Vyf minute met die sangeres, Mia!


Mia se enkelsnit, Krimineel, is onlangs uitegereik en reeds baie gewild op die radio. Ons het haar so ’n bietjie beter leerken en uitgevis oor die betekenis agter die liedjie.

Mia (oftewel Mariska Pretorius), wat in Klerksdorp grootgeword het, woon tans in Potchefstroom. Haar talent is reeds vanaf ’n jong ouderdom ontdek en ontwikkel en sy wou dit nog altyd met mense deel. Sy werk sedert 2008 in die musiekbedryf, nadat sy op die ouderdom van twaalf ’n sangkompetisie by haar skool gewen en die geleentheid gekry het om saam met ’n bekende kunstenaar deur die land te toer. 
 
Sedertdien het sy al die verhoog met verskeie groot kunstenaars gedeel en opgetree by van die land se grootste musiekfeeste, waaronder KKNK, Aardklop, Innibos, Ek Lief Afrikaans Kaapstad en vele meer. Sy beskou elke geleentheid wat sy kry om saam met groot name vertonings te doen as ’n hoogtepunt.

Haar nuwe enkelsnit, KRIMINEEL, uit die pen van Vaughan Gardiner, is ’n betekenisvolle popsnit wat sal aanklank vind by almal wat al ooit verlief was. Volgens Mia, gaan luisteraars juis daarvan hou omdat die boodskap dieper is as wat ’n mens van ’n gewone popliedjie sou verwag.

Omdat sy glo dat haar musiek ’n passieprojek is, wat nooit moet ophou nie, het sy besluit dat dit nou die regte tyd is om hierdie besonderse snit met die land te deel.

Ons het die vrou agter die musiek ’n bietjie beter gaan leerken:

WAT IS VIR JOU DIE BELANGRIKSTE ASPEK VAN MUSIEK?
“Die belangrikste aspek van musiek vir my is dat dit ’n sterk boodskap/storie moet oordra. Musiek moet vir jou ’n emosionele konneksie gee.”

WIE IS JY IN TWEE SINNE?
“Ek is ’n spontane mens, met ’n liefde vir mense. Ek hou daarvan om myself konstant te probeer verbeter.”

BESKRYF JOU MUSIEKSTYL?
“My musiekstyl beeld my persoonlikheid uit. My musiek praat vir dit self.”

VERTEL ONS MEER VAN JOU NUWE ENKELSNIT, WAAROOR DIT GAAN EN WAT DIT VIR JOU BETEKEN?
“Dit is ’n liefde soos geen ander. Twee mense wat alles probeer om hulle verhouding sterker as ooit te hou.”

WAT IS JOU PLANNE VIR DIE TOEKOMS?
“Ek en Hugo Ludik het alreeds begin met my volgende liedjie, sy naam is Waterval. Ek vat maar alles soos wat dit kom en dag-vir-dag.”

WAARMEE WAS JY BESIG GEDURENDE GRENDELTYD?
“Ek is ’n onderwyseres, so in die inperkingstydperk het ek aan my leerders se lesse gewerk en ook Krimineel se musiekvideo geskiet.”

WAT IS JOU BOODSKAP VIR ONS LESERS IN HIERDIE MOEILIKE TYD?
“Hou aan om jouself te verbeter terwyl jy hierdie tyd het. Maak seker dat jy die beste weergawe van jouself word.”

Oor die jare, moes Mia leer dat almal in die vermaakbedryf nie vertrou kan word nie en dat selfvertroue nodig is om ’n sukses te maak van jou talent.

Net soos Johnny Depp, glo dié musikant dat musiek emosies kan raak wat woorde nie kan nie, want dit is presies wat sy met haar eie musiek probeer bereik. Met die vrystelling van KRIMINEEL oortref sy nie net hierdie doelwit nie, maar gaan sy ook ’n hele paar nuwe musiekharte verower.

Die enkelsnit is op alle digitale platforms hier beskikbaar: 
https://distrokid.com/hyperfollow/mia8/krimineel-mia 
http://www.deezer.com/track/964904792
https://music.apple.com/za/album/krimineel/1513825146?i=1513825147

Volg haar aanlyn:
FacebookSoundCloud, Instagram (@miaartist_official) en Twitter (@MiaSangeres).

 

Comments