Jopie Fees bring hulde aan die volksheld Jopie Fourie


Jopie Fourie word gesien as een van die volkshelde in ons geskiedenis. Om sy lojaliteit teenoor sy taal, geloof, land en mense te eer, het Quentin Meyer in Desember 2014 besluit om ’n Afrikaanse fees ter nagedagtenis van dié held in Pretoria te begin.


Vanjaar, op 27 Julie 2024, word die kultuurviering vir die vierde keer gehou by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Sowat 20 000 mense word verwag en van die land se beste kunstenaars, waaronder Early B, Loufi, Jo Black, Biggy, Droomsindroom, Eloff, Lianie May, Karlien van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Flooze, Gerhard Steyn, Dirk van der Westhuizen, Adam, Deon Groot, Irene-Louise van Wyk en vele meer, sal van vroeg dag af op die verhoog te sien wees.

Een van die skakelbeamptes agter die skerms van die fees en sanger, Rea le Roux, vertel meer van wat om te verwag:

WAT IS DIE HOOFDOEL WAT JULLE GRAAG MET DIE FEES WIL BEREIK?

“Om samesyn van ons mense te ervaar en ons taal te vier. Die Jopie Fees wil ook vreugde bring aan al die mense van SA.”

HOE IS DIE KUNSTENAARS GEKIES WAT GAAN OPTREE OP DIE DAG?

“Jopie Fees is bekend daarvoor om die grootste name vir die publiek te bring tydens die fees. Die fokus is dus op huishoudelike, groot name wat pas by die gehoor en die fees.”

WAT MAAK VAN DIE VOORTREKKERMONUMENT DIE IDEALE BESTEMMING VIR HIERDIE FEES?

“Die Voortrekkermonument is ’n simbool van ons erfenis so die monument is ideaal vir die fees. Die fasiliteite is ook reeds daar vir  so ’n massiewe geleentheid.”

WAT MAAK DIE ANDERS EN BETER AS DIE VORIGE JAAR?

“In 2024 het Jopie Fees 24 van ons land se grootste en bekendste name op die verhoog. Die bestuur beoog om dit die grootste 1-dag-fees in Pretoria aan te bied.” 

WAARNA ANDERS KAN FEESGANGERS UITSIEN BUITEN DIE MUSIEKVERHOOG?

“Daar is hope kindervermaak en aktiwiteite vir die jonger klomp, top gehalte stalletjies en ’n vlooimark om die dag verder in te kleur.”

HOEKOM DINK JULLE IS AFRIKAANSE MUSIEKFEESTE SO BELANGRIK VIR ONS MENSE?

“Ons het nodig om samesyn te hê en ons taal te bevorder vir ons nageslag.”


Die Jopie Fees is aanvanklik begin om die held te vereer, maar ook om alle mense van Suid-

Afrika te nooi om deel te word van ’n geleentheid om ons mooi land, taal en kultuur te vier.

 

Early bird-kaartjies is nou beskikbaar aanlyn vanaf Plankton Mobi teen R220 per

persoon en R300 per persoon vir goue sirkel-kaartjies. Kry dit hier.

 

As jy graag jou produkte wil kom uitstal, kontak Zenaldo Saayman by 083 604 3153 of info.zenaldo@gmail.com.

 

Foto van Snotkop op die 2023-verhoog: Verskaf


Comments