Gina Vorster gesels met GAIA se Carel Nel oor sy rol in dié fliek en om
die man agter die akteur beter te leer ken.
Carel Nel is tans te sien in die gedagteprikkelende film, GAIA, waar hy die rol van Barend vertolk. Ons het hom ʼn paar vrae gevra om meer uit te vind oor sy ervaring gedurende hierdie baie interessante film en verfilmingsproses.
VERTEL
ONS MEER VAN JOUSELF?
“Ek is gebore in Bloemfontein, waar ek ook groot geword het. By die universiteit van die Vrystaat het ek Drama geswot, waarna ek na Kaapstad verhuis het en sedertdien woon. Ek is getroud met Cintaine Schutte.”
WAT
HET JOU AANGETREK TOT DIE ROL VAN BAREND?
“Die span mense wat saamgestel was vir die projek, was vir my ʼn groot aantrekking. Ek is ʼn aanhanger van Tertius, Jaco en Jorrie se werk, asook die gesprekke rondom Barend wat ons gehad het.”
WAT
BETEKEN HIERDIE FILM VIR JOU?
“Persoonlik hou ek daarvan a.g.v. die temas en vrae wat GAIA aan die gehoor stel. Daar is vrae soos: ‘Wat doen ons as mense aan die wêreld?,’ en ‘Hoe ver sal jy gaan vir jou geloof?’. Dit is interessante idees om mee te werk en aan lewe te gee. Dis nie oppervlakkig nie en daag jou as gehoorlid uit.”
WAT
WAS DIE GROOTSTE UITDAGING VAN DIE ROL?
“Die grootste uitdaging was om Barend se geloof oortuigend en uniek te maak. Daar is nie ʼn teksboek of ʼn Bybel daarvoor nie, so dit was baie belangrik vir my om dit geloofwaardig te vertolk en dit ernstig op te neem.”
WAT
WAS DIE GROOTSTE UITDAGING VAN DIE VERFILMING?
“Ek sou sê die natuur self. Ons het in die woud geskiet en dit was baie harde werk vir almal. Dis asof ʼn mens amper met die natuur moes baklei. Dit was koud en nat daar was insekte. So ja, dit was nie maklik gewees nie, maar tog heerlik.”
WAT
HET JY DIE MEESTE GENIET UIT DIE HELE PRODUKSIE?
“Ek sou sê die sukses wat die film oorsee behaal het. Dit is vir my amazing dat almal wat so hard hieraan gewerk het die erkenning daarvoor op internasionale vlak kon kry.”
WAS
DAAR ENIGE DRAMATIESE GEBEURTENISSE AGTER DIE SKERMS?
“Behalwe vir almal wat heeltyd geval en gegly het in die modder, was dit maar net harde werk!”
HOE
DINK JY VERGELYK HEDENDAAGSE SUID-AFRIKAANSE FILMS TEEN INTERNASIONALE FILMS?
“Ek dink dat GAIA, Barakat, Indemnity en talle ander films die afgelope paar jaar bewys het dat ons die vermoë het om met enige ander film industrie in die wêreld kan kompeteer. Ons het ongelooflike talent voor- en agter die skerms en ek hoop regtig dat ons net sal aanhou om nuwe hoogtes te bereik.”
HOE
HET JY GEWEET DAT JY EENDAG ʼn AKTEUR WOU WORD?
“Ek was in ʼn baie sportiewe skool, maar was nooit self regtig sportief nie. In graad 11 het ons skool deel geneem aan ʼn toneelkompetisie waarin ek die beste akteur-titel gewen het, en daar het ek toe besef dat dit iets is waarin ek heel goed is. Van daardie punt af het die gogga my gebyt.”
AS
JY NIE ʼn AKTEUR WAS NIE, WAT ANDERS SOU JY WEES?
“Ek het eers L.L.B. geswot vir ʼn jaar voordat ek met drama begin het, so seker maar ʼn prokureur.”
Moet
nie die geleentheid misloop om hierdie film te sien wat elke kyker met ʼn paar
kopkrap-vrae sal laat nie. GAIA is nou op DSTV
BoxOffice te sien, sowel as aanlyn: https://now.dstv.com/catchup/movie/99364.
Comments
Post a Comment