Swerwer is ’n splinternuwe Afrikaanse musiekgroep met ’n uitsonderlike klank, wat nuwe lewe in die Afrikaanse musiekbedryf kom blaas. Lees verder om die manne agter die musiek te ontmoet.
Swerwer, wat bestaan uit Jose Bezuidenhout en
Janes Blomerus, is ’n duo wat onlangs saam met musiek maak het. Wanneer jy na
hulle musiek luister hoor jy ’n mengsel van 80’s Afrikaanse rockmusiek, moderne
elektroniese klanke en ’n tikkie Funk en die eindresultaat is voorwaar ’n plesier
vir die oor.
Die manne is hierdie week op pad Kaap toe om hulle musiek met die res van die land te deel, maar het ’n paar minute afgeknyp vir ons om hulle beter te leerken.
VERTEL ONS MEER OOR DIE GROEP?
“Ons ken mekaar al ’n paar jaar deur feeste en vertonings. Ons
het gereeld gespot en daaroor gepraat om ’n elektroniese alternatiewe groep te
begin, omdat ons gedink het dat ons so makliker oor ons generasie se waarhede
sou kon praat. Met die Covid-inperkings het ons die tyd gekry om te sit en
iets te probeer doen. Ons het nog nie omgekyk sedert ons die eerste
bloudrukke van Swerwer gehoor het nie.”
WIE IS DIE MENSE AGTER DIE MUSIEK?
Jose Bezuidenhout: “Ek is die sanger en
kitaarspeler van die groep en kom van Pretoria af. Ek het skool gelos op
veertien en na stoute streke, het ek die kitaar gevat en nog nooit weer gelos
nie.”
Janes Blomerus: “Ek is Swerwer se baskitaarspeler
en kom van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek af. Ek self het ook al op jong
ouderdom groot verhoë volgestaan. Beide ek en Jose skryf en komponeer die groep
se musiek.”
WATTER TIPE MUSIEK MAAK JULLE EN WAT MAAK DIT UNIEK?
“Afrikaanse Elektroniese Alternatiewe Musiek. Die
aanloklikheid van Swerwer lê in die weldeurdagte lirieke en ritmes wat die
voete laat jeuk. Oorspronklik het ons gestreef vir die tydlose klank van
Afrikaanse kombuisrock, maar met twee kokke aan die roer van die Swerwer-pot,
het ons aan ’n ongewone klank geboorte gegee.”
WAARMEE IS JULLE TANS BESIG?
“Ons is tans gefokus op die opname van ons debuut-album,
waarvan die eerste enkelsnit in November vrygestel word.”
JULLE GAAN BINNEKORT TOER – VERTEL ONS WAAR LESERS NA JULLE KAN GAAN KYK?
“Swerwer voel soms soos ’n permanente sitplek op ’n
toerbus. Buide van ons geniet (en kort) die langpad. Ons volgende
roete is Weskaap toe, met vertonings vanaf 23 September tot 3 Oktober. Mense
kan luister van waar die aangename geraas kom om ons te kry, andersins is die
toerdatums ook op ons sosialemediaplatforms beskikbaar.”
WAAR HET JULLE AL ORAL OPGETREE?
“Ons het sedert die Covid-inperkings gelig is,
genadiglik ’n vol dagboek gehad met vertonings regoor die binneland. Die
inperking het ons dagboek laat lat afskop, maar ons het definitief sterk
weggespring.”
WAT IS DIE INSPIRASIE AGTER JULLE MUSIEK?
“Musikaal kyk ons dat “dansbaarheid” definitief die
skryfproses lei. Lirieke benader ons wel meer ernstig. Ons het baie om te
sê, en tot dusver wil dit lyk of daar baie mense in gehore staan wat oor
hierdie onderwerpe wil saampraat.”
WAT WAS SOVER DIE HOOGTEPUNT VAN JULLE TYD
SAAM?
Janes: “Swerwer het ’n baie wêreldse klank en dit
is redelik ’n stryd om dit wat ons in ons gedagtes hoor so naby as moontlik
neer te lê. Dit was aanvanklik ’n reuse leerproses wat ons deurgegaan het
en steeds eintlik doen. Die leerproses is definitief ’n hoogtepunt vir my. Verhoë,
ure op die pad en oornagkamers op ver plekke is wel sterk in die tweede plek.”
SAAM MET WATTER SUID-AFRIKAANSE SANGER SOU JULLE GRAAG NOG WOU SING EN HOEKOM?
“Johannes Kerkorrel.”
WIE IN DIE MUSIEKBEDRYF INSPIREER JULLE?
“Daar is te veel musiek en musikante om enkeles uit
te sonder.”
WATTER PLANNE HET JULLE VIR DIE TOEKOMS?
“Ons wil ’n nuwe klank na die tafel toe bring vir
Afrikaanse musiekluisteraars. Ons debuut-album is soos vroeër gesê ons grootste
doelwit vir die naby toekoms.”
WAT IS JULLE GUNSTELINGAANHALING OOR MUSIEK?
“Met betrekking tot die huidige situasie van ons
musiekbedryf, sê ons gereeld: “There is only one way out, that’s flat
out”.”
AS ELKEEN VAN JULLE ’N ANDER BEROEP MOES KIES, WAT SOU DIT WEES EN HOEKOM?
Janes: “Ek was oppad om ’n dominee te word as dit
tel vir iets. Dis seker ’n verhoogding.”
Jose: “Kwaliteitbeheer by ’n dansklub.”
MAAK DIE LIRIEKE OF WYSIE DIE LIEDJIE EN HOEKOM?
“Beide speel ewe veel van ’n rol. ’Mens kan nie een oorsien of half
doen nie.”
Swerwer het ’n unieke elektroniese alternatiewe klank, wat sag is op die oor en jou onwillekeurig laat saam wieg op die maat van goed-saamgestelde meesleurende wysies. Hierdie duo, wat self hulle liedjies skryf en komponeer, is nie bang om buite die konvensionele grense van Afrikaanse musiek te kuier nie en bied ’n vars aanslag in ’n mark waarin daar soms te veel van dieselfde styl en genre beskikbaar is.
Hou hulle dop, want jy gaan nog baie van hulle hoor in die toekoms.
Bly op hoogte van hulle bewegings op:
Facebook: https://www.facebook.com/SwerwerBand/
Instagram: @swerwerband
Comments
Post a Comment