‘Toorbos’ is van vandag af in bioskope te sien en Gina Vorster vertel meer oor haar ervaring van hierdie fliek wat op ’n bekende boek gebaseer is.
Dalene Matthee is een van die bekendste Afrikaanse
skrywers van ons tyd en nadat haar ikoniese boek, Fiela se Kind, vir die
tweede keer baie suksesvol verfilm is in 2019, is die nuus dat Toorbos
ook verfilm sou word, met groot lof ontvang. Die film, met die talentvolle
Elani Dekker as hoofkarakter, is ’n
moet-kyk vir elke Suid-Afrikaner met ’n belangstelling in die Afrikaanse kultuur.
Vir diegene wat nog nie die boek gelees het nie:
die storie speel af tydens 1930 in die Knysna-woud. Die laaste bosbewoners, of
arm blankes soos hulle bekend gestaan het, was ’n doring in die vlees van die ryk dorpsinwoners
wat vooruitgang geskree het. Karoliena Kapp is ’n tipe Florence Nightingale in haar
gemeenskap en veg hand-en-tand vir hul tuiste om voort te kan bestaan. Johannes
Stander, ’n baie suksesvolle
sakeman en gewese bosbewoner, verskyn as haar ridder in sy wit luukse motor. As
sy net met hom kan trou, is haar en haar ma se koppe deur. Of so dink hulle...
Die vervaardiging en toneelspel kan kers opsteek
by enige van die internasionale films se standaarde. Elani Dekker skitter in
haar rol as Karoliena Kapp en die sjarme wat Stiaan Smith aan sy karakter,
Johannes Stander, verleen, sal vroueharte laat fladder. Dekker het ook ’n strawwe voorbereidingsproses ondergaan
om haar rol geloofwaardig te kon vertolk.
Die magiese woud, realistiese 1930-styl dekor en
ontwerp en geloofwaardige vertolking opsy geskuif, is daar ’n paar ander elemente wat uit hierdie
storielyn na vore kom. Vroue is beheer met patriargale ‘onderdanigheid’, die
kerk het met ’n
strakse ysterhand regeer en die gedagte van hoé ver ons al vooruit gegaan het
staar die gehoor konstant in die gesig. Selfs al was Johannes tóg anders as die
res van die mans, was hy ook in baie opsigte eenders. Hy het wel vir Karoliena
leer bestuur met sy luukse motor (in ’n tyd waar vroue nie veel regte of geleenthede
gehad het nie), maar hy het ook van haar verwag om perfek en opgetof sy getroue
dienaar te wees.
Hedendaags sou Karoliena seker ’n kampvegter vir vroueregte en
onderdruktes gewees het. Wat haar so spesiaal maak is dat sy nie gestuit het
teen onreg nie en ten alle koste haar man gestaan het. Selfs al was sy ’n bosbewoner op wie mense neergekyk het,
het sy haarself met buitengewone grasie gehandhaaf.
Toorbos is deur The Film Factory vervaardig en behoort
bo-aan elke Afrikaanssprekende persoon se lys van gunstelingfilms vir 2020 te
wees. Dis beslis die tipe film waarop ons ons kultuurstempel met trots kan
afdruk.
Kyk die lokprent hier!
Comments
Post a Comment