Kaalgat Karel, die splinternuwe romantiese komedie wat in
Februarie 2020 in plaaslike bioskope begin draai, beloof om jou nie net te laat
skaterlag nie, maar ook om jou hart te raak. Loki Rothman vertel meer oor die
temalied wat perfek pas by die gevoel van die fliek.
Altyd op Vakansie is die temalied van die fliek, Kaalgat
Karel, wat vroeg volgende jaar in bioskope gaan wees.
Dit vertel die verhaal van ’n kaalnaeler,
Karel (Francois Jacobs), wat halsoorkop verlief raak op ’n pligsgetroue
paramedikus, Rita (Christia Visser), wat sy bas red nadat sy mannewales skeefloop,
maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen
belangstelling het in sy bedrywighede nie.
Dié skreeusnaakse rolprent se amptelike lokprent is ook pas verlede
Donderdag bekendgestel en beloof om meer insae te gee oor wat kykers kan
verwag.
Kyk die lokprent hier!
Loki Rothman was verantwoordelik vir die
klankbaan van die fliek en het saam met Jack Parow aan die temalied gewerk. Hy
vertel ons meer oor die proses daaragter.
WAAROOR
GAAN ALTYD OP VAKANSIE?
“Dit
handel oor ’n karakter, met die naam Karel, van die film Kaalgat Karel
wat nooit wil grootword nie. Hy wil net kuier vir die res van sy lewe en ’n
goeie tyd hê met niks verantwoordelikheid nie.”
WAT
IS DIE INSPIRASIE AGTER DIE LIEDJIE?
“Ek
het die hele klankbaan gekomponeer vir die rolprent en hulle het ’n temalied
gesoek vir een van die tonele. Ek het toe voorgestel dat ons vir Jack Parow vra,
aangesien ek baie van te vore saam met hom gewerk het en hy die regte skrywer
was om die karakter vas te vang.”
HOEKOM
DINK JY PAS DIT GOED BY DIE FLIEK?
“Die
liedjie pas goed omdat dit spesifiek geskryf is vir die hoofkarakter,
Karel. Dit skep ’n partytjie- of vakansieatmosfeer. Dit laat jou goed voel,
net soos die film en het ook baie komedie in die lirieke.”
WAT
BETEKEN DIT VIR JOU DAT HULLE JOU GENADER HET OM MET HIERDIE PROJEK TE HELP?
“Ek
is dankbaar vir elke rolprent waarvan ek die musiek kan komponeer of die
temalied kan skryf. Ek voel al dat ek, as musikant, ook ’n plekkie in die filmbedryf
het wat baie tyd en harde werk verg om reg te kry. Ek is trots dat mense my kan
vertrou om hulle fliek of werk vlerke te gee deur musiek by dit te sit en by te
dra tot die volle eindproduk.”
HOE
HET JY BETROKKE GERAAK BY DIE PROJEK?
“Kaalgat
Karel se redigeerder, Eva du Preez, het my voorgestel om die volle
klankbaan te komponeer en ek het toe vir Zander (Jack Parow) genader om die
temalied te help skryf.”
HOEKOM
DINK JULLE GAAN MENSE BY DIE LIEDJIE AANKLANK VIND?
“Ek
dink dit is ’n lekker partytjieliedjie. Dit gee jou ’n vakansiegevoel en as jy ’n
student is met geen bekommernisse nie, is hierdie ’n goeie klankbaan vir jou
lewe.”
DAAR
IS OOK ’N MUSIEKVIDEO, VERTEL ONS MEER DAARVAN?
“Die
musiekvideo is saamgestel uit tonele uit die fliek, maar ek en Jack Parow is
ook daarin en word wakker na ’n rowwe aand se kuier. Ons maak ontbyt, braai en
dan party ons weer van vooraf.”
WAAR
KOM DIE IDEE VANDAAN EN WAT IS DIE BOODSKAP?
“Ons
wil mense aanmoedig om op te hou stres en ’n goeie tyd te hê. Môre is môre se worries.”
Loki Rothman is ’n Suid-Afrikaanse musikant en komponis. Hy het
reeds verskeie genres op die kitaar bemeester, het ’n aangrypende stem en skep
die pragtigste stories met sy oorspronklike lirieke.
Loki se loopbaan het amptelik vlam gevat
nadat hy in die top ses van die eerste seisoen van SA’s Got Talent geëindig het. Hy het verder ook al die wêreld vol
gereis as Jack Parow se kitaarspeler, saam met kunstenaars soos Die
Antwoord en Toya
Delazy gewerk en besit ook sy eie musiekskool.
Die kunstenaar het in 2015 twee topklas
albums uitgereik, wat sy veelsydigheid as musikant perfek ten toon stel – sy
debuutalbum, The Way Back, en sy instrumentele DVD, Syndactyly.
Verder is hy ook ’n briljante komponis, wat
klankbane geskep het vir verskeie plaaslike rolprente, waaronder Jou Romeo,
Kaalgat Karel en vele meer.
Kaalgat Karel is vervaardig word deur Boondogle Films se Paul Egan en
Meg Rickards (wat ook die regisseur is) en is vanaf 12 Februarie 2021 in
plaaslike bioskope te sien. Moet dit nie mis nie!
Comments
Post a Comment