Die woord “huis” beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Vir sommiges is dit bloot die plek waar hulle woon, maar vir ander het dit ’n dieper betekenis en verteenwoordig dit ’n plek waar hulle tuis voel en aanvaar word vir wie en wat hulle is.
Ongeag van waar jy vandaan kom of waarheen jy op pad is, het jy jou eie idee van wat jou huis is en dit is wat Frikkie van Biljon ondersoek in sy nuutste enkelsnit. HUIS, wat die sanger saam met Paul Venter en Jolanda Becker geskep het, vra die luisteraar waar hy of sy tuis voel.
HUIS word môre op alle digitale platforms en radiostasies vrygestel. Hou die sanger se blad dop vir meer inligting!
Alhoewel Frikkie nog relatief nuut is in die musiekbedryf, is hy al sy hele lewe lank met musiek doenig. Hy is in Klerksdorp gebore en het op vyf sy eerste solo-optrede gedoen. In die laerskool het hy ’n talentkompetisie gewen, maar kon nie gebruik maak van die prys (’n platekontrak) nie omdat sy gesin moes verhuis. Hy het egter aanhou sing en vir kunstenaars soos Jannie du Toit, Christa Steyn, Rina Hugo en Steve Hofmeyr geopen toe hy nog op skool was. Op universiteit het hy sy passie voortgesit en gehelp met die regie, skryf en beplanning verskeie konserte en musiekproduksies.
Nadat hy sy studies voltooi het, het hy vir ’n rukkie lank sy musiekdroom op ys gesit. Dit het egter weer in 2017 vlam gevat en sedertdien het hy al vyf enkelsnitte – Altyd By My, Elke Tree, Hofnar, Elke Stukkie Kaap, In Die Oomblik – asook drie Kersfeesliedjies uitgereik. In 2018 het hy ook sy eerste kortspeelplaat, Dis Wie Ek Is, vrygestel.
Buiten vir musiek, geniet hierdie pa van vier en voltydse rekenaarprogrammeerder ook die eenvoudiger dinge in die lewe soos om brood te bak en ’n groentetuin te hê. Hy is ook konstant opsoek na nuwe geleenthede om musiek te maak en beplan om heelwat lewendige optredes te doen vir die res van die jaar.
’n Musiekvideo vir HUIS sal ook binnekort op die kassie te sien wees.
Publisiteitsfoto’s
is geneem deur Anton Ras Photography
Comments
Post a Comment