Jan Blohm is een van die land se mees
geliefde musiekdigters en aanhangers is in ekstase oor sy nuutste album. Ons
het meer gaan uitvind oor die storie agter sy nuutste vrystelling.
Jan Blohm, met sy
rou emosionele stem en diep lirieke, het beslis geen bekendstelling nodig in
die plaaslike musiekbedryf nie.
Dié bekroonde musiekdigter
het uit die staanspoor diep spore kom trap en het pas ’n splinternuwe album
vrygestel, waarvan die sielvolle woorde en wysies aanhangers in net soveel
vervoering sal hê as die pragtige verhaal waaroor dit gaan.
Ons het meer gaan
uitvind oor die idee agter die musiek op sy nuwe vrystelling...
VERTEL ONS MEER OOR JOU NUWE ALBUM, JENNY?
“JENNY
is ’n konseptalbum en storie wat afspeel in die konserwatiewe spoorweggemeenskap
van die dorp, De Aar. Dit speel af in die 80’s toe die grootste sonde in
daardie area was om te dans. Jenny se ouers was meer liberaal en sy en haar ma
het op Saterdagaande op die stoep gedans. Daar was ’n outjie (wat ook die storieverteller
is) wat altyd vir hulle gekyk het. Hy was smoorverlief op Jenny en wou so graag
met haar dans, maar wou haar nie tot die hel verdoem nie. Maar op die ou einde
van die dag word hulle vriende en leer sy hom toe wel dans. Toe Jenny se boetie
egter op die grens sterf en haar pa selfmoordpleeg, verlaat hulle die dorp.
Net na haar boetie se dood, het die
storieverteller vir haar briefies begin skryf om haar op te beur en dit deur
die kraak van haar muur gegooi. Sy het dit gelees, maar nooit geweet van wie af
dit is nie. Nadat sy getrek het, het hy dit aanhou doen. Iemand het dit vir
haar aanhou stuur en sy is Engeland toe waar sy ’n boek geskryf het oor hierdie
skim wat vir haar die briewe stuur en dit word toe ’n topverkoper. Die liedjie,
Nonnie, gaan dan oor die narrator wat vir Jenny ’n WhatsApp stuur en erken dat
dit hy is wat die briewe gestuur het.
Die storieverteller het nooit opgehou om lief
te wees vir Jenny nie en op die einde, kom sy terug na hom toe.”
WAT IS DIE TEMA VAN DIE ALBUM?
“Dit gaan oor liefde wat nie sterf nie... en
wanneer dit gebeur, kom dit terug na jou toe. Dis soos ’n fliek en dis veertien
liedjies wat ’n storie vertel. Ek beplan om hierdie liedjies eendag in my
fliek, Jenny, se klankbaan te gebruik.”
IS DAAR ’N BOODSKAP WAT JY GRAAG WIL OORDRA?
“Die boodskap wat ek graag wil oordra, is dat
jy nie veel nodig het as om ’n spesiale konneksie met iemand te hê nie. Mans
wil gewoonlik mooi karre en geld hê om meisies se aandag te trek, sodat hulle
nie alleen moet wees nie. Almal wil daai konneksie met iemand voel en dis
waaroor my musiek gaan.”
HOE BENADER JY JOU ALBUMS?
“Ek benader dit in vlakke. Vlak een is; dis
die enigste album waaraan ek werk. Die tweede vlak is; dis die enigste album
waaraan ek ooit gaan werk. En die derde vlak; dis die enigste album waaraan
enigiemand ooit gaan werk. Ek vat albums regtig baie ernstig op.”
Die musikant het in
die bedryf begin as lid van die rockgroepe, Demigods, Ledd Eye en Duin 7,
voordat hy in 2004 sy solo-loopbaan afgeskop het met die vrystelling van sy
eerste album, Melkstraat Confessions. Dit het nuwe lewe kom blaas in die
Afrikaanse rockbedryf en aan hom drie GMT-toekennings besorg vir Album van
die Jaar, Liedjie van die Jaar (Breyten se Brief) en Beste Nuwe Kunstenaar van die
Jaar.
Sy tweede album, ’n
Stille Runaway, is heeltemal self vervaardig en is in 2005 uitgereik. In
dieselfde jaar, het Jan ook die hoofrol gespeel in die Afrikaanse dramareeks, Dit
Wat Stom Is, waarvan hy die titelsnit – Dromer
– geskryf en gekomponeer het.
Groen Trui het kort daarna gevolg,
waarna 7 Jaar in 2009 vrygestel is en verskeie toekennings vir dié
rocker ingepalm het.
Oor die afgelope
paar jaar, het hy ’n gewilde gesig geword by die land se grootste musiekfeeste
en het hy die rede geword hoekom betekenisvolle musiek weer ’n volwaardige plek
in die bedryf
Buiten vir sy musiek, is Jan ook tans besig
om te skilder en beeldhouwerk te doen vir sy kunsgallery in die Strand.
JENNY is nou hier aanlyn beskikbaar: https://lnk.to/qWJR7gaL
Volg hom op sosiale
media:
Facebook: https://www.facebook.com/janblohmfanpage/
Instagram: @janblohm2020
Twitter: @JanBlohm
Comments
Post a Comment