Henck Conrey is ’n gewilde Pretoriaanse akteur, vervaardiger,
regisseur, inhoudskepper, kunstenaar en entrepreneur. Ons het met hom gaan
gesels oor sy planne vir die feesseisoen.
WAT BEPLAN JY OM GEDURENDE DIE FEESTYD TE DOEN?
“Na die absolute warrelwind wat die jaar en veral
die laaste paar maande was gaan ek hierdie Kerstyd werklik net ontspan by my
huis. Natuurlik gaan ek ook Kersfees en so tyd saam met my familie en vriende
spandeer, maar sovêr beplan ek en my kat om gedurende ons aftyd so
veel as moontlik horisontaal te verkeer. Ek en my familie gaan wel vir ’n paar
dae ontsnap na my gunsteling safari-oord en ’n bietjie die natuurskoon waardeer,
want vroeg volgende jaar is ons reeds weer aan die gang met nuwe programme en
musiek.”
WANNEER WORD DIE VERSIERINGS OPGESIT?
“Snaaks genoeg het ek net nou die dag vir my ’n pragtige
kersboom bestel en hy is reeds opgestel. Ek is mal oor die feesseisoen, so my
huis het reeds allerhande kersversierings die wêreld vol. My binnekring
spot deesdae dat ek vroeg versier om die klok aan te jaag Kersfees toe.”
WATTER GEREGTE WORD DIE
FEESSEISOEN GEMAAK?
Soos almal wat Fiks of Niks kyk weet, is ek
enige kombuis se grootste nagmerrie so ek gaan definitief so vêr weg
as moontlik van kosmaak af bly. Ek en my geliefdes sal heelwaarskynlik die
kosmaak los vir die meer bekwames en gaan uiteet. My ma is ook nie een wat lief
is om die potte te laat sing nie, so ons gee dit liewer oor aan ’n restaurant.”
ENIGE SPESIFIEKE GESKENK WAT
JY GRAAG DIE FEESSEISOEN SAL WIL ONTVANG?
“In alle eerlikheid, RUS EN VREDE! Ek is een wat
verkies om eerder geskenke te koop vir my geliefdes as om te ontvang, maar ek
is seker my binnekring gaan my seёn met ’n bederfie of twee.”
HET JY ’N BOODSKAP VIR
LESERS VIR DIE FEESSEISOEN?
“Ek persoonlik gaan die feestyd neem om terug te
kyk op die jaar en die ongelooflike seёn wat ek van bo af ervaar het te waardeer.
Ek is uiters dankbaar vir die geleenthede en mense wat oor my pad gekom het die
afgelope jaar, so as ek die lesers met een ding kan los is “count your
blessings” en hou jou oё gerig op waar dit vandaan kom!
Comments
Post a Comment