Neil Sandilands is ’n groot gees in die vermaakbedryf. Nie net is hy ’n uitstaande akteur wat internasionaal opgang maak nie, maar ook ’n begaafde musikant en liedjieskrywer wat pas ’n nuwe album uitgereik het. Ons het meer gaan uitvind oor die man agter die talent.
1. VERTEL ONS MEER OOR DIE MENS AGTER DIE MUSIEK…
“Dis ’n baie wye vraag. Bipedal Humanoid. My skoengrootte is ’n Europese 8 en ’n Amerikaanse 10. Visvang is my lekkerste stokperdjie. Naam Iers en van Skots. Ek probeer woeker met dit wat aan my toevertrou is. Avonturier. Verkenner. Alter-ego Frikkie Hermes Duvenhage. Vrek vir ’n skaaptjoppie. Ek het vriendskappe wat al raak aan 45 jaar plus. Geseënd. Idealis. Boer.”
2. WAT KAN LUISTERAARS VERWAG VAN JOU NUWE ALBUM EN WAT
MAAK DIT UNIEK?
“Ek dink meeste mense kom nou eers agter die kap van die byl dat ek musiek (ook) pleeg. As mense bekend is met die eerste werke vanaf die album “Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse”, “Die Groot 5” en “Die Groot Niks”, sou dié album ampers ’n logiese verbreding en verdieping wees van dit wat ek uit daardie werke geleer het.
“Allegaarkie vir ’n Askeet” is miskien die wydste wat ek dit kon vat. Die lirieke wissel van die intens persoonlike en geografies spesifieke, tot by die uithoeke van die kosmos en terug. Die musikale aanbod reflekteer dit. Daar is klawers, strykinstrumente, blaasinstrumente, verskillende tale, selfs ’n trompie en ’n saag. En soms net die vibrasie van ’n enkel stem. Dis groot en klein. Hard en sag.
Mens hoop maar vir uniekheid, nuh? Wat my wel opgewonde maak is dat ek Afrikaans op ’n kontemporêre wyse met isiZulu en isiXhosa verweef. Die aanbod is vir my ’n opregte en akkurate refleksie van hoe my omgewing klink. Afrikaans as deel van ’n groter tapisserie pleks van alleen, geïsoleerd, wegkruipend in die hegemonie van die gemaklike lager.
Ek dink nie ek sal weer so album kan maak nie. “Allegaarkie vir ’n Askeet” staan op sy eie. Ek moes die net so wyd gooi om dit uit die sisteem te kry. Om die “what ifs” te bevredig. Ek glo die roete vorentoe sal sorg vir distillering. Die single malt, die mampoer, die witblits, is voor in die wapad.”
3. JY IS OOK ’N AKTEUR, IS DAAR ENIGE NUWE PROJEKTE IN
DIE PYPLYN?
“Sweet Tooth 2” is pas uitgereik en in 2024 maak ek ’n verskyning in die volgende aanbod van “Planet of the Apes - Forbidden Zone”. Intussen probeer ek meer diskresie uitoefen oor die inhoud van dit waarby ek betrokke wil raak. Ek dink ook, met veroudering, is daar argetipiese waardes waarvoor mens “ryp” word. Ek sou nou byvoorbeeld vir die eerste keer genoeg geleef het en ervaring opgedoen het, om ’n werk soos Goëthe se “Faust” aan te pak. Of ’n biopic oor Nietzsche. Mens mag droom.
Daarbenewens geniet ek dit om die musiek lewendig aan te bied. Dis so ’n rare voorreg. Die toer wat ek onlangs saam met Schalk Joubert, Albert Frost en Mauritz Lotz aangepak het was “O my siel daar’s ryke stof”.
Met “Allegaarkie vir ’n Askeet” nou op die digitale rakke, sal dit lipleklekker wees om met ’n nuwe vertoning vorendag te kom (ons werk daaraan). Ek sê dit sommer hier prontuit: Ek’s opsoek na ’n korporatiewe borg, ’n enkel entiteit, wat so onderneming kan befonds. Ek wil die hele boksemdais vir mense gooi, met die konsertina, klawers, die strykinstrumente, die blaasinstrumente, die koor, die saag, die tromme, dansers, rookmasjiene, braaivleisvure, dansers en ’n speenvarkie.”
4. WAARVOOR SAL JY GRAAG ONTHOU WIL WORD AS JY NIE MEER
HIER IS NIE?
Die vraag het my nou lank laat stilsit. Dis net na 6am in die East Village, New York. Ek’t al twee koppies sawwe lyf in. Ek het pas verneem van my vriend en kollega, James Alexander, se voortydige afsterwe. My bodem is uit.
Daar’s ’n lyn in die liedjie “Wals van die Dodery”, op die album:
“Dis die wals vir die rein gebaar wat oorleef tussen jou en my”
Die rein gebaar, ek wonder baie daaroor. James het die rein gebaar verstaan. Mens word so besoedeld met tyd, mens moet veg om die rein gebaar te behou. Dis so uiters klein en fyn. Die ding sonder voordeel. Die mens in jou. Ek onthou James in Los Angeles en ek onthou hom in Suid-Afrika. Ek onthou hom op die verhoog in Ibsen se “Hedda Gabler”.
Ek dink dis die Ingilse woord “just”, miskien “regverdig” in Afrikaans? Met ’n goeie dosis nar. Haha! Just Clown! Ek en James se narre het mekaar ook ontmoet.
Nee kwits, persepsie is ’n rabbit hole. Ek berus by dit sal nice wees as ’n paar van my dam se ganse my onthou, maar dan moet hulle ook aanbeweeg en die blikkie verder die pad af skop. Ons wag vir jou.”
5. WAT IS JOU RAAD VIR IEMAND WAT GRAAG IN DIE
VERMAAKBEDRYF WIL WERK?
“Daar’s nie ’n handboek nie. Eien jou naam. Maak twyfel jou bondgenoot. Stap na jou vrese toe. Be nice. Jy kies nie die vermaaklikheidsbedryf nie, die bedryf kies jou.”
“Allegaarkie vir ’n Askeet” is vanaf 5 Mei 2023 op alle digitale stromingsplatforms beskikbaar. Bestel dit solank hier: https://linktr.ee/neilsandilands
Hooffoto: Patrick Toselli
Comments
Post a Comment