EKSKLUSIEF! Agter-die-skerms van Rinél Day se nuwe musiekvideo!

 


GLANS het agter-die-skerms gaan kuier by die opname van Rinél Day se nuutste

musiekvideo wat op 1 Februarie 2021 bekendgestel word.


Rinél Day was nog nooit bang om kanse te waag en grense te verskuif met haar musiek nie en haar nuutste musiekvideo getuig beslis hiervan.

Dié video van haar nuutste radiotreffer, Breek Die Mure Af, word op 1 Februarie 2021 vrygestel en gaan beslis bewonderaars se aandag trek.

Met hierdie prettige tong-in-die-kies-video, wat spog met drie aantreklike manne (John Owens, Phillip Hearn en Aubrey Pieterse) saam met haar in die hoofrol wys sy dat dit nie net okay is vir Evas om leiding te neem nie, maar dat hardwerkende vroue ook geregtig is op hulle eie sprokiesverhaal.

“Die idee was om uit te beeld dat hardwerkende vrouens ook ’n sprokiesverhaal kan hê. Min het ek geweet dat ek self ook soveel innerlike mure sou afbreek tydens die skiet van die video. Ek is uit my gemaksone gehaal en het myself op ’n ander vlak leerken,” sê sy.

Soos met haar vorige musiekvideo’s, het die Coolerbox Brothers ook die regie en produksie van hierdie een hanteer. Dit is by ’n vriend van haar, Chris da Silva, se huis in Bedfordview verfilm en dit het perfek gepas by die gevoel wat sy graag in die video wou skep.

Breek Die Mure Af is ’n voetstamplekker popsnit – uit die pen van Werner Beukes, Johan Brummer (Fatman) en Marius Strydom – wat in die voetspore volg van haar vorige enkelsnit en musiekvideo, Ek Het Opgestaan, wat baie goed ontvang is en bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het. Beide liedjies is beskikbaar op haar nuwe album.

Rinél – wat bekend is vir treffers soos Dit Staan in die Sterre, Ligjare Weg, Een Somersaand, DJ Speel Dit Weer, Geluk – is in Vryheid gebore en het hoofsaaklik in Richardsbaai en Swartruggens grootgeword. Sy is verloof aan die liefde van haar lewe, Shaun Walker, en is al vir meer as ’n dekade lank doenig in die musiekbedryf.

Dié lewenslustige brunet is tans drukbesig om aan haar eie sprokiestroue te beplan en inhoud te skep vir haar blog, My Millennial Blog, waarin sy raad gee oor hoe om mooi te lyk op ’n beperkte begroting.

Onthou om Maandag op Rinél se sosiale media platforms te loer om haar nuwe musiekvideo te sien.

Volg haar hier...

Facebook: www.facebook.com/rineldayoffisieel

Instagram: @ekisrinelday

Twitter: @ekisrinelday

Webblad: www.rinel.co.za

 

Foto’s: Verskaf


Comments