Glansresensie: Vlugtig

Gina Vorster het onlangs die voorreg gehad om die nuwe fliek, Vlugtig, te kyk. Lees verder om meer uit te vind oor dié prent wat kan kers vashou by internasionale produksies.

Elke nou-en-dan herinner plaaslike filmmakers en akteurs ons daaraan dat Suid-Afrika lank al nie meer hoef terug te staan teen internasionale produksies nie. Vlugtig is só ’n produksie: vanaf die storielyn regdeur tot by die verfilming.

Die film begin met ’n amperse jammergat, Simon Berg (Arno Greeff). Sommige mense mag hom dalk beleef as sag, maar hy kom meer voor as ’n ou wat net nie ’n break kan kry nie en depressief begin raak as gevolg daarvan. Kykers mag moontlik baie met sy karakter vereenselwig, omdat die druk van die wêreld tans so swaar op almal se skouers weeg.

Skielik kry Simon ’n geleentheid om sy loopbaan (en sy lewe) te verander: sy rolmodel en befaamde teater-regisseur, Andreas Vog (Ernst van Wyk), bied hom ’n rol aan in sy weergawe van Rooikappie! Hy het gehoop dat die rol sy lewe sou verander, en dit het, maar net nie heeltemal op die manier wat hy in gedagte gehad het nie...

Wanneer hy by die houthuisie in die woud aankom waar hulle moet voorberei, verloop dinge nog rustig. Simon ontmoet sy mede-ster, Chantel Opperman (Jane de Wet), maar nie lank daarna nie, begin Andreas hom stief behandel.

Die manier waarop Andreas vir Simon behandel, herinner jou aan hoe Mister Miyagi vir Daniel-Son in die Karate Kid-films opgelei het. Andreas soek die wolf in Simon, maar Simon is meer soos ’n babahondjie met sy stert tussen die bene.

Andreas se maniere is wel iets om oor te frons, maar die kyker wat dieper kyk, sal sien hoe dit vir Simon eintlik aanspoor om te sê: “Genoeg is genoeg”.

Natuurlik gaan ons nie weggee wat die breekpunt vir Simon is nie – kykers gaan dit self moet uitvind! Wat ons wel kan sê is dat Andreas daarin slaag om die wolf uit die mak Simon te kry.

Die punt wat uiteindelik gemaak word, is dat Simon sy stem en sy moed vind en as gevolg daarvan kan deur druk en die rol van Wolf geloofwaardig vertolk in Andreas se produksie. Al was die pad na hierdie nuwe innerlike krag met dorings besaai, het Simon tóg gegroei en ’n sterker mens aan die ander kant uitgekom.

Kykers sal nie spyt wees as hulle hierdie film gaan kyk nie, want dit is ‘anders’ en vars.

Die rolprent word tans by die tiende jaarlikse kykNET Silwerskermfees vertoon en sal ook vanaf 25 Maart 2022 op BoxOffice te sien wees. 

Foto: Werner Botha


Comments