5 minute met Riaan Grobler

 

Ons gesels met die gewilde sanger Riaan Grobler oor sy debuut-roman wat pas bekendgestel is. Lees verder as jy ’n getekende eksemplaar wil wen.

Riaan is ’n man van vele talente. Nie net spog hy met ’n suksesvolle musiekloopbaan nie, maar hy het ook pas sy skryfdroom verwesenlik met sy eerste roman, Geheime op Philadelphia. 

Dit is gisteraand amptelik bekendgestel by Bont Huijs in Lynwood, Pretoria en gaste is ook bederf met die vrystelling van sy nuutste enkelsnit, ’n Dag sonder jou.

Hy vertel ons meer oor die skryfproses en inspirasie agter die storie.

VERTEL ONS MEER OOR JOU BOEK EN WAT MENSE DAARVAN KAN VERWAG?

“Hierdie is my debuut-roman. As jy vyf jaar terug vir my gesê het ek gaan eendag ’n boek skryf sou ek vir jou gelag het. Dit het dalk een of twee keer deur my gedagtes gesweef, maar ek het net nooit die selfvertroue gehad nie. Geheime op Philadelphia is ’n liefdesroman wat in die klein Wes-Kaapse dorpie Philadelphia afspeel. Die mense kan karakters verwag vir wie hulle baie lief gaan word, karakters wat hulle gaan laat lag en ’n karakter of twee wat hulle gaan haat. As jy van romanse hou, gaan jy beslis hiervan hou.”

WAT HET AANLEIDING GEGEE TOT HIERDIE BOEK/ DIT GEÏNSPIREER?

“Ek vier hierdie jaar my agtiende jaar in die musiekbedryf. Musiek is ’n groot tema in die boek en die storie is al vir jare saam met my. Ek het groot geword met Ena Murray se liefdesverhale in my ouerhuis en boonop is ek ’n volslae romantikus.”

HOEKOM HET JY OP DIE TITEL BESLUIT?

“Dit het eers ’n ander werkstitel gehad, maar omdat die hoofkarakters soveel geheime het en die verhaal in Philadelphia afspeel het ek op Geheime op Philadelphia besluit.”

WAAROOR GAAN DIE BOEK?

“Dit gaan oor die eens bekendste sanger in Suid-Afrika, Reghardt du Toit, wat na ’n groot ongeluk gedeeltelik sy gehoor verloor en nie meer kan sing nie. Hy besluit toe om ‘n boetiekrestaurant in Philadelphia te gaan oopmaak. Ná sestien jaar uit die bedryf begin sy verlede hom inhaal. ’n Plaaslike dokter van Malmesbury en sy gesin neem hulle intrek op Philadelphia en hulle au pair, Angelique, lyk vir Reghardt baie bekend. Hy kan net nie die kloutjie by die oor bring nie.”

WAT IS DIE BOODSKAP WAT JY GRAAG WIL OORDRA?

“Dit is ’n baie inspirerende verhaal met ’n sterk Christelike tema. Die boodskap wat ek wil oordra is dat maak nie saak wat in jou verlede gebeur het nie, jy kan aangaan en als sal oukei wees, want op die einde van die dag sál liefde seëvier.”

WAT IS JOU RAAD AAN OPKOMENDE SKRYWERS?

“Begin skryf! Moenie soos ek nog wonder nie. Vat ’n rekenaar en begin jou storie skryf. As jy kan, skryf in vir ’n skryfkursus. Maroela Media se skryfskool, Skryfnet, het goeie kursusse waarmee jy kan afskop en dan het die South Africa Writers College ’n gevorderde romansskryfkursus wat jy ook kan loop. Gee jou gedagtes vlerke en skrýf!”

WAAR KAN MENSE DIE BOEK KOOP?

“By enige goeie boekwinkel landwyd is die fisiese boeke beskikbaar. Daar is nou ’n lekker spesiale prys by Graffiti Boeke. Besoek www.graffitiboeke.co.za en bestel jou harde kopie of gaan loer op www.lapa.co.za vir jou e-boek. Amazon het ook die boek as e-boek beskikbaar.

WEN, WEN, WEN!




Een gelukkige leser staan die kans om ’n getekende eksemplaar van Geheime op Philadelphia te wen.

Om in te skryf:

·       Like Riaan op Facebook en Instagram by @RiaanGrobler en tik #GlansGeheime in die kommentaarblokkie.

Inskrywings sluit op 12 Februarie 2024.

 


Comments