5 minute met POSDUIF

 


Die gewilde groep, POSDUIF, het onlangs twee snitte gelyktydig vrygestel. James Boland, die hoofsanger, vertel ons meer van hierdie liedjies. 

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM TWEE SNITTE GELYKTYDIG VRY TE STEL?

“Beslis om die twee kante van POSDUIF aan die publiek bekend te stel. Daar is die ernstige, nostalgiese, en familievaste kant wat diep omgee en gewys word met liedjies soos KAALVOET KINDERS wat weergee wie ons in ons siele is. Dan is daar ook die lighartige, prettige kant wat beklemtoon dat ons lekker kuiermense is, altyd bokke is vir sports en daarvan hou om te lag en ons vriende te terg soos wat ons met VOETFOUT doen.”

VERTEL ONS MEER OOR KAALVOET KINDERS?

“Dit is een van die eerste enkelsnitvrystellings vanaf ons nuutste album Brandstiger en vang die onskuld en avonture van kinderjare vas. Hierdie alternatiewe pop-snit, vertel die storie van hoe daardie eenvoudige tye ons lewens vorm en blywende herinneringe skep.

Die liedjie is geskryf deur my en Nick Jordaan, met insette van die hele groep, en vervaardig deur

Brendan Campbell. Dis geïnspireer deur die vreugdes en vryheid wat ons as kinders ervaar het—die avonture van grootword, speel in die bos, en die lewenslesse wat ons daaruit geleerhet.

 Dit verteenwoordig die kern van ons album, die idee van terugkeer na jou wortels en die invloed van die verlede op wie ons vandag is.

Ons glo dat dié lied ’n sterk emosionele band met luisteraars sal skep, aangesien dit ’n gevoel van eenvoud en opregtheid oproep wat baie mense sal waardeer.”

WAAROOR GAAN VOETFOUT?

“Dié liedjie vertel die storie van ’n ou wat jammer moet sê nadat hy sy meisie verneuk het. Hy probeer verduidelik dat dit net ’n “voetfout” was, en dat hy steeds baie lief vir haar is.

Hierdie groepspoging is geïnspireer deur ’n vriend wat in ’n soortgelyke situasie was. Hy het een aand ’n meisie gesoen en was baie spyt, en moes aan sy meisie verduidelik.

Dit is ’n tong-in-die-kies liedjie oor vergifnis soek en die behoefte om dinge reg te stel.

Baie mense sal kan identifiseer met die ervaring van iets doen wat nie groot skade aanrig nie, maar groot skuldgevoelens na die tyd bring.

Die vriend van ons en sy meisie was baie nuut by mekaar, so ons het hom nie baie jammer gekry nie en op die ou end was alles oukei.”

WAT IS JULLE PLANNE VIR 2025?

“Ons beplan om aan te hou musiek maak en soveel as moontlik op te tree, insluitend twee beplande toere en die vrystelling van nog ’n hele klomp nuwe enkelsnitte. Ons gesels ook met ’n paar ander vriende/ kunstenaars om saam te werk op een of twee interessante liedjies.”

KAALVOET KINDERS en VOETFOUT is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.Kyk die musiekvideo van KAALVOET KINDERS hier en kry die enkelsnitte hier.

 




Comments