Stiaan Smith speel
die manlike hoofrol in die rolprentweergawe van Dalene Matthee se Toorbos,
wat pas begin draai het. Ons het meer gaan uitvind oor sy karakter en die man
agter die akteur.
Toorbos vertel die verhaal van Karoliena (Elani
Dekker), ’n pragtige jong vrou wat vasgevang is tussen haar liefde vir die
Knysna bos en die man waarmee sy getroud is.
Die fliek, wat
deur The Film Factory vervaardig is, het pas in plaaslike bioskope begin wys en
word baie goed ontvang.
Ons het
agter-die-skerms met Stiaan Smith, wat die manlike hoofrol speel, gaan gesels
oor sy rol en ook meer oor hom uitgevind.
HOEKOM WOU JY
GRAAG HIERDIE ROL SPEEL?
“Soos gewoonlik
is die rede agter hoekom ek enigiets doen, ’n vrou... en in hierdie geval drie
talentvolle dames. Ek kon nie die geleentheid laat verbygaan om
teenoor Elani Dekker te speel nie en ek was net so opgewonde om saam
met regisseur René van Rooyen te werk. Daarmee saam is ek ’n baie groot
aanhanger van Dalene Matthee se stories, en as akteur gryp mens die geleentheid
aan om een van haar karakters te vertolk.”
HOE HET JY
VOORBEREI VIR DIE ROL?
“Daar was
eerstens ’n fisieke aspek wat ek op moes fokus en inoefen - Johannes se
spraakpatrone en postuur is baie meer statig as my eie! En dan, soos met enige
teks, was dit vir my belangrik om die karakter se emosionele reis te verstaan
en om te kan vereenselwig met die dinge wat hom motiveer.”
WAT WAS DIE
GROOTSTE UITDAGINGS VERBONDE AAN DIE VERTOLKING VAN DIE ROL?
“Die groot
uitdaging is wanneer daar negatiewe aspekte van ’n karakter is wat jy ook moet
verstaan en toelaat - soos byvoorbeeld Johannes se oortuiging aan die begin dat
vrouens moet onderdanig wees en te alle tye moet doen wat hulle mans sê, asook
sy bereidwilligheid om dit af te dwing. Om so ’n karakter geloofwaardig te
vertolk, is dit belangrik om die moeite te doen om te verstaan waar so iemand
vandaan kom, en ’n punt te bereik waar mens nog steeds simpatie met die
karakter het sonder om die karakter te oordeel.”
VERTEL ONS MEER
VAN DIE KARAKTER WAT JY SPEEL?
“Johannes is ’n
prominente besigheidsman van Knysna, gedurende die 1930’s. Hy het
grootgeword in die bos, maar het daarin geslaag om homself los te maak
daarvan en homself vry te maak van die armoede. Wanneer hy vir Karoliena vra om
te trou, glo hy dat hy vir haar verlossing bring deur haar ook die geleentheid
te bied om weg te kom van die arm boswêreld. Hy is blind vir die magiese
krag wat die bos inhou, iets wat Karoliena raaksien en juis so lief maak vir
die bos.”
HOE WAS DIT OM
SAAM MET ELANI DEKKER TE WERK EN WAT HET JY BY HAAR GELEER?
“Ons het baie
pret gehad op stel en van die eerste dag af regtig lekker saam gelag. Wat die
verfilming betref, Elani is intimiderend talentvol, en dit voel altyd vir
my asof sy ’n aanvoeling vir toneelspel het wat mens in dertig leeftye nie met
woorde aan iemand sal kan oordra nie. So sy het my regtig op my tone
gehou. Sy sal nooit toelaat dat ’n lyn net opgesê word sonder dat sy dit glo
nie... elke take is vars en speel sy vanuit wat die oomblik nou vir haar
gee. Dit het my gedwing om in die oomblik te wees en saam te speel. Sy het my ook
weer herhinner hoe belangrik dit is om op te hou dink wanneer die kamera begin
rol, en net te luister.”
HOEKOM MOET SUID-AFRIKA
DIE FLIEK KYK?
“Ek is baie trots
op hierdie film. Ek dink René het werklik geslaag daarin om die siel
van Dalene Matthee se storie oor te dra op skerm.
Dan is die temas
van die storie nogsteeds relevant vandag. Toorbos is ’n pragtige
aanslag op die baie relevante kwessie van geslagsgelykheid. Johannes
en Karoliena se verhouding speel af in ’n wêreld waar die man nog definitief
die baas van die verhouding is. En ten spyte van die feit dat dit vandag ’n
baie meer subtiele dinamika is, bestaan daai wanbalans van mag nogsteeds
in verhoudings. Wat die storie vir my so relevant maak, is om te sien hoe ’n
karakter soos Karoliena, wat groot teenstand ervaar rakende beide haar geslag-
en klasseverskil, die uitdaging aanpak om daai hindernisse te
oorkom.
En gelyktydig
forseer die film jou ook om die magiese krag van die natuur te ervaar en
te besef, as jy dalk vergeet het, hoe waardevol dit is om ’n gesonde konneksie
met moederaarde te handhaaf.”
VERTEL ONS MEER
VAN JOUSELF...
“Ek is in Pretoria
en het in Nelspruit – in die Wildtuin – grootgeword.
Ek wou altyd deel
wees van die toneelbedryf en was van skool af betrokke by ’n buitemuurse
dramageselskap waar ons toneelstukke opgevoer het. Van daar af, het ek gaan Drama
swot en uiteindelik begin stories skryf ook, wat my die geleenthede gebied
het om op die ou end genoeg blootstelling te kry as akteur.”
WIE IS JOU
ROLMODELLE?
“Roger Federer,
Alan Watts en Nick Miller.”
WAARMEE IS JY
TANS BESIG EN WAT IS JOU PLANNE VIR DIE TOEKOMS?
“Ek vat op die
oomblik ’n breek van enige projekte van my eie. Maar ek werk wel as ’n skrywer
vir die kykNET-sepie, Getroud Met Rugby. My enigste plan vir die toekoms
is om meer te reis, in en buite Suid-Afrika.”
WAT IS JOU
BOODSKAP VIR SA GEDURENDE HIERDIE MOEILIKE TYD?
“Eet jou groente,
doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, en stem vir Rassie.”
Foto: Fathom
Media
Comments
Post a Comment