Plantjies vir Kersfees!

 

Gee hierdie Kersfees ’n unieke geskenk waarvan almal sal hou. Melissa Schutte vertel jou meer oor die voordele van platjies as Kersgeskenke.

Desember is hier, die lug is warm en die Afrika-son fel. Maar daarmee saam, is die opwinding van die feesseisoen in volle swang.

Die vakansies is al beplan, tasse gepak en verlof bespreek. Ons kan nie wag vir die jaar om tot ’n einde te kom nie. Die strate hang vol liggies en die winkelrakke is vol, Kerstyd het uiteindelik aangebreek.

Die boks versierings is uitgepak en die resepteboek staan reg. Ouma is al klaar aan die bak en die Kersbome gaan een vir een nou begin opslaan. Die beplanning vir Kersdagete en WhatsApp-groepies begin al gons, wie braai by wie? En wat bring ons? Die gees is voorwaar aansteeklik.

Natuurlik beteken dit ook geskenke – wat gaan ons onder die boom sit? Geskenke kies kan ’n uitdagende taak wees, want ’n mens weet nie altyd of die ontvanger al klaar die geskenk het of daarvan gaan hou nie. Gelukkig is daar opsies wat altyd goed werk, soos plantjies!

Plante het gedurende die Covid-19-pandemie populêr geword, nie net vir die estetiese Instagram-foto’s nie, maar vir die gesondheidsvoordele wat binnenshuise plante bring. Om ’n plantjie as geskenk te gee sal ’n daaglikse herinnering wees aan geliefdes van familie-kwaliteittyd, ’n spesiale geskenk wat jaar na jaar groter raak (mits daar na dié geskenk omgesien word).

Dit bygesê, hier is 5 plantjies wat die Instagram-fundi; die voornemende tuinier asook die groenste duim in jou lewe sal laat glimlag op Kersoggend:

Hierdie plantjies is gewild omdat hulle lank leef en maklik is om te onderhou:

1.       MARANTA - DIE DANKBARE PLANTJIE

Die plantjie, ook bekend as die Prayer Plant, kry sy naam omdat sy kleurvolle blare na binne krul, soos ’n paar handjies wat bymekaar kom in gebed. Hierdie verskynsel vind plaas wanneer die son sak of wanneer dit skemer raak. Die plantjie simboliseer dankbaarheid en liefde die perfekte Kersgeskenk-kombinasie.

Hierdie plantjie hou nie van direkte sonlig nie, maar is lief vir n warm, beligte kamer. Dit haal onsuiwerhede uit die lug en gebruik min water. Dit is ook nie giftig vir diere nie n perfekte stresvrye plantjie, wat die oog altyd sal vang.

2.       DIE HARTBLAARFILODENDRON EN SY MAATJIE, DIE BRASIL.

Die Sweetheart Plant, of Hartblaarfilodendron, is ’n rankplant en gewilde huisplant onder planteliefhebbers, omdat dit uiters maklik en vinnig groei in gunstige omstandighede.

Dié plantjie spog groot, hartvormige blare wat skitter in die lig. Die blare begin brons en word dan vinnig groen soos wat hulle groei. n Ander variasie van die plant is die Filodendron Brasil.

Hierdie plantjie word geprys vir sy pragtige skakerings van geel, wit en groen en is bekend vir die warmte wat dit by enige rak of hangende tuin voeg.



3.       DIE GERAAMTEPLANT

Hierdie plantjie, ook bekend as die Delicious Monster, groei vinnig en is maklik om te onderhou. Monstera deliciosa is een van die wêreld se gewildste binnenshuise plante. Die groot holte blare word gereeld op alles van huis en kombuisware tot plakkate vertoon, almal hou van die eksotiese plantjie en bont variëteite van wit en groen is ook bekombaar (alhoewel die prys dramaties verskil) Die plantjie is altyd ’n staatmaker as geskenk omdat meeste mense van die plantjie hou en dit ken.  

4.       DIE HEN-MET-KUIKENS

Die Hen-met-kuikens (in Engels die Spider Plant) is n meerjarige plant en grondbedekker wat vinnig groei en ook vinnig versprei. Dit maak ook n pragtige huisplant! Wit sterreblomme versier dwarsdeur die jaar ’n boogvormige blomstingel. Die bossie-blare, aan die punt van die blomstingels wortel waar dit die grond raak en klein weergawes “kuikens” van die oorspronklike plant vorm. Die plantjie lyk pragtig geplant waar hy kan rank of in n Moss-hangmandjie. Die Kuikens is pragtig in blommerangskikkings en is baie maklik om te gebruik vir voortplanting.

5.       FICUS ELASTICA

Hierdie plantjie, ook bekend as die Rubber-plant, se blare is breed, blink en dis nie skaam om te groei nie – elke plantjie mens se droom! Pink variasies en gemengde groen-skakerings kan ook bekom word en is by meeste kwekerye beskikbaar. Die plantjie het helder lig nodig, maar nie warm temperature nie. Dit kan as huisplant gehou word en ook buite geplant word. n Ficus-boom kan tot 25 m hoog groei as sy wortels genoeg spasie het.

As jy nie weet watter geskenk om te gee nie. Oorweeg gerus een van hierdie plantjies as ’n opsie.

Hooffoto: Freepik

Plantfoto’s: Verskaf

 


Comments