5 minue met Francois Boyce

 


Sommige liedjies het die vermoë om diep in die harte van luisteraars nes te skop.

Vir die gewilde sanger, liedjieskrywer en radio-omroeper, Francois Boyce, is Asemrowend deur die gospelsanger Leon Ferreira een van daardie liedjies.

Daarom het hy besluit om, in samewerking met Grammy-benoemde vervaardiger Neville D en die evangelistiese ensemble Die Lekker Crew, ’n baie besonderse en unieke verwerking van hierdie praglied op te neem ten bate van dié gospelsanger wat tans ’n moedige stryd voer teen aggressiewe prostaatkanker.

Hy antwoord vyf vra om ons meer hieroor te vertel.

WAT WAS JOU TEOLOGIESE OF GEESTELIKE INSPIRASIE AGTER DIE LIRIEKE VAN ASEMROWEND, EN HOE REFLEKTEER DIT JOU PERSOONLIKE GELOOFSREIS?

“Daar is nie genoeg asem of woorde om God se grootheid te kan beskryf nie. Daarom die woord Asemrowend. Vir myself... ek moes self leer in van my moeilikste tye... God bly Asemrowend – ten spyte van wat in my lewe, my gevoelens, my idee van God, my wêreld en die wêreld om my aangaan.”

HOE GEBRUIK JY MUSIEK AS ’N VORM VAN BEDIENING, EN WAT HOOP JY GELOWIGES ÉN ONGELOWIGES NEEM WEG UIT HIERDIE LIED?

“Musiek is die een taal wat almal verstaan. Jy hoef nie te glo of te verstaan wat die persoon sing nie, maar jy gaan iets voel. Ek hoop, glo en vertrou, mense gaan iets van God se grootheid beleef. Dat mense weer sal sien en beleef dat daar nog steeds in hierdie deurmekaar wêreld goed is wat Asemrowend is.”

IN TERME VAN KLANKONTWERP EN PRODUKSIE, HOE HET JY VERSEKER DAT ASEMROWEND BEIDE EMOSIONEEL EN SPIRITUEEL DIEPER TREF AS JOU VORIGE WERK?

“Die tipe verwerking doen daardie vir jou. Dit was vir ons baie belangrik om rou en egte emosies in die lied in te sit. Wat jy in die lied gaan hoor is mense wat iets van God beleef en ervaar het. Dan... aan die begin van die musiekvideo en die einde is daar so iets spesiaals wat jou hart net gaan roer!”

HOE BALANSEER JY DIE ESTETIKA VAN MODERNE MUSIEK MET DIE DIEPTE VAN DIE EVANGELIEBOODSKAP IN JOU LIRIEKE?

“Alhoewel ek nie self hierdie lied geskryf het nie... Leon het. Is die tipe woordeskat ’n alledaagse manier van praat. Dit is ’n tipe Afrikaans wat die meeste mense sal praat, wat die lied net nog meer toeganklik maak vir mense.”

DINK JY DAT GOSPELMUSIEK IN SUID-AFRIKA VANDAG STEEDS DIESELFDE IMPAK HET AS VOORHEEN, EN WATTER ROL SPEEL ’N LIED SOOS ASEMROWEND IN DIE GEESTELIKE LANDSKAP VAN ONS TYD?

“Absoluut! Nou meer as ooit. In ’n wêreld vol opinies en kwansuise waarheid, is regte Goddelike waarheid belangrik. Nog meer as dit van ’n plek af kom waar mense die aandag en fokus op God sit en nie hulself. Net deur te sien, te hoor en te lees wat hierdie lied al klaar vir mense beteken het, maak my opgewonde. Die boodskap is nog steeds relevant.”

As jy graag fondse wil bydra om te help met Leon Ferreira se behandeling, kan jy ’n skenking deur BackaBuddy maak hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/support-leon-ferreiras-fight-against-aggressive-c of jy kan ’n elektroniese betaling doen:

Rekeninghouer: Kyla Miche van den Bergh

Rekeningtipe: Current Account

Bank: Discovery Bank

Takkode: 679000

Rekeningnommer: 12774983744

 

Asemrowend is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://orcd.co/asemrowend en kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=-iV51-nmlCw




Comments