Frankie en Felipé kikker die skerms op

 

Gina Vorster het die voorreg gehad om die fliek, FRANK EN FELIPÉ solank te kyk en vertel ons meer van wat ons van môre af op die grootskerm kan verwag.

Eg Suid-Afrikaanse humor met ’n tikkie Hollywood: dís wat kykers van FRANKIE EN FELIPÉ kan verwag. Met groot name in die industrie soos Bradley Olivier, Solomon Cupido, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs en meer, het die film presies bereik wat die vervaardigers daardeur wou bereik het: om die bruin gemeenskap trots te maak.

Die konsep vir die film is vier jaar gelede gebore tydens ’n baie moeilike tyd toe Bradley en Solomon saam om die kombuistafel gesit en droom het met hulle laaste koppies koffie in hand. Hulle albei het werkloosheid en vaderskap op daardie oomblik in die gesig gestaar en geweet dat iets drasties sou moes verander in hulle lewens. Dus het hulle al hulle kragte ingespan om die oulik-deurdenkte film self te skryf en te vervaardig.

“Hulle wou ’n storie vertel wat mense laat lag, maar ook laat huil, en ultimately dink ek wou ons almal ’n storie vertel wat bruin mense sou trots maak op hul herkoms,” sê die regisseur, Marvin-Lee Beukes. “Ek dink wat ons reg gekry het met FRANKIE EN FELIPÉ is ’n wonderwerk.”

As dit nie vir die taal en die bekende Kaapse landskap was nie, sou kykers hulle maklik kon verbeel dat die film iewers in Hollywood geskiet is. Die vervaardiging is briljant uitgevoer, die toneelspel is meevoerend en die storie en tonele vloei moeiteloos. ’n Mens sou ook nie veel minder verwag van ’n bekwame groep akteurs wat deur die jare reeds huishoudelike name geword het nie!

Kykers kan oomblikke van giggel, naels byt, sowel as trane verwag. Natuurlik wil ons nie die hele storie weggee nie, so wat ons wel sal sê is dat kykers kan verwag om vermaak te word deur kwessies wat soveel mense in hulle eie lewens beleef en al beleef het. Familie drama, ouerskap, die effek van siekte, verhoudingsprobleme, finansiële druk en uiteindelik die liefde wat alles oorwin.  

’n Mens kan nie praat oor die film sonder om te noem dat geliefdes en vriende sal saamstem oor die feit dat Bradley Olivier baie trots sou wees op die projek waaraan sóveel mense met hart en siel gewerk het nie. Bradley is ongelukkig op 20 Julie 2023 op die jong ouderdom van 36 oorlede as gevolg van ’n brein-aneurisme.

FRANKIE EN FELIPÉ is net nog ’n voorbeeld van hoekom Afrikaners so plesierig is. Dit maak nie saak wát in die wêreld aangaan of hoe donker tye soms kan word nie – daar sal altyd ’n grappie wees om te maak en ’n storie om te vertel.

Kykers moet die lekker-kyk film nie misloop nie. FRANKIE EN FELIPÉ, uitgereik deur Filmfinity, kan van 23 Februarie 2024 af landswyd in rolprentteaters sowel as aanlyn gesien word.




Comments