Gerrie Hadders gee hoop vir VS-leiers

 


Gerrie Hadders, ’n VS-leier, deel sy verhaal in ’n splinternuwe boek, Just Keep S’myelin, deur Gina Vorster van Glans Boeke. Lees meer hier onder.

In sy biografie, Just Keep S’myelin, vertel Gerrie Hadders vir lesers hoekom ’n tragiese diagnose soos veelvuldige sklerose nie summier die einde hoef te beteken vir diegene wat dit het nie. Verskeie ander belangrike temas in sy lewe word ook aangespreek in die boek en lesers kan daarna uitsien om te lag, te leer en selfs ’n traan of twee te pik.

“As hierdie boek net een persoon kan aanraak, sal dit al die swaarkry vir my die moeite werd maak,” sê Gerrie oor wat hy deur die boek wil bereik. “Die belangrikste aspek van enige ongeneesbare toestand is dat jou fokus en gemoedstoestand positief moet bly. Dis die belangrikste boodskap wat ek vir VS-lyers en hulle geliefdes kan gee.”

Gerrie is nie net iemand met ’n progressiewe siektetoestand nie, maar is ook ’n seun, pa, vriend en pilaar in die gemeenskap. Hy koppel nie sy identiteit aan sy diagnose nie en probeer daagliks so min as moontlik aandag daaraan skenk. Daar is wel donker dae waar hy aan sy voorland dink, maar hy het al geleer hoe om homself uit daardie vreesaanjaende groef te kry. Sy geliefdes dra hom deur sy moeilike dae en volgens hom is húlle die waardevolste deel van sy lewe.

Veelvuldige sklerose is ’n outo-immuun siekte wat gekenmerk word deur die geleidelike vernietiging van die senuweestelsel. Miëlien, wat die senuwees in die sentrale senuweestelsel isoleer, word vernietig en vorm dan gedenkplaatlittekens in geaffekteerde gebiede. Selfs al word behandeling vroeg toegedien, bly die skade steeds daar en sal dit met tyd vererger. Tans is daar nog nie ’n geneesmiddel vir VS nie.

Simptome van VS kan spierswakheid, koördinasieprobleme, sensoriese inkorting, of visuele steuring insluit en die siekte kan by persone van enige ras, ouderdom of geografiese ligging gediagnoseer word. Die siekte affekteer elke persoon op ’n unieke manier, so die behandeling is simptomaties en word individueel aangepas. Daar is ’n hoofstuk in die boek wat in diepte verduidelik oor wat VS is, en al die belangrikste aspekte daarvan uiteen sit.

Lesers gaan ook uitvind wat in Gerrie se gemoed aangaan tydens sy behandelingsessies, waaroor hy droom vir sy toekoms en die boodskap wat hy daardeur wil oordra aan elke persoon – siek of gesond.

Just Keep S’myelin word deur Glans Boeke uitgegee en sal vanaf Dinsdag 30 Mei 2023, op Wêreld VS Dag, beskikbaar wees by gina@glansboeke.co.za of Amazon Kindle en Kobo. R50 van alle boekverkope sal direk aan die S’myelin Foundation geskenk word – ’n organisasie sonder winsbejag, wat fokus op die bewusmaking oor en ondersteuning van VS-lyers.


 






 


Comments