Die Glansspan het Juan se nuutste album in
die posbus gekry en deel graag wat hulle hiervan dink. Lees verder om te sien
of jy saamstem!
Juan Boucher se nuwe album, GEWIGLOOS, het ons regtig aangenaam verras. Dit spog met ’n outentieke pop-rockklank wat elke liedjie lekker maak om na te luister en dié vrystelling die perfekte metgesel maak vir die langpad.
Sy sewende ateljee-album, wat hy beskryf as musiek waarmee hy Afrikaans wil sterker maak, is regtig ’n bederf vir die oor. Dit bestaan uit twaalf besonderse oorspronklike liedjies wat wissel tussen opgewekte dansnommertjies tot meer emosionele en nostalgiese liefdesballades waarmee hy elkeen ’n storie wil vertel.
Alhoewel dit moeilik is om ’n gunsteling uit te sonder tussen dié knap versameling musiek, sal liedjies soos Ek Dink Ek Mis Maar Net Jou Hart, In Die Bosveld, Gewigloos en Geroeste Ysters beslis ’n paar keer meer deur ons geluister word, omdat ons voel dat hierdie liedjies al die bestanddele bevat van wat ’n goeie treffer behoort te wees.
Die lekker ding van hierdie album is dat dit nie net die perfekte luisterstof vir die langpad is nie, maar ook net so goed werk as musiek vir die agtergrond. Juan se lirieke en diep stem kry dit reg om, saam met besonderse instrumentele verwerkings, direk met die hart te praat.
As jy hou van ’n album wat ietsie van alles bevat, met musiek wat jou lank sal bybly nadat jy dit klaar geluister het, beveel ons beslis hierdie album vir jou aan!
WEN, WEN, WEN!
Een gelukkige leser kan die GEWIGLOOS-album wen. Al wat jy moet doen om in te skryf, is:
*Like en deel hierdie resensie op Facebook;
*Like Juan Boucher en Starburst Promotions se blaaie op Facebook;
*Tag drie vriende in die kommentaarblokkie.
Die wenner sal op 3 Desember aangekondig word.
Comments
Post a Comment