Tienerwees is ’n uitdagende tyd – vir kinders én ouers. Sosiale media inhoudskepper en tienerrolmodel, Hildegard Havenga, deel ’n paar wenke met ouers om hulle te help om die tiener in hul huis beter te verstaan.
HOEKOM DINK JY SUKKEL
OUERS EN TIENERS OM MEKAAR TE VERSTAAN?
“Tieners en ouers se grootse probleem is nie dat hulle mekaar nie verstaan en oor die weg kan kom nie, maar eerder dat hulle niks omtrent dit doen wanneer daar ’n probleem opduik nie! Om net aan te gaan en te maak asof niks gebeur het nie, is beslis nie ’n oplossing nie. Tieners wil situasies self beheer en hulle struikelblokke self oorwin en uit hulle eie foute uit leer... terwyl ouers hulle weer die seer wil spaar of kortpaaie wil leer en dan te beskermend is teenoor hul tiener. Die ouer voel dan hul tiener luister nie, en die tiener voel weer die ouer dink hy/sy is nie in staat om die situasie self te kan hanteer nie... en dis beslis nie goed vir ons selfbeeld nie.”
HOE KAN OUERS OOP EN
EERLIKE KOMMUNIKASIE AANMOEDIG SONDER OM OPDRINGERIG TE LYK?
“Dis ’n delikate balans... let op jou eie lyftaal, stem en oor hoe jy die situasie benader. Wees kalm en ontspanne, want deur te raas en aanvallend te wees gaan net nog meer spanning veroorsaak. Ouers moet leer om tieners te kan vertrou in moeilike situasies en verseker te wees ons doen die regte ding. Stel opreg belang in ons alledaagse lewe met informele geselsies, maar moet ook nie aanhou hamer as ons niks wil vertel nie... miskien was dit net ’n slegte dag en ons stel nie belang in geselskap nie. Bly rustig en ondersteunend wanneer ons iets persoonlik deel en gee positiewe terugvoer – dit sal kommunikasie in die toekoms verder versterk.”
HOE KAN OUERS JOU
BEHOEFTE AAN PRIVAATHEID RESPEKTEER TERWYL HULLE STEEDS BETROKKE BLY IN JOU
LEWE?
“Daar is ’n tyd en plek vir alles. As ons af lyk die dag en ons is nie oop vir geselskap nie, beteken dit nie ons wil julle nie in ons lewens meer hê nie… NEE – dalk het ons net ’n slegte dag by die skool gehad. Gee ons tyd om oor ons eie situasies te dink en as die tyd reg is praat ons daaroor. Stel belang in ons stories of teleurstellings, en luister dan aandagtig. Ons soek nie noodwendig raad nie, maar net ’n gewillige oor wat vir ons sal luister. Deur ons ruimte te gee wanneer nodig en gereeld te wys dat julle beskikbaar is om te luister, bly julle betrokke in ons lewens terwyl ons privaatheid gerespekteer word.”
HOE KAN OUERS WYS
HULLE VERTROU HULLE TIENER?
“Deur meer op hulle gemak te wees met sekere dinge. Ons tieners moet self leer uit ons foute van vorige situasies en dinge anders benader volgende keer. Ouers moet belang stel in ons lewens, en tieners moet ook kan gemaklik praat oor dom goed wat hulle al aangevang het! En moet dan nie paniekerig raak oor elke klein foutjie nie. Deur kalm te bly en begrip te toon, help ouers hul tieners om van hulle foute te leer en die regte keuses te maak. Hierdie benadering versterk die verhouding en laat tieners toe om te weet dat hul ouers hulle ondersteun en vertrou.”
WAT IS DIE BESTE
MANIER VIR OUERS OM HUL BEKOMMERNISSE OOR PUNTE OF SKOOLWERK AAN TE SPREEK?
“Moenie dit ’n
formele saak maak nie. Vra gemaklik om die etenstafel oor jou kind se skoollewe
en hoor oor opwindende take wat hulle moontlik moet indien, hou dit net
gemaklik! As die tyd reg is, vra uit oor opkomende toetse en of hulle al genoeg
oefening gekry het. Bied aan om addisionele skoolwerk op te spoor. Wees
ondersteunend en luister as daar iets is wat hulle pla, tieners het ook druk,
nes volwassenes.”
***
Hildegard is ’n
bekroonde Suid-Afrikaanse sosialemedia-inhoudskepper, tienerrolmodel, redenaar,
spreker, skrywer, model en aktrise. Dié formidabele vyftienjarige van Pretoria
se passie is om ’n stem vir jongmense te wees en hul op te hef en te bemagtig
waar sy kan. Haar doelwit is nie net om die beste te maak van die tyd wat sy
nog op skool oor het nie, maar ook om lewens te verander.
Comments
Post a Comment