Die mensdom is nie altyd goed vir die natuur nie. In GAIA ondersoek
rolprentmakers wat sal gebeur as die aarde terugveg teen ons aanslae. Gina
Vorster vertel meer oor dié aangrypende prent.
GAIA is ʼn multi-bekroonde en trots Suid-Afrikaanse gruwelfilm wat kykers laat met die volgende vraag: hoé erg het die menslike spesie al die aarde beskadig en wat sal gebeur as Moeder Aarde eendag besluit dat genoeg nou genóég is?
Visueel kan hierdie film kompeteer met enige internasionale produksie. Plek-plek vergeet ʼn mens amper dat dit plaaslik verfilm is en nie iewers in die Amasone nie. (En dan kom die besef net weer dat ons werklik in ʼn land van melk en heuning bly.)
Die storielyn begin met twee wildbewaarders wat hulle rondtes doen in die woud, en dis waar die drama begin ontvou. Gabi (Monique Rockman) doen ʼn besering op en beland in ʼn houthuisie waar sy huiwerig versorg word deur twee van die woud se inwoners. Barend (Carel Nel), die pa, en Stefan (Alex van Dyk), sy seun, is vreemde karakters met ʼn amperse kultiese geloof, wat veroorsaak dat Barend nie baie beïndruk is met Gabi en haar moderne maniertjies nie.
Gabi begin snaakse drome kry waarin allerlei natuurvergroeisels in en uit haar liggaam groei, totdat sy eendag wakker word en sien dat daar werklik iets besig is om uit haar vel te groei. Dis ʼn virus – en sy kom vinnig agter waartoe hierdie virus in staat is toe die houthuisie een aand deur ʼn onwelkome en grillerige sampioenagtige mannetjie besoek word.
Winston (Anthony Oseyemi) was nie so gelukkig om die virus so ver te kon ontduik soos sy kollega Gabi nie en is eventueel deurtrek daarvan. Sy reis deur die woud word beëindig met ʼn gruweltoneel.
ʼn Baie
besonderse boom (wat dié twee mans se god uitbeeld) is die sleutel tot Barend
en Stefan se gesondheid. Offergawes word gemaak om lewendig te bly en
uiteindelik word die grootste offer van almal gevra - ʼn tipe Abrahamitiese
versoek wat die boom-god stel: Barend moet sy seun se bloed stort.
Die film se storielyn laat kykers dieper dink as die voorlangse simboliek, die visuele impak hou die oë vasgenael op die skerm en in verwondering oor die talent van die grimeerkunstenaar wat die tonele so oortuigend laat voorkom.
GAIA is ʼn film wat kykers sal geniet want elkeen kan dit op hulle eie manier interpreteer, maar die boodskap lui tog universieël: Die natuur kreun en Moeder Aarde raak kwaad.
GAIA
word vandag, 22 April 2022, vrygestel op BoxOffice. Moet dit nie mis nie!
Volg dié film ook op Facebook.
Comments
Post a Comment