5 minute met Cordelia

 


Cordelia is ’n gewilde sangeres met talle treffers op haar kerfstok. Ons het die vrou agter die musiek beter gaan leer ken.


Cordelia trap al sedert 2015 diep spore in die plaaslike musiekbedryf en nou is sy terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit, ANKER, waarmee sy hoop wil bring vir diegene wat geliefdes verloor het.

Ons het saam met haar gekuier en deel die antwoord van vyf vrae met jou wat ons vir haar gevra het om haar beter te leer ken.

1. WIE IS DIE VROU AGTER DIE MUSIEK?

“Ek is net ’n gewone mens wat al heelwat uitdagings in die lewe ervaar het. Ek het groot geword in ’n klein dorpie met die naam Fochville, waar my aanneemouers my grootgemaak het vandat ek ses maande oud is. Ek Glo vas dat God het ’n groot plan met my gehad het om my as aangenome kind ’n kans te kon gee om in ’n liefdevolle ouerhuis te kon groot word. My liefde vir musiek kom verseker van my Pa Louis af, wat self baie lief was vir kitaar speel en sing. Ongelukkig is hy in ’n tref-en-trap-ongeluk oorlede toe ek nog op skool was. Dit was en is nog ’n groot uitdaging, maar ek glo dat my verhaal se grondslag vergifnis is en om net in liefde te leef. Ek woon tans in Pretoria saam my verloofde en ons vyfjarige seuntjie.”

2. AS JY ENIGE ANDER BEROEP MOES KIES, WAT SOU DIT WEES EN HOEKOM?
“Ek sou graag enige beroep wou aanpak om kinders en diere se lewens te verander en te red.”

3. WAT WEET MIN MENSE VAN JOU?

“Dat ek mal is oor spoed en hoogtes.”

4. MET WAT IS JY TANS ALLES BESIG?

Ek is besig met “Vrouwees is ’n fees” en “Ma en dogter glans-aande/ -oggende”. Verder is ek ’n mamma vir my vyfjarige seuntjie en probeer ek om soveel tyd saam met hom deur te bring. Omdat ek binnekort trou, is ek ook bedrywig met troureëlings en werk ek aan nog musiek wat ek graag binnekort met almal wil deel.”

5. VERTEL ONS MEER OOR DIE JOU NUWE ENKELSNIT...

“Rudi Claase ken my hart goed en stap al jare ’n pad saam met my. Ek wil altyd net deur my musiek hoop bring en ’n verskil maak. Hy het ANKER vir my geskryf omdat dit is wat ek graag vir ander wil wees. Ek dra dit op aan almal wat naby aan my was wat ek al aan die dood moes afstaan en hoop dat die lied sal hoop bring in moeilike tye.”

ANKER is vanaf 16 September op alle digitale platforms beskikbaar. Hou gerus haar Facebook-blad en die nuus dop vir meer hieroor.


Comments