DIT OF DAT met Henck Conrey


Hoe goed ken jy jou gunsteling-ster? Henck Conrey antwoord vyf kort vrae oor homself sodat ons meer kan weet oor die man agter die aanbieder!

 

WAT IS JOU RESEP VIR SUKSES?

 

Hou aan werk totdat jy die resultaat het wat jy soek. Indien plan A nie werk nie is daar ’n verdere 25 letters in die alfabet om plan A te maak werk!

 

GENIET JY DIT DIE MEESTE OM VOOR OF AGTER DIE SKERMS TE WERK EN HOEKOM? 

Aanvanklik het ek en my vennoot ons produksiemaatskappy begin omdat ek ’n liefde gehad het vir voor die kamera wees. Wat my onkant gevang het was dat ek ’n liefde en talent vir die besigheidsaspek agter die kamera ook ontwikkel het. Dit is moeilik om vandag te sê wat ek die meeste geniet. Daar is ’n stilte voor die kamera wat amper bonatuurlik voel. Dis ’n gevoel wat mens nie kan beskryf nie, maar terselfdertyd is die werk wat dit kos om ʼn projek van die grond af te vervaardig net so vervullend.

 

WAT MAAK JOU GELUKKIG EN WAT MAAK JOU KWAAD? 

My werk is ontsettend vervullend deurdat ek nie net die voorreg geniet om my passie op stel uit te leef nie maar ook mense kan help op my programme. Dit maak my werklik gelukkig. Wat maak my kwaad? Ek is nie iemand wat vinnig kwaad raak of lank kwaad bly nie. As iemand iets doen wat my kwaad maak sal ek wag tot ek rustig is en dan met ’n oopkop die situasie met die persoon bespreek en oplos. Die lewe is te mooi en kort om met kwade gevoelens in jou hart rond te loop.

 

WAT WAS DIE GROOTSTE HOOGTEPUNT VAN JOU LOOPBAAN SOVER? 

Om die heel eerste episode van “Vat Jou Goed en Trek” (my heel eerste program) wat ek vervaardig het op televisie te sien. Al die swoeg, sweet en kommer was in daardie oomblik die moeite werd!

 

WAARNA SIEN JY DIE MEESTE UIT IN 2024? 

Ek werk aan ʼn klomp nuwe opwindende projekte en ek sien uit om dit met die publiek te deel. Dit wys ʼn ander kant van my wat beide senutergend en opwindend is!

 

 


 In Oktober 2023 sal Seisoen 10 van Vat Jou Goed en Trek, waarvan hy die vervaardiger en aanbieder is, op kykNET uitgesaai word. Seisoen 5 van nog ’n projek waarby hy as regisseur en aanbieder betrokke is, Dr Nou, sal in November 2023 op VIA te sien wees.

Comments