Veelvuldige sklerose-veterane verf die atmosfeer oranje met staptog


Glans het gaan inloer by Emerald Casino om deel te wees van ’n inspirerende staptog ter nagedagtenis van oorlede VS-lyers. Gina Vorster vertel meer... 

Op Saterdag 27 Januarie 2024 het die gemeenskap by die Emerald Casino bymekaar gekom ter nagedagtenis van elke VS-lyer wat onlangs hulle laaste asems uitgeblaas het. Veelvuldige sklerose, oftewel VS, is ’n siekte waarin die isolerende bedekkings van senuweeselle in die brein en rugmurg beskadig word. Tans is daar nog geen kuur beskikbaar nie, so lyers maak staat op verskeie vorme van behandeling en medikasie om die ongenaakbare siekte teen te staan.

Oranje, die amptelike kleur wat VS verteenwoordig, was opmerklik tussen die groen landskap van die Emerald Casino. Afgesien van die erns van die geleentheid was die atmosfeer nie morbied nie. Die VS-veterane meen dat die siekte reeds genoeg by hulle steel en dat hulle blydskap nie ook in die slag sal wees nie!

Verskeie borge en instansies soos IFM, MS Suid-Afrika en die S’myelin Foundation het gesorg dat die oggend se verrigtinge seepglad verloop. Pamflette en inligtingstukke is vrylik uitgedeel onder die skare. Gerrie Hadders, ’n prominente stem in die VS-gemeenskap, het kopieë van sy biografie uitgestal en groepe soos MS-Hoop het hulle oranje linte trots ten toon gestel op die 3 km staproete.

Rozaan Steyn, wat aan die stuur van die staptog gestaan het, het ’n hartroerende huldeblyk gebring aan die gevalle helde in hulle gemeenskap. Sy is self drie jaar terug gediagnoseer en op die jong ouderdom van 38 jaar beveg sy die siekte met 'n dapper glimlag op haar gesig. “Dis nie altyd maklik nie, maar ek het ’n uitstekende mediese span wat bankvas agter my staan. Soms laat VS my in die steek, soos toe ek my arm by die Warrior Race gebreek het, maar my dokter is altyd daar om in te spring met spoedige behandeling,” sê Rozaan.

Soos vroeër genoem het Gerrie Hadders, ook die voorsitter van die S’meylin Foundation, sy outobiografie beskikbaar gestel vir diegene wat meer wou uitvind oor wat die siekte werklik is, asook sy rou en realistiese reis met al die siekte se op-en-af-oomblikke wou deel. Die boek raak mense se harte aan soos hulle deur die blaaie van sy lewe lees en ’n dieper insig kry in die dinge wat ’n VS-lyer daagliks in die gesig staar. Lesers kan meer oor die boek uitvind op www.smyelin.co.za.

Rozaan sê dat hierdie nie die laaste staptog was nie en dat hulle hard werk daaraan om die publiek bewus te maak van die siekte met al sy uitdagings. VS mag dalk sóveel mense se lewens omver gooi, maar hulle wil ’n boodskap van hoop aan elke lyer en hulle geliefdes verkondig.





 




 

Comments