5 minute met Anton Goosen

 


Suid-Afrika se geliefde Liedjieboer trap reeds vir dekades lank diep spore in die plaaslike musiekbedryf. En soos met goeie wyn, word hy met tyd net beter en beter. 

Hy het onlangs ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo, Luka, uitgereik. Ons gesels met hom oor sy nuut projek en sy planne vir 2025.

1. VERTEL ONS MEER OOR JOU ENKELSNIT WAT JY GAAN VRYSTEL?

“Die nuwe enkelsnit se naam is Luka. Dit beteken “lig” of “draer van lig” in verskeie Slawiese tale soos Serwies, Kroaties en Russies, en het ook Griekse en Latynse wortels. Die liedjie is ’n sagte, akoestiese ballade in ’n 6/8 wals-ritme, wat die verhaal van ’n nuwe klein seuntjie, Luka, met die blouste oë vertel. Die kernboodskap is “carpe diem” – om elke dag te gryp en voluit te leef.

2. WAAROOR GAAN DIE MUSIEKVIDEO EN WAT IS DIE KONSEP?

“Die video vat ons op ’n reis van die verlede na die toekoms en ondersoek hoe alles bly voortgaan, met of sonder ons. Dit het ’n futuristiese gevoel met beelde van die natuur se tydloosheid teenoor die mensgemaakte wêreld. Die idee spruit uit die gedagte dat, selfs uit chaos, ’n “dansende ster” gebore kan word – so ’n ster skitter in die nuwe lewe wat Luka simboliseer, vol hoop en lig.”

3. WAAR HET JY INSPIRASIE GEKRY VIR HIERDIE VIDEO SE STYL EN BEELDMATERIAAL?

“Ons het pas die dokumentêre reeks oor my lewe voltooi, wat ’n terugblik op die verlede bied. Die musiekvideo kombineer daardie terugkyk met ’n vorentoe kyk. Dis asof hierdie video die dokumentêr, Riviersonderend, wat volgende jaar behoort te begin stroom, aanvul. Ons het ’n bietjie argiefmateriaal, ’n bietjie stock footage, en die res een rustige Woensdag op ’n wynplaas buite Stellenbosch geskiet.”

4. WAT IS DIE STORIE EN INSPIRASIE AGTER DIE LIEDJIE SELF?

“Die liedjie gaan oor nuwe lewe wat nuwe hoop bring. Nietzsche het gesê, “uit chaos kom daar ’n dansende ster,” en Luka is daardie ster, die lig wat skyn en ’n helder pad vir die toekoms bied. Ek skryf dikwels uit waarnemings en emosionele ervarings. Luka is een van daardie stories wat resoneer met die lig en liefde wat ek in mense se oë sien.”

5. WAT HOU 2025 VIR JOU IN?

“Dit gaan ’n groot jaar wees! Die gebruiklike toere en optredes wag, en ek sien uit na die feesvieringe om Afrikaans se 100-jarige status as amptelike taal in Mei te vier. Die vier-episode-dokumentêr Riviersonderend, vervaardig deur Niel van Deventer, word ook binnekort uitgereik. En dalk, as inspirasie klop, sal ek nog ’n liedjie of twee die lig laat sien.”

Alom bekend as die vader van Afrikaanse rock, betower Anton Goosen luisteraars reeds vir dekades met sy boeiende lirieke en onvergeetlike deuntjies.

Sy bydrae tot musiek het hom verskeie toekennings besorg, insluitend SAMA-, Innibos-, en FAK-toekennings.

In 2022 het hy sy eie reeks vellies, Jantjie Veldskoen, in samewerking met Vellies Boutique bekendgestel, en sy lewensverhaal, Anton Goosen: Liedjieboer, geskryf deur die bekende joernalis Hanlie Retief, is in 2020 deur NB-uitgewers gepubliseer.

Luka is die derde enkelsnit vanaf sy nuutste album, Sirkels, en is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://linktr.ee/antongoosenliedjieboer




Comments