Vyf minute met SAARKIE...

SAARKIE word beskou as een van die beste rockgroepe in Suid-Afrika en met goeie rede. Vandag verklap die dames meer oor hulle nuwe musiekvideo wat pas vrygestel is.

Daar is nie ’n beter manier om die opwinding en vrolikheid van die lente te vier as met ’n opgewekte en romantiese musiekvideo deur Suid-Afrika se gunsteling rock-evas, SAARKIE, nie.

SAARKIE, wat bestaan uit Adelè Fouché, Mjön en Lila Botha, vier vanjaar hulle elfde bestaansjaar en word beskou as een van die mees suksesvolle rockgroepe in die land.

 

Hulle is bekend vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem, waaronder Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo en Groep van die Jaar. Hulle is ook ’n gereelde gesig by Suid-Afrika se grootste muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, Innibos en meer. 

 

Die meisies vertel ons meer oor hulle nuutste enkelsnit en musiekvideo, REËNWEER, wat net so lekker op die oor val soos ’n salige reënbui op die dak.

 

WAAROOR GAAN JULLE NUWE ENKELSNIT?

“Gedurende die grendeltydperk het die paaie eweskielik stil geword in die aande. Wanneer jy in jou bed lê hoor jy nie meer karre nie, maar die nag geluide en veral die reënweer. Dit was die inspirasie agter die liedjie. Almal hou van ‘cuddle’ as dit reën. Dis lekker om nader te skuif aan iemand van wie jy hou as die donker wolke nader kom.”

 

WAT MOET DIT VIR LUISTERAARS BETEKEN?

“Dit moet die gehoor neem na die eerste paar weke van afsondering, toe jy nie ’n wekker gestel het nie, toe jy na die natuur geluister het in die aande - die gedreun van die donderweer wat naderkom, en saam kos gemaak het. Al die goeie herinneringe van hierdie tyd.”

 

VERTEL ONS MEER OOR DIE MUSIEKVIDEO?

“Adelè en Mjön het met die konsep opgekom dat twee kinders die boodskap moes oordra. Dit vertel die verhaal van ’n plaasseuntjie wat elke dag hoop dat die meisie van sy drome hom sal raaksien. Alhoewel sy klaarblyklik onbewus is van sy bestaan, verloor hy nie moed nie, en neem hy elke dag sy sambreel saam skool toe... vir ingeval dit dalk reën en hy dit vir haar kan aanbied.”

 

WAAR IS DIE VIDEO VERFILM?

“SAARKIE se instrument-insetsel is deur Willem Foster by SunshineCo. in Johannesburg verfilm, terwyl Mjön die kinders op ’n grondpad in Pretoria afgeneem het en self ook verantwoordelik was vir die redigering van die video.”

 

WAT IS VOLGENDE VIR SAARKIE?

“Ons is op pad terug ateljee toe om nuwe musiek op te neem.

Die vrystelling van REËNWEER is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir SAARKIE, wat verklap dat hulle gedurende hierdie stil tyd drukbesig was met die skryf van nuwe musiek, lewendige konsertopnames en vele meer. ’n Eksklusiewe reeks Saarkie-toebehore sal ook binnekort aanlyn te koop wees. “Inperking het ons baie goed behandel. Alhoewel ’n mens soms voel dat dit nou moet end kry, is dit ’n wonderlike geleentheid om jouself weer te vind en nuwe uitdagings aan te pak,” meen die trio.

 

VOLG DIE SAARKIES OP SOSIALEMEDIA
Facebook:
https://www.facebook.com/saarkieband/

Twitter: @SaarkieBand

Instagram: @saarkieband

Webblad: www.saarkie.com

 

 

 

 

 


Comments