5 minute met Anné Pretorius

 


Anné Pretorius se ma het vir haar ʼn baie spesiale geskenk agtergelaat na haar dood, wat haar geïnspireer het om hierdie konsep ook met ander vroue te deel en hulle sodoende te help om kosbare herinneringe vir hulle nageslagte te bewaar.

Ons het met hierdie inspirerende boeksamesteller gesels oor haar baie spesiale reeks boeke en die motivering daaragter.

WAT HET JOU GEÏNSPIREER OM MET DIE MEMOIRS FOR YOUR MOTHER-REEKS TE BEGIN?

“Hierdie verhaal skop in 2010 by my gunstelingplek af; ʼn vlooimark! Ek het destyds ʼn soortgelyke boek vir my ma gekoop, dit vir haar gegee met die woorde: “Ag Mamma, ek besef jy’s so besig, maar as jy hierdie boek kan invul sal dit tog so interessant wees”. En toe, soos dinge maar werk, totaal daarvan vergeet. 

Maar my liewe moeder het op haar stil manier daardie boek oor ʼn paar jaar deurgewerk en dit so ewe formeel op haar 60ste verjaarsdag aan my oorhandig. Dit het sommer so gegaap, van al die foto’s, briefies en ekstra memorabilia wat sy ingedruk het. Nou moet ek wel bieg dat ek op 22 Maart 2013 nie besef het hoe kosbaar hierdie geskenk werklik was nie. 

En eendag is sy skielik oorlede. En kon ek haar niks meer oor haar lewe uitvra nie. Oor haar opinies en oortuigings. Oor haar teleurstellings en die lewe wat sy voor my geboorte gehad het, en selfs nog ʼn stukkie daarna. 

Dit het my genoop om daardie boek weer uit die rak te gaan haal en met nuwe oë en my vernuwe besef van my eie mortaliteit, haar handskrif, haar storie, te gaan lees. 

Met haar begrafnis het ek heelwat oor daardie boek gepraat en mense aangespoor om nou reeds te begin, om hul stories vir hul kinders neer te skryf. En so het mense my nog jare na haar dood bly kontak. Telkens moes ek hoor: ‘Anné wat is daardie boek nou weer, ek is nou gereed om daarmee te begin?’ Tot ek self navraag begin doen het en besef dat daardie spesifieke boek uit druk is en dat die uitgewers dit nie weer sou herdruk nie. Selfs toe ek iets soortgelyks gaan soek, kon ek niks soortgelyks teëkom nie en ook niks in Afrikaans vind nie. 

Nou ja, toe besluit ek dat indien dit dan so is dat ek hierdie boek moet saamstel, ek dit dan so gaan doen dat dit ʼn familie kleinode moet word. Dit moet bekostigbaar wees, maar ook duursaam. Ek het met die gesogte kunstenaar, Marié Vermeulen-Breedt kontak gemaak vir unieke kunswerke vir elke hoofstuk, asook die voorblad. Dan het ek ook digkuns gekies om die ma leiding te gee met hierdie moeilike maar nodige projek en inspirasieprikkels (prompts) saam met sielkundiges en leraars uitgewerk om sodoende ʼn volledige bundel daar te stel.”

WATTER IMPAK HOOP JY DIE BOEK HET OP LESERS EN DIE FAMILIES WAT HUL STORIES DEEL?

“Ek kan net getuig wat hierdie boek vir my beteken. Ek het so baie van haar geërf, maar hierdie boek is die beste wat ek van haar het. Haar bekende handskrif is vir my ʼn troos, en ek hoor haar stem in die manier wat sy geskryf het. Alhoewel ons ʼn baie goeie verhouding gehad het, en albei boonop in Pretoria gewoon het en mekaar so baie gesien het - is ek verstom oor wat ek nie van haar sou geweet het, as sy nie dapper genoeg was om dit vir my neer te geskryf het nie. Dit is wat ek elke familie toewens. 

So dikwels hoor ek die spyt in volwasse seuns en dogters se stemme wanneer hulle van die projek hoor en wens dat hul ouers dit vir hulle gedoen het. Maar weens siekte of die dood, is dit dan helaas te laat.” 

WATTER RAAD HET JY VIR MENSE WAT HUL EIE MEMOIRES OF HUL OUERS S’N WIL BEGIN NEERSKRYF?

“Begin by die maklikste, waar en wie jy vandag is. Skryf dan jou datums neer en jy sal verbaas wees oor hoe die herinneringe terug-vloei. Die heel eenvoudigste is natuurlik om een van my boeke te koop. Daar is inspriasieprikkels (prompts) wat jou leiding gee, sonder om voorskrywend te wees. Of neem eenvoudig jou stem op. 

En dis nie net Ma’s wat moet skryf nie. Pa’s wil en kan (en moet) ook skryf - ek wil beslis my eie pa se storie ook ken. En vir weermagveterane het ek binnekort ʼn boek Memoires van ʼn soldaat, om oud makkers met die skryf van hul weermagstories te help. 

Hoofsaak is om te begin, en dit nie as net nog ʼn taak te sien nie. Sien dit as ʼn reis. Iets wat jy elke nou-en-dan doen.” 

HOE BELANGRIK DINK JY IS DIT OM FAMILIEGESKIEDENIS EN HERINNERINGE VIR TOEKOMSTIGE GESLAGTE TE BEWAAR?

“Iewers het ons verleer om ons stories met ons familie te deel. Dalk is dit omdat ons geneig is om oor ander goed te gesels wanneer ons bymekaar is, of omdat ons mekaar so min sien.

Dalk gaan ons eerder na ʼn opvoering kyk as om oor onsself te praat. Wat ook al die rede, stories raak mettertyd verlore. Soveel so dat kinders ná die heengaan van hul grootouers en ouers oor hulle begin wonder en dan besef dis helaas te laat. So, dit mag dalk intimiderend voel om jou verhaal neer te pen. Maar glo my, dit het groot waarde en sal die moeite werd wees. Elke storie is anders – hierdie boek wil jou en jou kind help om jul besonderse verhaal te skryf.

En dan onthou ons ook so sleg. So selfs wanneer my ouers hul storie vir my vertel, is dit hoogs waarskynlik dat ek dit gaan vergeet, of nie heeltemal reg gaan onthou! Nou kan jy jou ma en pa se stories veilig op een plek hou, om weer en weer na toe terug te gaan. Stel jou ook voor, om ʼn boek met jou oumagrootjie se verhaal te mag hê. Nou kan jy nie net weet wat haar naam was en waar sy gewoon het nie, maar ook dinge soos hoe die samelewing gewerk het toe sy jonk was en hoe sy oor politieke sake gedink het. Sal dit nie jou Geskiedenis handboeke nuwe lewe laat kry nie?” 

IS DAAR ’N SPESIFIEKE MA OF FAMILIE WAT JOU BESONDER DIEP GERAAK HET? WAT HET DAARDIE STORIE BESONDERS GEMAAK?

“Iets wat ek nooit voorsien het nie, is hoe ma’s en seuns en ma’s en dogters wat hierdie projek begin het, my kontak en daarvan getuig dat, alhoewel hul verhoudings broos is, hierdie aksie meer verstaan in hul verhoudings bring. Indien dit dan nie totale genesing teweeg bring nie, het hulle wel meer begrip vir mekaar se stories laat ontwikkel. 

Die terapeutiese waarde van skryf is deurslaggewend. Hierdie is as't ware ʼn twee-snydende-swaard, vir die ma/ pa/ veteraan wat die boek skryf, en dan ook vir die kind en nageslag wat die boek ontvang en mag lees.” 



MEMOIRES VAN JOU MOEDER (ook beskikbaar in Engels as Memoirs from your Mother) is ’n kunstig ontwerpte boek wat dien as ’n gids vir moeders om hul lewensverhale te dokumenteer, en só ’n kosbare herinnering vir hul geliefdes te skep.

Dit is aanlyn en by toonaangewende boekwinkels landswyd beskikbaar, wat verseker dat ’n wye gehoor toegang tot hierdie betekenisvolle boodskap kan kry.

Bestel joune hier:

https://www.memoirebooks.co.za/en/shop-en.html

https://naledi.co.za/?s=memoirs

 

 

 


Comments