deursyfer. Die doekies kan dan gebruik word om
moeiteloos van grimering ontslae te raak.
Wenk: Hou dit in die yskas vir ’n verfrissende effek in
die somer.
#4 Die natuurlike manier
Al wat jy nodig het vir die resep, is ’n konfytpotjie, water, amandelolie en ’n produk genaamd Witch Hazel. Gooi vier eetlepels water in die potjie, gevolg deur vier teelepels amandelolie. Roer deeglik en voeg dan twee teelepels Witch Hazel by die mengsel.
Wenk: Die resep kan ook gedoen word met katoendoekies,
maar kan ook direk aan die vel gesmeer word.
Om van grimering ontslae te raak, was nog nooit so maklik nie! Hou die blad dop vir nog skoonheidswenke en raad!
Comments
Post a Comment