Vyf minute met Pieter Marcato


Pieter Marcato sien weer uit na LEKKER TYE met sy nuwe enkelsnit! Lees verder om meer uit te vind oor die liedjie en die man agter die musiek.


LEKKER TYE uit die pen van Pieter Marcato is dié talentvolle musikant se derde enkelsnit wat pas vrygestel is.

Die liedjie volg kort op die hakke van sy vorige enkelsnit, Swipe Regs, wat vroeër in 2020 uitgereik is.

“Dit is so lekker om saam met vriende en familie te kuier. Jy vergeet vir ’n oomblik van jou probleme en van alles negatief in jou lewe. Veral in ’n tyd soos nou, voel ek dit is iets waarna almal smag, lekker tye! Als sal ok wees en weer een of ander tyd normaal wees,” sê Pieter oor sy nuwe enkelsnit.

Pieter het in Pretoria grootgeword, waar hy steeds vandag nog woon. Na skool het hy deur Damelin klankingenieurswese studeer en in hierdie tyd het sy pad met Ben van Zyl gekruis. Kort daarna het hulle besluit om saam die groep, Marcato, te begin wat vandag nog bestaan.

Hy verklap meer oor homself en die liedjie:
 
WAT WAS DIE LIEDJIE WAT JOU VERLIEF GEMAAK HET OP MUSIEK? 
The Kids Aren’t Allright van The Offspring in 2 000.”
 
WIE IS JOU GROOTSTE MUSIKALE INVLOED OF INSPIRASIE?
“The Offspring , Blink 182 en Foo Fighters.”
 
WATTER GROOT TREFFER WENS JY HET UIT JOU PEN GEKOM EN HOEKOM?
Don’t stop Believing van Journey.” 
 
WAT MAAK, VOLGENS JOU, VAN ’N LIEDJIE ’N TREFFER?
“Die hooklines van liedjies en ’n koor wat mens vinnig kan onthou.”
 
WATTER ASPEK VAN JOU MUSIEK IS VIR JOU DIE BELANGRIKSTE EN HOEKOM?
“Melodie. Want dit is wat in ’n mens se kop vas sit en ’n liedjie cathy maak.”
 
WAT IS JOU GUNSTELING-MUSIEKTOERUSTING EN INSTRUMENT?
“My Takamine akoestiese kitaar wat ek al vir so sewe jaar mee musiek maak! Die kitaar het al baie vertonings saam met my gedoen. Soos Stevie Ray Vaughan gesing het: She’s my Pride and Joy.”
 
LEKKER TYE IS JOU NUUTSTE VRYSTELLING – VERTEL ONS MEER DAARVAN?
“Ek het die liedjie aan die begin van die inperking geskryf. Ek het geweet dit gaan ’n rukkie wees voor mense weer kan kuier en tyd saam met vriende geniet. Dit het my die inspirasie gegee om LEKKER TYE te skryf.
 
Die idee het onstaan toe ek besef het ek nie meer vertonings kan doen of my vriende kan sien nie en besef het dat ek die kuiers baie gaan mis.” 
 
WIE WAS BETROKKE BY DIE OPNAME?
“Ek het die liedjie geskryf en my vrou het gehelp met so ’n paar woorde. My vervaardiger - Josh Oosthuizen van Oriison Productions - was ook betrokke by die bou van die struktuur van die liedjie.”
 
HOEKOM GAAN MENSE DAARVAN HOU?
“Ek dink dis ’n bietjie anders as waaraan die mense gewoond is in vergeklyking met my ander liedjies. Ek eksperimenteer met nuwe klanke en idees wat ek nie normaalweg doen nie.”
 
Ten spyte van sy besige skedule, het dié veelsydige ster in 2017 saam met Altus Theart (Getroud Met Rugby) en Jerry Spangenberg die alternatiewe popgroep, EON, begin. Dié groep het reeds ’n baie groot aanhang en hulle debuut-enkelsnit, Bittersoet, was dadelik ’n treffer. Ligjare, hulle eerste album, het sedertdien verskeie ander gunstelinge opgelewer en die trio is deesdae ’n bekende gesig by die meeste groot musiekfeeste in die land.

“Musiek is in alle opsigte deel van my lewe en ek is in my element wanneer ek die passie aan ander mense kan oordra – in watter vorm dit ookal mag wees. Dit is een van die dinge wat mense bymekaar kan bring en dis vir my ’n eer om deel te wees daarvan,” vertel hy oor sy loopbaan sover.

LEKKER TYE bring hoop, samesyn en is verseker ‘n treffer wat vriende en familie binnekort op die dansvloer sal herenig.

Die enkelsnit is aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://distrokid.com/hyperfollow/pietermarcato/lekker-tye

Volg hom op sosialemedia:
Facebook: https://www.facebook.com/PieterMarcato/?ref=page_internal
Instagram en Twitter: @pietermarcato

Comments