Die gewilde akteur, skrywer, motiveringspreker en entrepreneur, Hykie Berg, se nuutste boek - GEROEP VIR MEER – OM SUKSESVOL TE LEWE is op 11 Oktober bekend gestel by die B|Loved Klein Teater in Pretoria. Sedert dit uitgereik is, het dit ook binne twee weke top-verkoper-status bereik op plaaslike boekrakke.
Ons het met dié inspirerende man gaan gesels oor sy derde suksesvolle publikasie.
WAT WAS DIE HOOF
INSPIRASIE AGTER DIE SKRYF VAN HIERDIE BOEK?
“Die boek is geïnspireer deur die feit dat soveel mense daarbuite voel hulle is stuck, het geen vervulling in hul lewe nie en geen betekenis nie. 73% van werknemers gaan werk toe en kom terug en se hul het geen betekenis nie. Die boek is geskryf om vir mense weer daai hoop terug te bring, want mense dink hulle is stuck. Hulle dink hulle moet vir 40 of 50 jaar maar net doen wat hulle moet doen. Mense dink hulle is slagoffers van hulle omstandighede. Die boek is ook geskryf vir elkeen om weer te droom en weer ’n visie te hê. As jy vir ’n 100 mense vra wat is jou droom, kan omtrent net 3% sê wat hul droom en visie is en wat hul doelgerigte plan is om daarby uit te kom. En dit is nie hoe ’n mens moet lewe nie, want dan is jy soos ’n skip sonder seile, en gaan jy maar opeindig waar die wind jou waai. Die boek is geskryf om vir jou hoop dit gee en om vir jou ’n paar eenvoudige suksesbeginsels neer te lê wat enige ou kan toepas om sy lewe te verbeter.”
WATTER IS DIE
GROOTSTE BOODSKAP WAT JY GRAAG MET DIE INHOUD VAN DIE BOEK WIL OORDRA?
“Die boek is geskryf vir alle mense, jonk en oud. Geskryf om vir jou ’n ander idee van die lewe te gee. ’n Prentjie wat dalk vir jou geskets is van hoe die volgende paar jare in jou lewe gaan lyk – die boek wys vir jou daar is eintlik so baie opsies daar buite. Vir enige persoon wat ’n mate van verandering wil bring in hulle lewe is hierdie boek voor geskryf. Almal in die wêreld wil tog beter doen in ’n faset in hulle lewe en om dit te kan doen moet jy ’n sekere paar dinge toepas.”
KAN JY ’N BIETJIE MEER VERTEL OOR DIE PERSOONLIKE UITDAGINGS WAT JY IN DIE BOEK BESPREEK?
“Ek dink die grootste uitdaging is die idee om ’n verskriklike pyn en ongemak te gaan wanneer ’n mens agter jou droom aangaan en te besef dat jy die Here se genade nodig het. Dat jy moet gefokus bly, lewe met intensie en nie opgee nie. Die moeilikste ding is om nie op te gee wanneer dinge moeilik raak nie. Dit verg toewyding en konsekwentheid en opofferings. As jy ’n verandering in jou lewe wil hê moet JY die verandering wees.”
HOE PAS JY DIE
BEGINSELS IN DIE BOEK TOE IN JOU EIE LEWE?
“Ek doen wat ek in die boek sê. Persoonlike selfdissipline en hou jouself verantwoordelik vir als wat jy doen en besluit. Ek lees en spandeer tyd saam met mense wat het wat ek wil hê en ek omring myself deur mentors. En ek sien die vrugte wat ek pluk en dis absoluut die moeite werd!”
WATTER RAAD HET JY
VIR IEMAND WAT GRAAG HULLE LEWE WIL VERANDER?
“Die eerste ding wat jy iemand moet vra is, is hy toegewyd of net geïnteresseerd? Almal wil beter lewe, meer geld maak, hul huwelik regruk, ’n beter pa wees, maar die meeste mense sê dit net. Om dit te doen is die moeilike deel. Jy gaan deur pyn gaan en moeilike dinge om te hanteer. En die grootste vraag is om te kan antwoord wat ’n mens uit die lewe wil hê. Wat gaan jou dryf, hoekom wil jy verander? En wat gaan jy daaraan doen?”
WAAR KAN MENSE JOU
BOEK KOOP?
“Die boek is aanlyn beskikbaar by: https://bit.ly/GeroepVirMeer of by uitgesoekte boekwinkels reg oor die land.”
Hykie woon tans in Johannesburg en het buiten vir sy toneelspel, tans sy rol in Binnelanders, ook die voorreg gehad om as die wenner van Survivor Maldives gekroon te word- die fase van sy lewe waarin hy self tot bekering gekom het.
Hy het al in talle rolprente en TV-reekse verskyn, ’n rits suksesvolle projekte aangepak en is vandag nie net ’n bekroonde akteur en TV-aanbieder nie, maar ook ’n internasionale spreker, ’n suksesvolle entrepreneur en ’n topverkoper-skrywer.
Sy vorige boeke sluit in My Storie van Hoop, Ultimate Survivor (die Engelse vertaling van My Storie van Hoop) wat ook ’n top-verkoper was en wat met die Andrew Murray Desmond Tutu-prys bekroon is, en My Stryd met ADHD-Die Onsigbare Oorlog.
Hy is ook die
ambassadeur van Creative Kidz, ’n skool wat remediërende onderwys en
ondersteuning bied aan kinders met leeruitdagings.
Comments
Post a Comment