Resensie: Rinél Day – Ek Het Opgestaan

Die Glansspan het Rinél se nuutste album in die posbus gekry en deel graag wat hulle hiervan dink. Lees verder om te sien of jy saamstem!

 

Deesdae is daar so baie musiek beskikbaar, dat min mense volledige albums koop of selfs deurluister. Rinél Day se nuutste vrystelling, EK HET OPGESTAAN, bewys egter dat dit wel nog die moeite werd is om sommige kunstenaars se CD’s aan te skaf.

Haar derde ateljee-album, wat sy beskryf as ’n mengsel tussen Country en Pop, is ’n bederf vir die oor. Dit bestaan uit vyftien meesleurende snitte wat wissel tussen opgewekte dansnommertjies tot meer emosionele snitte. Laasgenoemde lê haar ook heel duidelik na aan die hart, want elke noot (van elkeen van hierdie liedjies) word met hartroerende heimweë vertolk.

Alhoewel dit moeilik is om ’n gunsteling uit te sonder tussen dié knap versameling musiek, sal liedjies soos Jy’t My Gered, Our New Everything, Breek Die Mure Af en Ek Het Opgestaan beslis ’n paar keer meer deur ons geluister word, omdat ons voel dat hierdie liedjies met die hart praat en al die bestanddele bevat van wat ’n goeie treffer behoort te wees. Die 80’s-keurspel is ook goed saamgestel en sal jou voet onwillekeurig laat saamtik op die ritme van die musiek.

Die lekker ding van hierdie album is dat dit nie net die perfekte luisterstof vir die langpad is nie, maar ook net so goed werk as musiek vir die agtergrond. Rinél se stem is pragtig en skakel soomloos in by die interessante melodieë wat vir elke liedjie geskep is.

As jy hou van opgewekte musiek, wat dit regkry om direk met die hart te praat, beveel ons beslis hierdie album vir jou aan!  

 

WEN, WEN, WEN!

Een gelukkige leser kan die EK HET OPGESTAAN-album wen. Al wat jy moet doen om in te skryf, is:

*Like en deel hierdie resensie op Facebook;

*Like Rinél Day en Starburst Promotions se blaaie op Facebook;

*Tag drie vriende in die kommentaarblokkie.

 

Die wenner sal op 6 Oktober aangekondig word.

 

 

 

Comments