5 minute met Gerduan Kemp

 

Gerduan Kemp is ’n talentvolle musikant, video- en fotograaf en het onlangs sy nuutste enkelsnit vrygestel.  Ons leer die man agter die sukses beter ken.

HOE HET JY BESLUIT DAT “TOE JY OMDRAAI” JOU VOLGENDE ENKELSNIT MOET WEES?

“Toe ek en Emil Paul hierdie liedjie geskryf het, het ek geweet daar is iets spesiaals daaraan. Dit vat daardie oomblik vas wanneer jy besef iemand is nie wie jy gedink het hulle is nie – iets waarmee baie mense kan vereenselwig. Ná die sukses van Alles Tot Nou wou ek ’n lied vrystel wat ’n sterk storie vertel en ’n emosionele impak het. Toe Jy Omdraai was eenvoudig die regte keuse.”

WAT IS DIE STORIE AGTER DIE LIEDJIE EN IS DAAR ’N DIEPER BETEKENIS?

Toe Jy Omdraai is ’n lied oor daardie oomblik wanneer jy skielik iemand in ’n ander lig sien en besef hulle is nie wie jy gedink het hulle is nie. Dit gaan nie net oor teleurstelling in liefde nie, maar oor hoe ons soms te veel van mense verwag en vergeet dat almal net mens is, met hul eie foute. Al is dit nie noodwendig ’n persoonlike storie nie, dink ek almal het al so ’n oomblik ervaar, en ek hoop dit resoneer met mense op ’n dieper vlak.”

WIE DINK JY GAAN DIE MEESTE VEREENSELWIG MET DIE LIED?

“Ek dink enigiemand wat al deur ’n teleurstelling is, of dit nou in ’n verhouding, vriendskap of selfs ’n lewensituasie is, sal met die lied kan vereenselwig. Dis ’n universele ervaring, en ek dink mense wat al moes aan beweeg of ’n nuwe perspektief moes kry oor iemand, gaan die meeste aanklank vind by die lirieke en emosie van die lied.”

WAAR EN HOE WAS DIE MUSIEKVIDEO GESKIET?

“Die musiekvideo is geskiet by Witzands Aquifer-natuurreservaat. Ek het vir Nico Welgemoed gevra om die kamerawerk vir my te doen en ek het self die redigering daarvan behartig.”

WAT WAS DIE LEKKERSTE GEDEELTE VAN DIE MAAK VAN HIERDIE TREFFER?

“Die musiekvideo was vir my een van die lekkerste dele van die hele proses! As ’n musiekvideovervaardiger wou ek iets visueel kragtig skep wat die emosie van die lied perfek sou vasvang. Die konsep en verfilming was ’n ongelooflike ervaring. Dit is altyd spesiaal om jou eie musiek deur ’n visuele storie te kan versterk.”

WAT IS VOLGENDE OP DIE KAARTE VIR JOU?

“2025 is ’n groot jaar vir my met nog nuwe musiek en ’n paar opwindende musiekvideo-projekte vir myself en ander kunstenaars. Ek beplan ook om my videografie-besigheid verder uit te brei en nog kreatiewe konsepte na die Afrikaanse musiekbedryf te bring. Daar is ook ’n paar verrassings op pad, so mense moet beslis my sosialemediabladsye dop hou!”

Gerduan, wat in Bloemfontein groot geword het en tans in Pretoria woon, is al van skooltyd af passievol oor musiek. Hy het al die verhoog met van die land se grootste kunstenaars gedeel en ’n draai gemaak by verskeie Afrikaanse musiekfeeste. Hy is veral bekend vir treffers soos Koffie in die kroegSesde SintuigLangpad na MôreJou Tipe Jaloers en Alles tot Nou.

Buiten vir musiek, is hy ook ’n uitstaande fotograaf en musiekvideovervaardiger met sy eie besigheid, Gerduan Kemp Photo & Film, wat al musiekvideo-projekte vir verskeie bekendes – waaronder Brendan Peyper en Karlien van Jaarsveld – behartig het. 

Sy nuutste enkelsnit, Toe jy omdraai, is hier beskikbaar. Kyk die musiekvideo hier.



Foto: Verskaf

 


Comments