5 minute met Jaid River

 


Met Marionet, haar jongste kortspeler, neem Jaid River luisteraars op ’n intieme musiekreis vol teater, simboliek en klankeksperimentasie. Die EP is gelaai met emosie, tematiese diepte en samewerking — en wys ’n kunstenaar wat nie bang is om te groei of vrae te vra nie. Hier gesels sy oor haar proses, perspektiewe en die mense wat saam met haar droom.

DAAR’S ’N DUIDELIKE GEVOEL VAN TEATER EN SIMBOLIEK IN MARIONET. AS JY DIE EP AS ’N TONEELSTUK MOES BESKRYF – WIE IS DIE HOOFKARAKTER, EN WAT IS HUL GROOTSTE KONFLIK?

“Ek dink die karakter is iemand wat smag na vryheid en eenvoud. Die tipe vryheid wat ons as kinders gehad het en êrens langs die pad half onbewustelik verloor het, en die konflik sal wees oor hoe om terug te keer na dit en hulself los te maak van die dinge wat hul bind en weer ’n droom na te jaag.”

JY WERK IN PRENTJIES (8STE STRAAT) MET IEMAND ANDERS SE LIRIEKE VIR DIE EERSTE KEER – HOE WAS DIT OM JOU STEM AAN ’N STORIE TE LEEN WAT JY NIE SELF GESKRYF HET NIE, MAAR STEEDS JOU EIE MOES MAAK?

“Sjoe, ek en Thys Nortje sing hierdie liedjie al so lank saam dit voel al amper asof dit op ’n manier deel van my ook geword het. Vir my is een van die mooiste dinge van musiek en lirieke die feit dat ’n honderd mense almal dieselfde liedjie kan luister en iets anders daaruit vat. Ek dink dis dieselfde tipe idee in die geval. Alhoewel Thys hierdie liedjie vanuit ’n baie spesifieke plek en perspektief geskryf het, moes ek myself ook op ’n manier in die storie en/of gevoel van die liedjie inleef en dit vir myself ook persoonlik maak – al het ek nie die woorde geskryf nie.”

ELKE LIEDJIE HET ’N UNIEKE STYL EN KLINK ANDERS. HET JY SPESIFIEK MET VERSKILLENDE GENRES OF PRODUKSIETEGNIEKE GESPEEL OM DIE “VERSKILLENDE PERSPEKTIEWE” WAT JY NOEM, TE BEKLEMTOON?

“Ek het nog nooit myself gebind aan een spesifieke genre nie. Ek dink my en Jaco Smit (vervaardiger) se hoop was nog altyd om elke liedjie te vervaardig en op te neem in die styl en genre wat die storie, tema of emosie van die lied die beste oordra. Die lied Marionet het byvoorbeeld baie detail wat bydra tot die storie. Hy is as ’n wals geskryf wat die musiek ’n tipe rigiditeit gee, en daar is ook baie fyn kitaarwerk wat bydra tot die gevoel van die marionet wat gebind is aan hierdie toutjies wat beheer en styf trek.”

JY BESKRYF MARIONET AS ’N KEERPUNT IN JOU LOOPBAAN – VOEL JY DAT JY NÁ HIERDIE PROJEK ANDERS SKRYF OF DINK OOR JOU IDENTITEIT AS KUNSTENAAR?

“Ek dink elke projek is ’n nuwe keerpunt in mens se loopbaan. Mens leer so baie met elke projek, want daar gebeur tog altyd goed in mens se lewe wat jou anders laat dink of op ’n ander manier vorm. Ek het gegroei en verander as mens en musikant vandat ek my eerste album vrygestel het in 2023, en ek sal ook streef om weer te groei tot wanneer ek die volgende projek ná Marionet opneem en vrystel. Ek dink met hierdie spesifieke projek het ek ’n baie meer spesifieke tema ingedagte gehad met die skryfproses, wat dit meer uitdagend gemaak het maar ook vreeslik lekker. Natuurlik is dit steeds persoonlik — ek dink dis onmoontlik (vir my) om iets te skryf wat nie op ’n manier persoonlik is op die ou end nie — maar ek het ook vanuit ’n baie wyer perspektief probeer skryf en dis waar die karakters dan weer inkom. Ek hoop almal wat dit luister, kan dit ook weer vir hulself persoonlik maak.”

JY WERK WEER MET JACO SMIT EN BRING OOK NUWE KREATIEWE STEMME IN SOOS THYS NORTJE EN TRUDY-ANNE FREDERICKS. WAT BRING SAMEWERKING VIR JOU NA JOU MUSIEK TOE WAT JY NIE ALLEEN SOU KON BEREIK NIE?

“Dis vir my baie belangrik om saam met verskillende mense te werk met enige album- of EP-projek, en ook verhoogproduksies. Ek glo ons kan altyd by mekaar leer, en almal het ook hul eie sterkpunte wat bydra tot ’n projek – dit is altyd beter as wat dit sou wees om dit alleen te doen. Jaco Smit en Thys Nortje is albei fantastiese musikante en ek leer so baie by hulle in die studio en ook op die verhoog, en hoop om nog baie jare saam met hulle te werk. Dit was die eerste keer wat ek op een van my eie projekte saam met Trudy-Anne Fredericks kon werk. Sy was die choreograaf van die Marionet musiekvideo se danse (danseres Melissa van Rooyen) en dit was so lekker om saam met haar te werk aan die projek. Sy het so baie ondervinding na die tafel gebring.”

WAT HET JY NODIG GEHAD – EMOSIONEEL OF KREATIEF – OM HIERDIE EP TE SKRYF? WAS DAAR ’N BEPAALDE PROSES, RITUEEL, OF SELFSTILTE WAARIN JY MOES WEES OM HIERDIE WÊRELD VAN MARIONET TE LAAT ONTSTAAN?

“Ek dink nie daar is vir my spesifieke prosesse as dit kom by liedjies skryf nie. Ek sukkel om te skryf as ek nie ’n idee, konsep of storie het om oor te skryf nie, maar as dit eers daar is, is die lekker deel vir my om te probeer uitfigure hoe ek dit gaan doen. Dis met elke liedjie anders, en ek is mal daaroor. Ek dink wel met hierdie EP moes ek meer bewus wees – nie net van myself nie, maar ook die mense rondom my.”

Marionet, die nuwe kortspeler deur Jaid River, is van vandag af beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit nou!

 


Comments