Hoe goed ken jy jou
gunsteling-ster? Gerduan antwoord vier kort vrae oor homself sodat ons meer kan
weet oor die man agter die sukses!
1. WAAR KRY JY DIE
INSPIRASIE VIR DIE MUSIEKVIDEO’S WAT JY MAAK VANDAAN?
Dit is altyd vir my baie
belangrik om elke musiekvideo wat ek vervaardig so uniek as moontlik te maak.
Voordat ek die konsep beplanning met die kunstenaar doen sal ek aandagtig na
die liedjie luister en met ’n vars konsep vorendag kom wat sal bydra tot die
liedjie se tema. Ek hou daarvan om inspirasie te put uit die style van
internasionale kunstenaars se musiekvideo, en selfs ook internasionale films.
Alhoewel ek nooit ’n videokonsep sal na-aap nie, is dit vir my baie goeie
inspirasie om te kyk wat die tendens is met internasionale musiekvideo’s. Ek
streef altyd om Suid-Afrikaanse musiekvideo’s se gevoel so internasionaal as
moontlik te hou.
2. WAT IS JOU PLANNE VIR
2025?
Ek is besig om te werk
aan baie lekker musiek vir 2025. Ek sal baie graag ook weer ’n album wil
vrystel. Ek beplan ook aan ’n kortfilm en ’n dokumentêr of twee wat ek in 2025
wil vervaardig.
3. WAT IS DIE SNAAKSSTE
DING WAT AL OP STEL GEBEUR HET?
Terwyl ons in Port-Elizabeth
’n musiekvideo op die strand geskiet het, het die wind skielik opgekom en ’n weerkaatser
uit my assistent se hand geruk. Dit het amper ’n kilometer weggerol op die
strand terwyl my assistent al die pad agterna gehardloop het.
4. SOM JOU MUSIEK IN EEN
WOORD OP?
Emosiegedrewe.
Gerduan, wat in
Bloemfontein groot geword het en tans in Pretoria woon, is al van skooltyd af
passievol oor musiek. Hy het al die verhoog met van die land se grootste
kunstenaars gedeel en ’n draai gemaak by verskeie Afrikaanse musiekfeeste. Hy
is veral bekend vir treffers soos Koffie
in die kroeg, Sesde Sintuig, Langpad
na Môre en Jou Tipe
Jaloers.
Buiten vir musiek, is hy
ook ’n uitstaande fotograaf en musiekvideovervaardiger met sy eie
besigheid, Gerduan Kemp Photo & Film, wat al
musiekvideo-projekte vir verskeie bekendes – waaronder Brendan Peyper en
Karlien van Jaarsveld – behartig het.
Sy nuutste enkelsnit, Alles
tot nou, is hier beskikbaar. Kyk die musiekvideo hier.
Foto: Verskaf
Comments
Post a Comment