Hugo Truter fokus daarop om God se
koninkryk te bevorder. Gina van Staden, van Fireball Ministries, het meer gaan
uitvind oor die werk wat hy doen.
Iewers in die Namibiese bosse of langs die
lang, stowwerige paaie sal jy dalk vir Hugo Truter aantref, tent op die rug,
oppad in die nuwe rigting waarin die wind hom waai. Nes Johannes is hy ’n
swerwer met die doel om God se koninkryk te bevorder. Maar van springkane eet
wil hy niks weet...
WAAR IS JY GEBORE EN HET JY
GROOT GEWORD?
“Ek is in 1981 in Maltahohe
in Namibië gebore, maar het in die hoofstad, Windhoek, grootgeword en skool
gegaan. Ek het ook daar begin werk, waar ek na ’n paar jaar my eie besighede
begin en opgebou het, totdat ek later niks anders gedoen het as om net te werk,
werk, werk nie.”
WAAR BLY JY NOU?
“Ek bly in baie lande en ’n
duisend vlaktes. Ek het geen huis nie en ek slaap waar ook al die wind my
gewaai het daardie dag, en waar die son dan sak.”
WAS DAAR ENIGE IETS
BUITENGEWOONS AAN JOU KINDERJARE?
“Buitengewoons, nee. Uit
veertigduisend kinders sou ek seker die normaalste lewe gehad het. Alles in my
lewe was soos al die kinders in die omgewing s’n - almal was ewe ryk of ewe arm,
of het alles dieselfde gehad as volgende kind. Almal het kaalvoet in die buurt
se strate gespeel en in die velde agter die huise rondgeloop.”
WERK JY TANS? HOE OORLEEF
JY, OF EERDER, HOE MAAK JY ՚N
BESTAAN?
“Sestien jaar gelede het ek
nog al my besighede gehad, en om tyd te maak vir kerk, Bybelstudie en Evangelisasiewerk
moes ek begin afskaal het. Vanaf 2005 tot 2009 het ek eers net by skole en
hospitale gaan evangeliseer en aan die einde van 2009 was ek vir die eerste
keer Zimbabwe toe. In 2010 het ek my besighede vir drie maande gelos om evangelisasiewerk
in Zimbabwe te gaan doen, waar ek met my terugkeer moes spring om my besighede
te red. Daarna was ek terug Zimbabwe toe, toe Mosambiek en later Zambië, maar
ek moes aanmekaar bly terugkeer Namibië toe om my besighede te gaan red. Dit
was baie frustrerend.
In 2012 het ek besluit om alles
te verkoop wat ek gehad het – ook al my besittings en my erf met die huis op wat
ek self besig was om te bou (met die klippe van een van my eie besighede). Nadat
alles verkoop was het ek in verskeie Namibiese dorpe gaan evangeliseer, sendingstasies
help opbou en rond gereis. Nou werk ek nie meer nie, ek doen nie meer besigheid
nie en ek lewe op geld wat ek gespaar het. Ek het darem genoeg fondse om nog ’n
paar jaar te kan aangaan soos ek nou doen. Ek spandeer bittermin geld, het geen
uitgawes, medies, aftreeplan, versekering of skuld nie. Ek is heeltemal vry van
finansiële druk en ek lewe in vrede. As my geld eendag opraak, sal hierdie
antwoord seker verander, maar vandag is dit nie vir my ’n probleem nie.”
HET JY ROWWE BC (BEFORE
CHRIST) DAE GEHAD?
“Ja, sonder twyfel! Ek was
nie net stout nie - ek was eintlik evil. As jy iets slegs van my wil hoor, hoef
jy glad nie te diep of ver te grou nie. Die Heilige Gees doen gelukkig
wonderbaarlike werk en ek het baie verander. Ek kan natuurlik nóg verbeter - ’n
mens weet mos wat in jou eie gedagtes aangaan, en al doen jy nie ooglopende sonde
nie, gaan alles oor die toestand waarin jou hart is. Al het ek ver gekom, kan ek
nog beter doen en sal ek rus vind omdat God my help.”
WANNEER EN HOE HET JY TOT
BEKERING GEKOM?
“Ek was in 2004 in ’n nagklub
toe twee jong meisies in die donker na my toe aangestap gekom en my bevriend
het. Twee weke later het hulle my tot bekering gelei en my geleer van die
Heilige Gees (want als gaan oor die Heilige Gees). Hieruit het ek geleer dat ons
soms na die donker plekke moet gaan om die lig te gaan wees vir stukkende mense.
Voor 2004 was ek bewus van
die kerk, Jesus en van God as die Hemelse Vader, maar ek het min van die Heilige
Gees geweet. Ek het ’n paar dinge geweet soos dat Hy as tonge van vuur gemanifesteer
het en ook in die vorm van ’n duif, maar vandag weet ek dat daar hele
hoofstukke in die Bybel is wat net handel oor Heilige Gees, en dís waar ek
werklik lewendig geword het!”
WAARVOOR, EN HOE HET DIE
HERE JOU GEROEP VIR DIE BEDIENING?
“Haha, seker vir skok
terapie? Ek noem ’n graaf, ’n graaf. Vir my is alles swart of wit en ek gee
gewoonlik net Skrifte. Ek glo dat die Here my geroep het om vir mense te sê of
te wys dat dít wat daar in die Bybel staan net so gedoen moet word soos dit
geskryf is, sonder vrae en redenasies.”
BESKRYF ’N GEMIDDELDE WEEK
IN JOU LEWE?
“My weke is altyd net
lekker. Ek kamp gereeld en reis lettelik soos die wind my waai. Ek staan op
grondpaaie en gooi duim in al twee (of soms al drie) rigtings en dan
evangeliseer ek die mense sommer in hul eie karre terwyl ons saam iewers heen
ry. Dis seker van die diepste gesprekke, omdat ons eerlik kan wees en weet dat
ons mekaar waarskynlik nooit weer gaan sien nie.
Ek staan op parkeerareas met
die mooiste uitsigte (in verskillende lande) en deel Skrifte uit, lei mense tot
bekering en verwys hulle na kerke toe. As ek hulle nie self kan doop nie,
vertel ek hulle om iemand te gaan soek wat wel kan.
Ek slaap meesal in my tent,
maar in minder vreemde weke nooi mense my uit om by hulle te gaan bly, waar ek saam
met hulle eet en Bybelstudie doen. Baie mense gee my ’n bed, ’n warm stort en
lekker kos. Daar is nog baie mense op aarde met mooi harte, ál is hulle seer en
moet hul nog vir God leer ken.”
WAT IS JOU GROOTSTE PASSIE?
“Om mense te sien lag. Ek
hou van die geluid van mense wat lag. Geloofsgewys, om met mense te sit en Skrifte
te deel. As iemand my tenk wil vol maak, dan moet hulle my net toelaat om
skrifte saam met hul te lees! Ek sal enige tyd deurnag so kuier.
Die kersie op die koek vir
my is as ek kan by wees wanneer iemand gedoop word. Ek weet nie hoekom ek
soveel vreugde daaruit kry nie, maar dit maak al my opofferings die moeite
werd. Dit maak dat ek wil aanhou doen wat ek doen (hierdie werk is nie maklik
nie), want mense het seer en hulle kan byt.”
WAT WIL JY HÊ MOET DIE HERE
DEUR JOU UITRIG OP AARDE?
“As Hy maar net mense deur
my kan bedien en verligting kan bring in moeilike tye. Ek wíl mense bedien in
die areas van genesing, hoop, waarheid en die dinge wat hulle benodig, deur net
my tyd te gee.”
AS JY EEN BOODSKAP AAN BEIDE
GELOWIGES EN ONGELOWIGES KAN GEE, WAT SAL DIT WEES?
"Gehoorsaamheid aan
Jesus is die pad na die ewige lewe. Gaan lees Mattheus, Markus, Lukas en
Johannes en begin alles doen wat Jesus gesê, gewys of beveel het.
Gehoorsaamheid is ’n keuse en daaruit ontstaan ’n uitnodiging na ’n verhouding
van liefde met die Persoon wat jou die beste ken.”
WAT IS JOU DROOM/VISIE VIR
DIE TOEKOMS?
“My droom is om vinniger te
reageer as wat God praat en om vinniger gehoorsaam te wees aan die opdragte wat
in die Skrif voorkom. My visie is om aan te hou doen wat ek doen en om daagliks
getrou te wees aan my roeping, totdat God vir my nuwe deure oopmaak. Hy weet
hoe om te bou en te vermeerder en ek gee maar net alles wat ek het. Hy sal dit
self verder vat.”
HOEVEEL MENSE HET JY AL TEË
GEKOM WAT ’N EENDERSE TIPE LEEFSTYL HET AS JY?
“Nee, ek ken nie ander mal
mense soos ek nie, haha! Ek het wel al so sewe mense teë gekom wat na ander
lande reis en in tente slaap. En dan het ek seker al so dertig ontmoet wat reis,
maar weet waar hulle gaan werk en in watse area hulle sal wees vir die opeenvolgende
ses maande. Meeste mense het soos ’n sendingstasie, of ’n plek waarna hulle kan
terugkeer jaar na jaar of maand na maand. Ek ken min mense wat nie weet waar
hulle môre, of dalk vanmiddag, gaan wees nie. Ek weet self baie min dae waar ek
daardie aand gaan slaap.”
WAT IS JOU FAMILIE/VRIENDE
SE REAKSIES TEENOOR JOU LEEFSTYL?
“My broers verstaan dit nie,
maar hulle ondersteun my darem. My ouers verstaan omdat ons goeie kommunikasie
het. My vriende dink dat ek laf is, maar ek is eintlik heel normaal. Die
leefstyl toets my maar en soms raak dit moeilik. ’n Huis met ’n kar en hond en
hout heining, met ’n vrou en kinders, is verseker die grootste temptasie vir
my. Om weer ’n yskas te kan hê sal lekker wees, ag, somtyds sal selfs ’n stoof
help! Die dinge wat die lewe vergemaklik roep my gereeld. Lopende water en
elektrisiteit is ook ’n groot voorreg wat nie almal het nie!”
Hugo sê dat gelowiges moet
bid dat dat daar meer mense sal uitgaan om die evangelie te verkondig. En dat
diegene wat wel evangeliseer, nie verontmoedig sal raak nie. Die wêreld het
maar ’n manier om die mense wat regtig probeer goed doen, te beledig of te
probeer stop. As jy iemand is wat die begeerte het om alles prys te gee, soos
Hugo het, is hy nou die bewyse dat dit gedoen kán word!
Comments
Post a Comment