Ons gesels "Vlugtig" met Jane de Wet

 


Jane de Wet is tans te sien as Chantel Odendaal in die film, Vlugtig, wat nou op DSTV BoxOffice te sien is. Gina Vorster het meer gaan uitvind oor die mens agter dié talentvolle aktrise.  


Vlugtig is baie uit-die-boks en beslis iets wat kykers sal laat dink. Ons het in Jane se kop gaan krap om meer te hoor oor die film, sowel as haar besonderse menswees.

VERTEL ONS KORTLIKS WIE JY IS EN WAT JOU LAAT TICK?

“Ek is 'n aktrise, storieverteller, avonturier en idealis. Ek glo as jou drome jou nie bang maak nie, is hulle nie groot genoeg nie. My missie in die lewe is om alles te wees wat God my bestem het om te wees, om onvoorwaardelik lief te hê, empaties en líg te leef en om elke hoek van hierdie wêreld te besoek.

Films soos Vlugtig en die stellewe laat my tick, asook om tyd in die natuur te spandeer, of gesprekke met mense wat my stimuleer, uitdaag en groei.”

WAT HET JOU LAAT BESLUIT OM 'N AKTRISE TE WORD?

”Wanneer iets 'n roeping is, is daar 'n komponent van vrye wil wat eintlik so half ellimineer word. Dis 'n saadjie wat in jou DNS geplant is nog voor jou geboorte en alles in jou wese vibreer wanneer jy in aanraking kom met stimuli wat daardie saadjie water gee.

As kind het my hart vinniger begin klop wanneer ek films of televisie gekyk het. Toe ek op 7-jarige ouderdom vir die eerste keer op 'n verhoog geklim het, het dit gevoel asof ek vlieg. Ek kan nóú die gevoel verwoord as ekstase of euforia, maar in die woordeskat van 'n kind, het dit meer geklink soos: "Mamma, dis al wat ek vir die res van my lewe wil doen”.

WATTER DEEL VAN JOU WERK GENIET JY DIE MEESTE?

“Ek geniet die psigologiese aspek van wat ek doen. Om iemand se storie met eerlikheid en deernis te kan vertel, moet jy die karakter kan verstaan. Ek kan ure spandeer aan die studie van menslike gedrag en die psige. Wat laat my karakter tick? Waarvoor is sy bang; wat motiveer haar; hoe loop sy; wie is haar rolmodel; wie is haar vriende; het sy baie geld; is dit ou geld of nuwe geld; is sy 'n denker of 'n voeler; regter- of linkerbrein; hoe lyk haar waardestelsel - wie ís sy? Ek geniet ook die novelty aspek van my werk: die feit dat elke projek anders is - nuwe uitdagings, geleenthede, plekke, stories en mense.”

WAT BETEKEN DIE ROL VAN ROOIKAPPIE IN VLUGTIG, OFTEWEL CHANTEL, VIR JOU?

“Dit was vir my heerlik om iemand van my eie ouderdom te speel, wat boonop self ook 'n aktrise is! Om 'n storie binne-in 'n storie te vertel - elk met sy eie intriges en tog met oorvleuelende elemente - was 'n baie interessante uitdaging. Jy speel so half met drie werklikhede gelyktydig.”

WAS DIT UITDAGEND OM HIERDIE ROL TE VERTOLK? HOEKOM?

“Ek sal nie sommer 'n rol aanvaar wat my nié op die een of ander manier uitdaag nie. Dit was vir my uitdagend om 'n karakter te speel wat gewillig is om in die grys-sone te funksioneer. Chantel huiwer nie om Andreas se bondgenoot te wees in sy boosaardige skemas om Simon te transformeer nie. Sy is gewillig om enige iets te doen om die sukses van die toneelstuk te verseker. Haar ambisie en loopbaansgeoriënteerde houding domineer haar besluitneming.

Ek moes hard werk om haar nie te oordeel nie. Ek het al baie in my lewe ‘Rooikappie’ gespeel - die jong, onskuldige karakter wat onmiddelik die gehoor se simpatie wen. Die karakter van Chantel was vir my 'n uitskieter.”

WATTER DEEL VAN VLUGTIG JY DIE MEESTE GENIET?

“Dit was heerlik om met 'n klein geselskap en span te werk, in die mooiste-mooi ligging: Magoebaskloof. 'n Kleiner span bied dikwels die geleentheid om mekaar werklik te leer ken en chemistry op te bou. Ek dink ons was almal ook net lekker uitgehonger om weer te kon werk na maande van inperking - dit was 'n voorreg om weer die kreatiewe spiere te oefen.”

WAT HOOP JY SAL DIE KYKERS SAL WEGNEEM UIT DIE FILM?

“Enige swaarkry kan konstruktief wees as jy weet hoe om die waarde daaruit te ontgin. Soos Oprah Winfrey gesê het: "Turn your wounds into wisdom". Soms is dit in die diepste, donkerste gat, waar jy jou ware krag en mag ontdek.”

VERTEL ONS IETS VAN DIE FILM WAT NIEMAND WEET NIE?

“Ons was basies die heeltyd op night shoots, wat beteken dat ons van 5pm tot 5am geskiet het. (My liggaamsklok het totaal gewanfunksioneer!) Boonop was ek siek met 'n maagvirus vir een uit die twee weke wat ons geskiet het, so op 'n fisiologiese vlak was die verfilming 'n bietjie van 'n riller. Gelukkig is Arno Greef en Ersnt van Wyk bekend vir hulle gereelde en flou grappies, so die gemoed en moraal was darem altyd hoog!”

Aanhangers kan vir Jane volg en op hoogte bly van die nuutste nuus oor al haar kreatiewe projekte op Instagram en Facebook. Sy is beslis 'n aktrise om dop te hou. Maak seker dat jy haar nie misloop in Vlugtig nie. 

Comments